Verlede maand
Waar is die man wat die wilde dier in haar uitbring?
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders!

Vandag begin die splinternuwe vervolg­verhaal “Die Bedrieër”. Dit kom uit die pen van CHRISTO MEYER. Geniet nou die eerste hoofstuk!

TOE die vrou in die oggendure uit ’n diep slaap wakker word, steek sy haar hand uit om te raak aan die man met wie sy ’n bed deel.

Sy het nie gisteraand sy arms om haar naakte lyf gevoel nie en sy smag daarna om betas en geliefkoos te word.

Die man se talente het geen gelyke nie. Hy is anders as ál haar vorige bedmaats. Hy beskik oor die vermoë om haar weg te voer na ’n plek waar net hy en sy bestaan en waar die wilde dier in haar na vore tree.

Tot haar verbasing is daar geen teken van hom langs haar nie.

Sy vind dit vreemd omdat sy hom as ’n laatslaper leer ken het.

Onmiddellik gaan gevaarligte in haar brein aan.

Sy is gewoonlik die een wat eerste opstaan en hom met koffie en ontbyt in die bed bederf, maar vanoggend is daar iets wat net nie reg voel nie.

Die vrou wil nie onnodig spoke opjaag nie, maar deur die jare het haar intuïsie haar nog selde in die steek gelaat.

Sy kan nie help om agterdogtig te wees nie. Die lewe het haar hard gemaak. Sy’t geleer om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie.

Sy het te veel letsels uit die verlede om ’n man toe te laat om sommerso oor haar te loop.

Sy het haarself belowe sy sal dit nooit weer toelaat nie.

Juis om daardie rede het sy nog nooit halsoorkop in ’n liefdes­verhouding ingestap nie.

Nog elke keer het sy die kat goed uit die boom gekyk voordat sy ’n besluit geneem het.

Sy laat haar gedagtes loop, maar sy onthou nie hoe laat hy gisteraand kom slaap het nie.

Het hy ooit kom slaap? Het hy hom nie dalk in die nag uit die voete gemaak nie?

Nee, sy moenie toelaat dat die duiwel so vroeg in die oggend allerhande verkeerde goed in haar oor fluister nie. Sy moet positief bly. Sy het geen rede om hom te wantrou nie.

Hy is anders as ander mans, het hy haar keer op keer verseker.

Hy lig nie sy hande vir ’n vrou nie en behandel haar altyd met die grootste respek. Hy en sy maak eintlik ’n goeie span.

Miskien het hy net vroeg opgestaan om ’n ent te gaan draf, probeer sy haarself gerusstel.

Hy het juis gesê hy wil hierdie jaar gesonder lewe. En hy het haar oor en oor belowe hy sal nooit sy rug op haar draai nie.

Sy onthou hulle het ná aandete saam voor die televisie gaan sit.

Daar was die een of ander lewensdrama waarna hy graag wou kyk. Hy het wyn uitgehaal en sy die glase, en hy het vir hulle geskink. Hulle het gesels, grappe gemaak, gelag.

Dis een van sy karaktereienskappe: Hy laat haar goed voel en neem haar gedagtes weg van alles wat sleg is.

Waarom hy gesê het hy wil juis na daardie spesifieke lewensdrama kyk, is sy nie seker nie. Sy aandag was nooit werklik by die program nie.

Ná ’n ruk het sy vaak begin voel en hom gevra om haar te verskoon. “My kop begin draai. Ek gaan solank inkruip.”

Hy het haar liggies gesoen, oor haar arm gevryf en gevra: “Is jy seker jy wil nie nog wyn hê nie? Kom ons maak die bottel leeg.”

Sy het haar kop geskud. “Ek dink ek het genoeg gehad.”

“Nou maar goed, gaan lê solank die bed warm,” was sy reaksie. “Ek is oor ’n paar minute by jou.”

Sy was in droomland die oomblik toe haar kop die kussing tref. Dis iets wat nie sommer gebeur nie. Het hy dalk haar wyn gedokter? Sy raak nooit so vinnig dronk nie. En sy het nie eens baie gedrink nie. Seker net drie of vier glase.

Of het hy dalk iets in haar kos gegooi? Is dit waarom hy gistermiddag so gretig was om te kook?

Sy het hom nie dopgehou terwyl hy voor die potte gestaan of toe hy die tafel gedek het nie.

Sy kan die gevoel dat iets verkeerd is net nie afskud nie.

Sy spring op en kyk in die lang gang af. Die lig in die badkamer brand nie. Dit ontstel haar en die agterdog raak groter. Sy het gehoop hy is dalk daar.

Die vrou kry hond se gedagte. Voordat sy in die kaste gaan kyk of sy klere nog daar is, is daar iets belangrikers wat sy moet doen. Dit sal haar die antwoorde gee waarna sy soek.

Sy swaai om en gaan staan voor die kluis in die slaap­kamer. Sy tik die geheime kode in. Die kode wat sy haarself beloof het sy nooit met iemand anders sal deel nie.

Sy het ook nie ... Totdat hierdie man in haar lewe verskyn het. Hy het haar hele denkwyse verander, haar voete onder haar uitgeslaan en haar weer in die liefde laat glo.

Sy het haar hart teenoor hom oopgemaak, met hom oor haar donker verlede gepraat, hom in haar vertroue geneem.

Hy het geduldig geluister, sy arm vertroostend om haar skouer gesit en haar verseker die pad vorentoe sal makliker wees.

“Vergeet alles wat agter jou lê. Ek is hier om die pad vorentoe saam met jou te stap.”

Aan die begin was dit veral moeilik om oor haar stiefpa te praat.

Haar stiefpa wat haar as kind gemolesteer het.

Maar hierdie man het dinge makliker gemaak. As kind kon sy dit nooit oor haar hart kry om haar ma hiervan te vertel nie, want haar stiefpa het gedreig om haar dood te maak.

Die vrou wag ’n paar sekondes. Die kluis se deur swaai stadig oop.

Dan snak sy na haar asem. Haar hart ruk. Angstig begin sy sweet.

Die kluis is leeg. Alles wat gister nog daarin was, is weg. Al die geld, juwele, dwelms. Haar vuurwapen ook. Sy vloek en slaan hard met haar vuis teen die muur.

’n Stewige dop whiskey. Dít is wat sy nou nodig het.

So opgewerk soos sy nou is, sal sy sowaar ’n krokodil kaalhand vermorsel. En dan sal sy nog kans sien vir ’n olifant ook.

As sy haarself ’n skop onder die agterent kon gegee het, sou sy dit nou met die grootste vrymoedigheid gedoen het.

Eintlik verdien sy meer as net ’n skop. Sy voel soos die grootste gek onder die son. Nee, erger.

Gewoonlik kan sy gevaar op ’n afstand ruik, maar hierdie keer het sy haar lelik misgis. Sy het die grootste oordeelsfout van haar lewe begaan.

Nog in haar nagklere loop sy tot voor die drankkabinet en haal ’n bottel Jameson uit. Net die beste is goed genoeg vir haar. Sy mors nie haar geld op goedkoop drank nie. Sy draai die prop af, skink. Sy maak dit sommer ’n dubbel sonder ys of sodawater.

Sy gaan sit by ’n tafel en neem ’n groot sluk van die whiskey. Dan staar sy voor haar uit.

Woede stoot in haar op. As hy dink sy gaan hom net so los, maak hy ’n groot fout. Sy sal hom soek totdat sy hom opspoor.

En dan gaan hy dieselfde paadjie as haar stiefpa loop. Sy laat nie met haar mors nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters