Verlede maand
Waanie se blink idee werk toe soos ’n bom
 ~ 

HAAI, Sonlanders! So nou weet ons dat Waanie agter Denzil se kroon aan is. R3 000 om presies te wees. Maar om hierdie geld uit Denzil te con, makeer hy ’n girlfriend om sy storie meer believable te maak. En wie anders as hul straat se resident-tikkop Cynthia om hom uit te help. Maar sal sy saamspeel? Geniet hoofstuk 7 van ELDRIDGE JASON se verhaal 21 Dae”.

’N LAITIE in die pad het eenkeer ’n song oor Cynthia geskryf:

O, Cynthia,

allie mense praat van jou,

en allie sins van jou

wat nie eens sin maak nie ...

Waanie onthou nou die song terwyl hy Cynthia op en af betrag.

Trust is ’n groot issue tussen skelms. Dis baie moeilik vir een skelm om ’n ander skelm te vertrou, maar hy besef dat hy nie ’n ander keuse het nie.

Hy soek Denzil se R3 000 met ’n seer hart. Sy drug-rekening by die Pang is so R2 000 en dan is daar ’n R1 000 oor om homself mee te spoil en maybe roll-on ook te koop. Hy kry al so ’n klankie onder sy arms.

“Watte k*k is jy weer mee biesag, Waanie?” vra Cynthia nuuskierig.

Sy frommel haar neus sodat die scar op haar neus uitstaan.

Dis die einste scar wat sy gekry het toe antie Doris haar in die bed met oom Ben betrap het en haar toe met die pan deur die gesig geslaan het.

Pandemonium het daai dag losgebreek toe Cynthia vir ’n vale kaalstert uit antie Doris-hulle se huis moes nael.

Oom Ben het hoog en laag gesweer dat hy gelê en slaap het en toe hy wakker skrik, lê Cynthia in haar geboortepakkie langs hom en speel met sy ballas.

Antie Doris het sy storie geglo, maar almal in die pad het geweet die oom praat stront, want Cynthia was daarvoor berug dat sy al wat kat is se ballas in die donker geknyp het – teen ’n prys, natuurlik. “ ’n Tollie vir ’n lollie” was after all haar favourite sê-ding.

Waanie het oop kaarte met haar gespeel, behalwe om natuurlik te sê hoeveel geld op die spel was.

Vir haar samewerking het hy haar R100 beloof. Toe hy die bedrag noem, het hy gesien hoe haar oë ophelder, hoe Cynthia klaar besef waar haar volgende tik straw se ware vandaan gaan kom.

“So, ek moet net pretend om jou girlfriend te wees en dan gee jy my R100.

“So maklik soos daai?” het sy weer gevra, nog nie heeltemal oortuig dat ’n R100 so maklik in haar skoot kan val sonder dat sy haar panty-rek pap hoef te maak nie.

“Ja, so maklik soos daai,” het Waanie haar gerusgestel. “Niks minder en niks meer nie.”

Cynthia het ’n vinger onder haar doekie gedruk en haar kop gekrap. Delaying-taktiek was baie belangrik vir haar, want daardeur kon sy bepaal hoe desperaat iemand is.

Waanie het egter daar heel gerus gestaan. Hy was immers die master van delaying tactics.

Dokters het destyds met sy geboorte sy ma se kraamproses delay omdat daar nie genoeg beddens in Lavis se daghospitaal se maternity ward was nie. So, niemand kon hom iets vertel van vertragings nie.

En so moes Cynthia maar tou opgooi met haar plan om ’n ekstra R50 uit hom te score.

“Nou goed, boyfriend, ek is in,” het sy ná ’n ruk gesê.

“Onthou net ons het ’n baby saam, nè,” het Waanie haar remind.

Cynthia het haar asem skerp ingetrek. “Solank jy net nie ideas kry nie,” het sy skril gesê. “Ek het my waardes, you know.

“Ek is glad nie so cheap soos wat mense lieg nie. Mense likes mos skinne, you know.

“Soos daai keer met oom Ben. Ek het net daai lubrication wat binne die condoms is, uitgehaal en aan sy rug gesmeer vir die rumatiek, you know.

“Daai fluid help mos baie met rumatiek, you know.”

Waanie het swaar gesug en besluit om nie te antwoord nie.

Soms moes ’n skelm ook maar net sy bek hou, you know.

En so het die instant couple toe afgestap na Denzil se huis toe.

Elkeen vol hoop en planne oor wat hulle met hul geld gaan maak.

DENZIL het amper op sy rug geval toe hy Waanie en Cynthia by sy hekkie gewaar.

Haastig het hy opgespring om hulle sommer al by die ingang voor te keer.

So lekker nat soos hy was, het sy mind oortyd gewerk en kon hy nie uitfigure of Waanie hom dan nou wou afpers nie.

Sien, laas jaar met die span se breaking up, het hy lekker swaaiboude huis toe gestap en Cynthia raakgeloop. Nog met sy bonus-pakkie in die sak, het hy Cynthia ge-invite vir ’n dop by ’n smokkie.

Hy onthou hulle het ’n ompad huis toe gestap. Maar hy onthou net die ompad en weinig ander detail.

So, toe hy Waanie en Cynthia by sy hekkie sien staan, kon hy nie anders as om te wonder of hulle daar was om hom af te pers nie.

Toe sy Denzil op hulle sien afgestorm kom, het Cynthia op haar beurt ook van daai aand onthou.

Sy het onthou hoe dik die package was. Die pay-pakkie in sy sak, natuurlik.

En Cynthia het gevries in haar spore en gewonder of Denzil finally onthou het van die hele paar geldnote wat sy ongesiens uit sy pay-pakkie gevat het.

“Is julle djas? Wat maak julle hier?” skel Denzil van ver af.

Voor die verbaasde Waanie kan antwoord, haak Denzil se voet in ’n stuk uitstaan-paving wat Naomi hom lankal soebat om reg te maak, en hy ploeter gesig eerste straight op Moeder Aarde af.

Waanie wil nog keer, maar nes dit te laat vir hom is om sy lewe te change, so was te ook dit laat vir hom om te keer dat Denzil grond proe.

En daar ploeter Danny-boy teen die paving vas. Maar nog voordat iemand “dronkgat” kan sê, is hy weer op sy slinger-voete.

“Jirre, Danny-boy, is jy oukei?” vra Waanie bekommerd.

“Moenie kom maak asof jy f*kk*n Moeder Teresa is nie,” antwoord Denzil kwaad. Hy voel hoe iets warm teen sy lip afloop, maar dit is nou die minste van sy worries.

“Wat maak hierie meid hier?” vra hy en knik in Cynthia se rigting.

“Meid? Meid?” vra Cynthia in haar signature skril stemmetjie.

Dan draai sy na Waanie. “Laat jy toe dat hierdie jong so met jou kind se ma praat?”

Waanie trippel ongemaklik rond. ’n Lig gaan finally by Denzil op. Cynthia is Waanie se motjie, dink hy verlig. Sy is glad nie hier om te piemp oor ’n aand waarvan hy lankal nie meer veel kan onthou nie.

“Jou motjie, hoekom sê jy nie lankal so nie?” sê Denzil verlig. “Ek gaan kry gou die geld.”

En terwyl Denzil swaaiboude huiswaarts strompel, draai Waanie tevrede na Cynthia. “Sien, so easy soos one, two, sewe ...”

En toe smile Cynthia dat haar passion gap halfpad deur die Milky Way sigbaar is.

Sy is innie World Cup, dink sy tevrede ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters