19 dae gelede
Wat Morgan hoor, is gruwelik, maar als is nie verlore
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag verder aan die verhaal van SALMON SMITH genaamd “Projek Bionies”. Geniet nou hoofstuk 6.

DIE gru-tonele van die uitgebrande liggame van die jong meisiekind en vrou op die skerm hou Morgan Setera se oë vasgenael. Iets aan daardie toneel wil bekend lyk.

Toe die foto’s van hom in ’n gebukkende posisie in die stoel op die skerm verskyn, ontsnap ’n siek­like kreun diep uit sy keel.

Hy kyk vlugtig na prof. De Boa. Toe hy weer sy oë op die skerm vestig, lyk dit of sy geheue met elke nuwe foto van die moordtoneel daar in sy huis ál meer ontsluit raak.

Skielik gebeur iets wat hy nie kan verstaan nie.

’n Helder weerligstraal stuur ’n elektriese skok deur sy liggaam. Hy kyk verbouereerd in die rondte.

Hy besef dat hy nie meer in die vertrek sit nie; ’n digte miswolk omvou hom. Iets is aan die gebeur met hom …

Skielik sien Morgan Setera voor sy geestesoog hoe die gru-tonele daar in sy huis voor hom afspeel.

Hy sien hoe sy vrou, Bianca, op die vloer val toe ’n koeël haar in die agterkop tref. Hy sien hoe sy dogter, Chrystal, herhaalde kere met ’n baseball bat teen die kop geslaan word, totdat haar bloederige liggaam roerloos op die vloer bly lê.

Voor hom doem die groteske gestalte van ’n man op.

Die man begin hom met die bloederige bat slaan. Met elke hou kan hy voel hoe die beendere in sy liggaam breek.

Hy hoor elke kraakgeluid. Die pyn wat deur sy liggaam skiet, is so intens.

Morgan Setera hoor skielik ’n suisgeluid. Dit voel of ’n sterk wind hom uit sy liggaam suig. Hy raak meteens al hoe ligter.

Hy styg in die lug op en sien sy eie liggaam daar op die stoel sit. – kop onderstebo. Hy ervaar nou daardie out-of-body experience.

Hy sien hoe die groot man daar onder weer nader aan sy liggaam kom en sy kop oplig. Paniek pak hom beet toe hy sien hoe ’n vuurwapen teen sy voorkop gedruk word. Hy wil gil, maar daar is geen lug in sy longe nie.

Wat hierna volg, is moeilik om te beskryf …

Al is Morgan Setera nie in sy liggaam nie, kan hy letterlik voel hoe iets deur die voorkant van sy skedel dring, regdeur sy brein ploeg en agter deur sy skedel plof.

Weer daardie intense pyn. Dit voel nou of sy liggaam hom weer insuig. Hy voel nie meer so lig nie.

Hy is nou weer binne-in sy liggaam. Maar nou ervaar hy geen pyn meer nie.

En daar is hierdie stikdonkerte rondom hom.

Hy probeer beweeg en sy ooglede oop dwing, maar dit lyk of sy brein geen boodskappe na sy spiere kan oordra nie.

Toe raak dit stil om hom en toe voel dit of hy in ’n diep, bodemlose put val. Hy verloor sy bewussyn.

MET ’n kreet ruk Morgan Setera regop. Groot sweetdruppels pêrel van sy voorkop af en trane stroom oor sy wange.

Sy kop ruk op na waar prof. Johannes de Boa hom in absolute stilte aanstaar.

“Ek het sopas alles ervaar wat daar in my huis gebeur het!” kry Setera dit histeries uit.

“Ek het ’n gesin gehad, ’n vrou en ’n dogter!

“Ek het gesien hoe hulle vermoor word. Ek het gesien hoe ék vermoor word!”

Hy vee vinnig met sy hand oor sy nat gesig en kyk die professor grootoog aan. “Hoekom lewe ek dan? Wie is ek werklik?!”

De Boa wys weer na die skerm. Verskeie foto’s van koerantuitknipsels verskyn daarop.

“Jy was blykbaar ’n polisiebeampte, maar jy het ’n jaar en half gelede uit die diens getree,” verduidelik De Boa. “Volgens verskeie koerantberigte was jy die teiken van ’n moontlike wraakaanval deur die een of ander misdaadsindikaat.

“Jy het blykbaar op verskeie tone getrap.

“Jy was, terwyl jy in diens van die polisie was, betrokke by die Highflyers Unit, wat verskeie dwelmhandelaars en sindikate vasgetrek het.”

Setera maak sy oë toe en probeer iets onthou uit sy vorige lewe as ’n polisiebeampte.

Maar dit lyk of sy onderbewussyn weer toegeslaan het.

“Die volgende koerantberigte gaan oor jou verdwyning … eintlik oor jou liggaam se verdwyning,” gaan De Boa voort. Hy beduie weer na die skerm.

Weer verskyn foto’s van koerantberigte daarop.

“Daar was baie bespiegelings oor wat eintlik met jou liggaam gebeur het,” gaan De Boa voort.

“Van die speurders beweer dat ’n sangoma dalk jou liggaam vir moetie gesteel het.

“In die laaste berig – so, twee weke gelede – het die polisie tou opgegooi met die soektog na jou liggaam. Hulle het die saak gesluit omdat hulle redeneer dat jy buitendien tog klaar dood is.

“Ek dink hulle reken jou liggaam lê nou in stukkies moetie iewers in ’n toordokter se spens.”

Setera draai van die skerm af weg en kyk met yskoue oë na prof. De Boa. “So, ek neem aan jý het my liggaam uit die lykshuis gesteel.

“En vir die hoeveelste keer … Wie is jy nou eintlik en wat het jy met my aangevang?!”

De Boa sien dat Setera nou weer besig is om hom op te werk.

Hy steek sy hande in die lug. “Relax, Morgan Setera!”

Hy beduie weer na die skerm. Weer verskyn De Boa in sy spierwit jas op die skerm.

“Soos ek genoem het, ek is ’n wetenskaplike in die fisika.

“Ek het vyf jaar gelede gekom met die idee om ’n supermens te bou. Ek wou iemand met superkragte skep, iemand wat ver bo die wette van die natuur kan handel.

“Dit betref, spoed, fisieke krag, gehoor en visuele vermoë.

“Toe ek my idee aan die Wêreldraad van Wetenskaplikes voorlê, toe word ek uit die professie geskop en mal verklaar.

“Ek het hierdie laboratorium opgebou en gefokus op my doelwit, genaamd Projek Bionies. En vandag is jý die sukses daarvan.”

De Boa neem toe Setera deur die hele proses – van hoe hy hom fisiek uit die dood gehaal en hom stuk-stuk opgebou het tot ’n bioniese mens met die special abilities.

Toe De Boa klaar is, sit Setera vasgenael voor hom en uitstaar. Baie dinge gaan nou deur sy kop. Hy weet dat hy nooit weer ’n normale lewe sal kan lei nie.

Hy wroeg ook met die gedagte of hy dankbaar moet wees vir De Boa, dat hy weer sy lewe vir hom teruggegee het. Of moet hy kwaad wees oor hy hom nou in ’n masjien verander het?

Stadig vou hy weer sy hande oop en toe en lig sy arms.

Hy kan weereens die krag voel en dit kom nie van sy spiere nie; dit kom van sy bioniese prosteses.

Hy beskou en bevoel nou vir die eerste keer sy hele liggaam van kop tot tone.

Hy kan letterlik die vibranium in sy liggaam voel.

En die sintetiese vel voel so normaal.

Hy swaai sy kop en kyk De Boa vraend aan.

“M-maar … Hoekom?” vra hy.

“Setera, jy is nou ’n mens met superkragte ver bo dié van normale mense,” sê De Boa. “Met daardie kragte kan jy enige iets vermag, selfs wraak neem vir die moord op jou gesin.”

  • Toe hy dié woorde hoor, spring Morgan Setera regop. Sy oë lyk of dit vuur spoeg. Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters