Verlede maand
Watch maar net die teiken – en dalk ook jou rug
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag begin ’n nuwe verhaal, “Dromers”. Dis nog ’n lekker een uit die pen van ELDRIDGE JASON. Geniet die eerste hoofstuk!

DIE twee mans in die spogge­rige, pikswart Bentley sit doodstil langs mekaar.

Vir die verbyganger lyk dit dalk of elkeen in sy eie gedagtes vas­gevang is, maar die meer oplettendes sal dadelik sien hulle albei staar stip na ’n man wat nie ver van hulle nie op ’n bankie sit en duiwe voer.

Albei mans is geklee in pikswart designer suits wat spreek van geld.

’n Spierwit hemp wat nie ken van kreukels nie en ’n pikswart das rond die prentjie amper af.

Die afronding is die job van die Dita Mach-Five DRX-sonbrille waarmee albei mans spog en wat beslis nie by ’n Usave op special gekoop is nie.

Pikswart Pak Nommer 1 is aan die ouerige kant. Daarvan getuig die grys langs sy slape en die lagplooie om sy oë.

Eintlik is dit nie fair om dit lagplooie te noem nie, want Pikswart Pak Nommer 1 lag nie baie nie.

Daarvan kan sy kollega, Pikswart Pak Nommer 2, getuig.

Nommer 2 is duidelik die jonger een. Sy skouers is meer relaxed. Van sy koperbruin vel kan ’n mens aflei dat hy baie tyd in die son deurbring.

Sy designer suit span ook nie so styf om sy lyf nie.

Danksy sy gereelde toggies gym toe hoef hy nie soos Nommer 1 permy van boep flu te suffer nie.

Nommer 2 draai ná ’n ruk na sy kollega.

“Hoe lank moet ons nog so hier sit en na hom staar?” vra hy.

Hy kan die tikkie ongeduld in sy stem nie wegsteek nie.

“Ek voel dan nou al soos ’n perv en ek mean maar, daar is net so lank wat ’n mens kan kyk hoe iemand duiwe voer.”

Toe hy geen reaksie van sy kollega kry nie, sak hy terug in sy sitplek. Nie dat hy eintlik ’n reaksie verwag het nie.

Nommer 1 is immers nie bekend vir sy pratery nie. Hy wat Nom­- mer 2 is, het lankal vrede gemaak met die feit dat sy kollega nie die inspirasie agter die woordeboek was nie.

“Ons sal wag totdat die tyd reg is,” antwoord Nommer 1 uit die bloute.

Nommer 2 draai verbaas na hom. “So, jy kan praat?”

“Ha-ha,” kamma-lag Nommer 1. “Ek sê mos nog altyd jy is snaakser as Trevor Noah.”

“Trevor wie?” vra Nommer 2 nuuskierig.

Sy kollega trek sy skouers op. “Lank voor jou tyd. Baat nie ek verduidelik dit vir jou nie. Jy sal nie verstaan nie.”

Nommer 2 frons.

“Jy besef natuurlik jy klink soos ’n telegram, nè?”

Nommer 1 draai vir die eerste keer na sy kollega.

“Telegramme was ook lank voor jou tyd. Hoe weet jy daarvan? Iemand jou gesê?”

“Exactly wat ek bedoel,” sê Nommer 2 en gooi sy hande in die lug.

“Wat bedoel jy?” vra Nommer 1.

Nommer 2 blaas sy asem hard en stadig uit.

“Ag, vergeet dit maar,” antwoord hy gelate. “Jy sal tog nie verstaan nie. Niemand sal verstaan nie.

“Maar wat ek baie graag sal wil weet, is hoe lank ons nog hier moet sit ek kyk hoe duiwe vetgevoer word. En by the way, hoekom duiwe voer? Kan hulle dan nie vir hulleself kos loop soek nie?”

“Jy sal nie verstaan nie. Lank voor jou –”

“Voor my tyd, ek weet,” val Nommer 2 sy kollega ongeduldig in die rede.

“En ek verstaan dat baie dinge verander het en ek nie eens die helfte van die goed ken waarvan jy altyd praat nie.

“Ja, ja, donkiejare gelede was daar dinge soos Google, Facebook en WhatsApp ... I get it.

“En ná die blast ...”

Nommer 2 bly stil en sug.

“Eintlik weet ek nie hoekom ons twee saamwerk nie, you know.

“Ek mean maar, jy is die een wat hulle in die lab weer lewe ingeblaas het en ek ... Ek dink ek is way too cool vir jou.”

Nommer 1 begin proes van die lag.

Daar is ’n mengsel van skok en verbasing op sy kollega se gesig.

“Jy kan lag. Jy kan wraggies lag. Ek glo dit nie.

“Wag totdat ek almal by Basis 9 hiervan vertel. Ek sweer, niemand gaan my glo nie.

“Wie kan dit oorvertel? Jy kan lag!”

Nommer 1 draai hom skuins en kyk Nommer 2 vol in die gesig.

Soos gewoonlik hardloop ’n rilling langs Nommer 2 se ruggraat af toe hy in sy kollega se uitdrukkinglose oë vaskyk.

Die man wys eenvoudig nooit enige gevoelens nie.

Of hy nou kwaad of hêppie is, sy oë lyk altyd dieselfde.

“Ons is hier op ’n missie,” antwoord Nommer 1 in ’n neutrale stem. “Ek stel voor jy lê professionaliteit aan die dag.

“Ons gaan dalk al in die jaar, in die jaar ...”

Hy bly skielik stil.

“Sien jy nou?” vra Nommer 2. “Dis nou wat gebeur as jy in ’n lab wakker skrik en heeltemal die kluts kwyt is oor watter jaar dit is en waar jy jou bevind.

“Hierdie is die Kaap, my broe’.

“Tafelberg bestaan dalk nie meer nie, maar dit is die Kaap hierdie – die plek waarnatoe almal gepos word, maar waar lankal nie meer poskantore bestaan nie.”

Nommer 2 lag kliphard vir sy eie grappie.

Hy stop egter dadelik toe hy opmerk die man op die bankie maak aanstaltes om te loop. Nommer 1 maak sy kardeur oop.

“Moet tog nie vir my sê jy gaan agter hom aanstap nie?” vra Nommer 2.

Weer kyk hy in die uitdrukkinglose oë.

“Nie ek nie – ons,” antwoord Nommer 1.

“Met al die kieme en siektes wat hier in die strate dwaal en soek vir ’n lyf om op te teer?” vra Nommer 2 verontwaardig.

“Nou, sit maar en verbeel jou jy is ’n girl,” kap Nommer 1 styf terug en slaan die grênd kar se deur toe.

Nommer 2 vloek en klim dan haastig uit. Hy gooi sy kardeur met mening toe.

Dan vat hy sy regterduim en druk effe hard op ’n rooi kolletjie op sy linkerduim.

’n Biepgeluid klink op, en dan omhels ’n gelerige waas hom.

“Wat dink jy doen jy?” vra Nommer 1.

“Ek het my anti-inflammatory shield geaktiveer,” antwoord Nommer 2.

“Ek is nie lus vir siektes nie en ek wil beslis nie weer weke lank in kwarantyn lê nie.”

“Jy kan dan maar net sowel kliphard dansmusiek speel en gloeiende disko-balle op jou kop monteer om ons teiken te wys ons agtervolg hom,” grom Nommer 1.

“Wat maak hom anyway so belangrik?” vra Nommer 2. “K*k hy dan ice cream?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters