11 dae gelede
Vetkop maak dit duidelik Rowan het nie ’n keuse
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Rowan Jooste is ’n stuk etter. Min mense sal hieroor stry. Rowan steek hom in Kleinvlei weg nadat hy ’n arme onskuldige meisietjie vermoor het. Hy dink hy is home and dry – vir solank soos wat die slagoffertjie se pa, Rudy, net zip kap. Dis diep in die nag dat Rowan sluip na sy antie se huis, maar dan jaag ’n kar op hom af. David “Vetkop” Brown, is die leier van ’n gevaarlike bende. Vetkop weet van Rowan se vieslike daad, maar wil die voortvlugtige inspan om Nemesis by te kom. Maar hoekom? Wat het die gangster-dik- ding teen Nemesis? Geniet nou hoofstuk 7 van “Nemesis” uit die pen van ELDRIDGE JASON.

ROWAN spoeg ’n straal bloed op die grond.Hy beur swaar orent. Dit voel asof hy onder ’n trein beland het die way sy hele lyf pyn.

Tydsaam stof hy sy broek af, maar dan klap een van Vetkop se ouens hom hard teen die kop.

“Moenie djou vullis hier by die bossy kom afskud nie,” blaf die massiewe ou.

Rowan hou maar sy mond. Hy het anyway lankal gesien die ou het boomstompe vir arms.

Vetkop haal sy spierwit panama-hoed van sy kop af en hou dit voor sy bors.

“Ek gaan nie alles vir jou verduidelik nie, want jy hoef nie soveel te weet nie.

“Hierdie Nemesis krap nou al jare my gat. Ek het al baie business verloor weens hom en toe ek hoor dat hy op soek na jou is –”

“Waar hoor jy dit?” val Rowan die dikding in die rede. ’n Hou klap teen sy kop.

“Moenie ... moenie in my bek mors nie!” sis Vetkop. “Ek entertain baie goed in die lewe, maar kry ’n k*k as iemand praat terwyl ek besig is om te praat. Verstaan jy?”

Rowan knik verleë. Hy voel soos ’n stout seuntjie wat oor die vingers geraps is.

“Waar was ek nou weer?” vra Vetkop. “Oe ja, my info is reliable, daai is al wat jy hoef te weet.

“Hy kom vir jou. Julle visit is al klaar vasgemaak, maar jy weet dit nog net nie.

“Ek gaan ouens laat oppas sodat ek sommer met hom kan afreken. Soos jy weet, het jy natuurlik nie ’n choice nie.

“Hierdie is die plan. Listen carefully ...”

En toe wieg Vetkop sy kop ’n paar keer heen en weer.

Hierdie prentjie lyk darem veels te bekend vir hom, asof dit iewers in ’n parlement geskiet is ...

RUDY staar Nemesis oopmond aan.

“En nou gaan jy seker sorry vir my voel, nè?

“Laat ek jou sommer nou waarsku: Ek het nie jou f*kk*n pity nodig nie. Wraak ... dit hou my aan die lewe. Dis al wat ek nodig het.”

“Maar wraak kan jou verteer,” antwoord Rudy. “Ek het eenkeer in Dr. Phil gesien dat –”

Nemesis bars uit van die lag. “Moenie by my kom met jou Dr. Phil-gedagtes nie. Hy, Felicia Mabuza-Suttle ... ’selle vervelige Whats­App-groep.

“Baie dankie vir jou concern, thank you very much, maar ek het nog geen probleme oor die jare gehad nie.”

“Behalwe slaap. Jy is bang vir slaap,” kap Rudy terug.

Nemesis se oë vernou. “En hoe weet jy dit?

“Was jy by die university van buttons roek en is nou ’n kenner in slaap tendencies?”

Rudy skud sy kop. “Dis diep in die nag en hier sit ons nog steeds. In hierdie tyd het jy nog nie een keer gegaap nie.

“Voordat Rachel my uitgesmyt het, kon ek darem ’n bietjie slaap inkry, maar jy ... jy lyk soos ’n ou wat weke laas geslaap het.

“En jy kan maar sê wat jy wil, maar iets jaag jou. Iets is besig om jou die mure uit te jaag.

“Dis amper so asof jy besig is om tokkies te vang, maar die tokkies gaan jou nog inhardloop en vang.”

“Haai, nee, ek kan sien jy herrit,” antwoord Nemesis sarkasties.

“Ek kan sien al die ure wat jy voor die TV gewaste het om Dr. Phil te kyk, was die moeite werd.

“Jy kan maar nou jou graad by Clicks gaan afhaal.”

Nemesis bars uit van die lag.

“Lag jy maar,” antwoord Rudy. Hy lyk soos ’n brak wie se tjank afgetrap is.

“Lag jy maar. Maar ons weet mos wie die laaste lag –”

“Het nou eers die joke gevang,” val Nemesis hom in die rede. Hy vat sy selfoon toe ’n message tone afgaan. Sy gesig helder op.

“Dit lyk asof ek verlos is van jou middernagtelike gepreek,” sê hy.

“Een van my contacts het my nou laat weet dat daai Rowan-bra van jou in Kleinvlei is. By sy antie Ruwayda, nogal.

“Ek het gedog daai antie het lankal haar dinge laat staan.”

“Antie Ruwayda Koeries, die ou antie in die rystoel?” vra Rudy verbaas.

Toe Nemesis hom vraend aankyk, gaan hy voort: “Rowan het eenkeer sy antie na ons huis gebring. Sy is ’n darling.

“Kan nie meer loop nie, maar is nog vol jokes.”

“Val jy maar vir daai joke,” antwoord Nemesis stram.

“Ruwayda Koeries is ’n meid sonder ’n gewete. So oud soos sy is, was dit nie ouderdom of siekte wat haar in daai rolstoel laat beland het nie.

“As jy drugs wil smokkel in David ‘Vetkop’ Brown se territory en jy het nie sy blessing nie, is daar ’n koeël met jou naam op.

“In Ruwayda se geval sit daai koeël vandag nog in haar rug.”

Rudy trek sy asem skerp in.

“Moenie kom maak asof jy die crime virgin van die Cape Flats is nie,” sê Nemesis geïrriteerd.

Hy gryp sy karsleutel en selfoon en staan op. “As jy domonnosel wil wees en val vir die ‘Suster Wayda’-rol waarmee sy mense al jare flous, then be my guest. As jy nie dom is nie, moet jy k*k – jy ken seker daai een?”

Rudy sug. “Veels te goed. Jy sal nie verstaan nie.”

“Hoekom sit jy nog?” vra Nemesis ongeduldig.

“Moet ek jou kar toe dra?”

“Wat?” vra Rudy uit die veld geslaan. “Moet ek saamgaan? Jy het mos nie meer my hulp nodig nie.

“Jy weet dan nou waar Rowan is. Ek sal sommer buite wag totdat dit lig is en dan ’n taxi huis toe vat.”

“In your dreams,” blaf Nemesis. “Jy sal jou wat verbeel. Jou job is nog lank nie verby nie.

“Ek het nog ’n spesiale takie vir jou.”

“O ja?” vra Rudy nuuskierig. “En wat kan dit wees?”

“Jy sal binnekort weet. Kom,” antwoord Nemesis kortaf.

Hy maak sy lessenaarlaai oop en haal ’n vuurwapen uit. Rudy se oë rek.

“Gaan ons nie net om hallo te sê nie?” vra hy verskrik. “Hoekom bel ons nie net die gattas en sê hulle waar Rowan is nie?”

Nemesis hou die vuurwapen omhoog. “Hierdie is nie net vir Rowan nie,” antwoord hy.

“Waar etters soos Rowan uithang, is daar gewoonlik ander, gevaarliker hiënas.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters