16 dae gelede
Vetkop se manne het vir hom ’n groot surprise
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Nemesis en Rudy word omring deur die gangster-dikding Vetkop en sy manskappe, wat reeds die kindermoordenaar Rowan Jooste en sy antie Wayda van kant gemaak het. Vetkop sweer hoog en laag Nemesis se einde het aangebreek. Maar hoekom is Nemesis dan so komkommerkoel oor die netelige situasie waarin hy hom bevind? Geniet nou die slothoofstuk van “Nemesis” uit die pen van ELDRIDGE JASON.

DAAR is ’n vasberade trek in Nemesis se oë.

“Vetkop, dis mense soos jy wat die lewe swaar maak.

“Ek was dom en naïef toe ek my hande vuilgemaak het om jou verraderlike werk te doen.

“Deur dít het ek my hele gesin verloor. My vrou en kind is dood in ’n karongeluk en omdat ek in die tronk was, kon ek nie eens hulle begrafnis bywoon nie.

“Die teleurstelling in my vrou se oë toe ek die dag gevonnis is, haunt my nou nog in my slaap. Dit maak soms dat ek nie snags slaap nie en is die rede waarom ek op ’n gewetenlose gespuis soos jy jag maak.

“Die wete dat ek elke keer gemeenskappe veiliger kan maak deur van gemorste soos jy ontslae te raak, is die suiker in my koffie.

“Jy is reg: Alles eindig vannag hier. Jou reign of terror kom tot ’n einde.

“Aan jou manskappe wil ek net sê dis nog nie te laat om van julle weë weg te keer nie. Gooi jou wapen neer en stap weg. Dink aan julle families, julle kinders ... Watter toekoms is daar vir hulle as julle hande so vol bloed is?”

Daar is ’n oomblik van stilte. Dan begin Vetkop kliphard hande klap.

“Bravo, bravo!” sê hy sarkasties. “Jy is eintlik ’n f*kk*n goeie actor. Net jammer jy gaan ’n vrek actor wees, but maybe sal jy dan die rol van ’n dooie wannabe hero in jou eie low-budget movie kan speel.

“Jy vergeet een ding: die politics van die stomach.

“Hierdie ouens werk vir my. Vir mý.”

Vetkop beklemtoon die laaste woord so dat die spoeg in alle rigtings spat.

Nemesis hou sy hand beskermend omhoog.

“Eeuw, dude. Jy sal jou mind moet opmaak. Wil jy my met ’n bullet doodmaak, of met die corona-virus?”

Vetkop grinnik. “Wat worry djy?

“Jy is anyway dan ’n dead manwalking.

“Anyway, my manskappe het almal criminal records. Hulle kan nêrens werk kry nie.

“Mense kyk net een keer na hulle tjappies en het dan verskonings oor hoekom hulle nie daar kan werk nie.

“Dink jy regtig daai moving speech van jou gaan hulle change?

“Moet hulle hul kids se stomachs met ’n speech vul?

“Skrik wakker en smell die koffie.”

Vetkop klik sy tong en draai om na sy manskappe.

“Of hoe sê ek, ouens?

“Ons almal staan mos nog sterkbiene met ’n salute, nuh?”

Geen reaksie. Die glimlag op Vetkop se mond begin stram trek.

“Is julle almal f*kk*n doef of wat?

“Ons almal staan mos nog sterkbiene, of wat praat ek?” vra hy in ’n bulderende stem.

Dit is egter so stil dat ’n mens ’n speld kan hoor val. Iewers van agter klink ’n ou roker-hoesie op. ’n Kort mannetjie beur deur die ander na vore.

Hy kan maklik familie wees van Humpty Dumpty met sy eier-lyfie, dink Nemesis.

“Bossy,” sê die man in ’n rasperstemmetjie. “Ek wil net sê ons stem nie saam nie. Ek en die ouense praat lankal hieroor.

“Ja, die money is goed. Daaroor kan ’n man nie kla nie. But as ek die damages in ons community sien ... ek mean maar, ek moet dan self vir ADT betaal om seker te maak die tikkoppe briek nie by my joint in nie.

“But dan was ék die een wat die tikkoppe van tjoef supply het.

“So, aan die einde van die dag wen ons mos nie met hierdie situa­tion nie.

“Laas wiek moet ek realise dat my jongste laitie, die bright een wat ek university toe wou stuur, tik en dagga rook.”

“Nou stuur hom blerriewil rehab toe, Rufus. Ek sal daarvoor betaal,” bulder Vetkop.

Nemesis merk op dat die sweetkorrels op Vetkop se voorkop al hoe groter raak.

“Bloedgeld maak nie alles reg nie,” antwoord Rufus en sit sy vuurwapen op die tafel neer.

“Niemand raak oud in ons bedryf nie. Wat baat al die bling en blood money as ek môre, oormôre in ’n drive-by shooting suf geskiet word?

“Wie gaan dan vir my family provide? Moet my laities dan jou gang kom join om die pot vir hulle ma aan die roer te hou?

“Ek is jammer, ek kan ’n gangster ge-is het, maar ek is nie ’n dom gangster nie. ’n Mens is nooit te sleg om goed te word nie – daai het my ma my altyd geleer. Ek onthou nou daai woorde en gaan daaraan vashou, come what may.”

Sonder enige verdere woorde draai hy om, beur deur sy mede-gangsters en stap uit.

Een vir een, tot groot skok en ongeloof van Vetkop, stap sy manskappe na vore en plaas hulle vuurwapens op die tafel.

“Djy oek, Doodskis?” vra Vetkop aan een wie se hele gesig getatoeëer is. “Waar gaan djy met daai gevriet werk kry?”

“Daai is my worries,” antwoord Doodskis. “But solank ek weer my oë kan toemaak sonder om die gesigte te sien van almal wat ek al seergemaak het, is ek willing om my lewe te change.”

Dis later net Vetkop, Nemesis en Rudy in die vertrek.

’n Verligte Rudy hoor sirenes in die verte loei. Goddank, hy was nog nooit so bly om te weet daar is gattas op pad nie.

“Dis nie die einde nie,” sis Vetkop. “Ek gaan –”

“Jy gaan nêrens nie,” val Nemesis hom in die rede. Hy vat een van die vuurwapens van die tafel af en vuur twee, drie skote af.

Daar is ’n mengsel van skok en verbasing op Vetkop se gesig. Hy vat aan sy bors en staar dan in ongeloof na sy bebloede hand.

“Al jou please call me’s in die lewe is op,” sê Nemesis kil. “Vrek, hond, vrek.”

Vetkop wil iets sê, wil vorentoe strompel. Maar dan collapse hy soos een moerse sak aartappels.

Die polisiesirenes klink nou al hoe harder.

“Ons moet move,” sê Nemesis aan Rudy. Rudy voel die lewe na sy bene terugvloei en haas hom agter Nemesis aan by die huis uit. Hy is skaars in die kar toe Nemesis wegtrek. Net betyds, want die eerste vrag polisievêns kom om die draai gery.

Rudy draai in sy seat om na agter en sien hoe die voertuie voor antie Wayda se deur stop en cops die huis binne hardloop. Hy draai na Nemesis. “Wat nou?” vra hy uitasem.

Nemesis draai vlugtig na hom.

“Nou gaan maak jy al die k*k in jou lewe reg.

“Of jy kry met my te doen.”

  • Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters