9 dae gelede
Vetkop eis sy pond vleis, maar het hy wel die oorhand?
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Nemesis en Rudy gaan na die huis waar die kindermoordenaar Rowan Jooste skuil. Dit is egter ’n lokval. Nemesis kry skaars vir Rowan onder oë toe die gangster-dikding Vetkop en sy manskappe toeslaan. Is hierdie vigilante crimefighter se doppie geklap? Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van “Nemesis” uit die pen van ELDRIDGE JASON.

’N HELE vrag gewapende ouens storm antie Ruwayda se sitkamertjie binne.

Sonder ’n woord rig iedereen die loop van sy vuurwapen op Nemesis.

’n Lig word aangeskakel en dan beur iemand deur die groep mans. Vetkop.

’n Selfvoldane Vetkop, wat sy dik pofferhande ingenome teen mekaar vryf.

“And here we finally meet,” sê Vetkop en smile van oor tot oor. “Die elusive Nemesis.

“Die man wat ek al jare lank met ’n seer hart jag. Hier het ek jou uiteindelik.”

Nemesis vou sy arms rustig en glimlag breed.

“Vetkop ... In lewende lywe. Ek sien jou kop is eintlik vetter as wat dit op die foto’s lyk.”

Vetkop bars uit van die lag.

“En jy is toe eintlik maar ’n ou man wat in ’n Sassa-lyn moes gestaan het.

“Cut the bull. Ek het nie tyd om te mors nie. Moenie dink ek is hier vir ’n vinnige chit-chat nie. Jy het iets wat aan my behoort.”

Een van Vetkop se manskappe hou ’n paar handskoene na sy baas uit. Vetkop trek dit haastig aan en vat dan die vuurwapen wat na hom uitgehou word.

Nemesis sien ’n knaldemper is aan hierdie vuur­wapen gemonteer.

Vetkop rig die vuurwapen op Nemesis, maar dan rig hy dit blitsig op Rowan Jooste.

Een poef-geluid en ’n klein rooi kolletjie verskyn op Rowan se voorkop. Hy is dood nog voordat hy kan besef wat gebeur.

Vetkop spoeg op die vloer. “Ek het nog nooit van child molesters gehou nie. Van die duiwel af.”

Nemesis bars uit van die lag. “It takes one to know one,” sê hy.

“Dit is nie aldag dat ’n mens ’n etter soos jy raakloop wat ’n gewete het nie.”

Vetkop oorhandig die vuurwapen aan een van sy holborsels en trek die handskoene uit.

“Ek likes slimmetjies soos jy,” sis hy. Maar daar is ’n wrede glans in sy oë.

“Jy dink jy is snaaks? Jy dink as hierdie corona-virus-k*k verby is, gaan jy die next Trevor Noah wees?

“Wel, ek het nuus vir jou. I only fear God ... and myself. Ek is erger as daai virus. Wanneer ek klaar is met jou, gaan jy na jou ma verlang, daai belowe ek jou.”

Vetkop draai effe na agter en skree oor sy skouer: “Bring daai jong!”

Daar is ’n commotion. ’n Gestoei klink op en dan word Rudy met soveel geweld na voor gestoot dat hy byna vasneuk in die tafeltjie waar Nemesis sit.

’n Gil klink op. Almal draai verbaas om.

Antie Ruwayda is in die gang­opening.

Sy het ’n lelike gown aan en ’n swirlkous wat windskeef op haar kop sit.

“Wat ... Wat gaan hier aan?” vra sy prewelend.

Dan sien sy vir Rowan, wat oopmond en met ’n dowwe blik in sy oë na nêrens staar.

Een van Vetkop se manskappe kry haar hardhandig aan die arm beet en sleep haar vorentoe.

In die verbygaan spoeg Vetkop op haar.

“Djy, Ruwayda, djy. Djy is skoon gemors, djy,” sis Vetkop.

“Vanaand speel ek sommer ook met jou klaar, want ek is moeg van jou k*k.

“Jy ken my rules: Niemand kom sonder my permission hier in nie, maar jy laat daai Rowan-gemors hier bly. Om die gattas hierheen te lok?”

’n Traan loop oor antie Ruwayda se wang. “ ’n Mens kan mos nie familie wegwys nie. Bloed is dikker as wa–”

“Daai is skoon k*k wat jy nou praat,” val Vetkop haar bruusk in die rede.

“Gaan maak haar stil,” sê die gangster-dikding aan niemand in die besonder nie.

Twee ouens skiet na vore en kry antie Ruwayda aan die arms beet.

Sy probeer haar teësit, maar sy het nie ’n kat se kans teen die twee fris ouens nie. Sonder veel moeite sleep hulle haar terug kamer toe.

Nie lank daarna nie hoor Nemesis weer die poef-geluid van ’n knaldemper wat sy job doen.

“Right,” sê Vetkop en vryf oor sy blink polish-kop.

“Al die steurnisse is iets van die verlede.

“Nemesis, jy gaan nie vir jou dom hou nie. Deur die jare het jy al my warehouses afgebrand en shipments geintercept.

“Twee jaar gelede het jy in Wood­stock by ’n spot van my ingebreek. Ek worry nie oor die drie ouens wat jy sat gemaak het nie.

“Maar jy het iets gevat wat ek nou soek. Ek gaan net een keer vra: Waar is dit?”

“O, ja,” antwoord Nemesis. “Jy mean ek het jou eiers gevat?

“Shame, dis maar swaar as ’n mens sonder balls deur die lewe moet loop, nè?”

Vetkop skud sy kop. “Ek kan nie verstaan hoekom jy my nou soveel werk wil gee nie. Hoekom moet jy nou soos Eskom wees, huh?

“Kom ek wys jou hoe lyk my stage van seriousness.”

’n Kort, bonkige man tree na vore. Hy het ’n klein aktetassie by hom wat hy versigtig op die tafel neersit.

Sy oë is uitdrukkingloos, merk Nemesis op.

“Dit is my persoonlike dokter, dié,” sê Vetkop. “Kom ons noem hom sommer maar Doctor Payne.

“Wanneer hy klaar is met jou, gaan jy my soebat vir ’n bullet deur die brein.

“Jy het steeds ’n choice: Gee jou samewerking en ek sal bygones bygones laat wees.

“Ek weet jy is kwaad vir my omdat ek jou geframe het vir iets wat jy nie gedoen het nie, but somebody had to do it.”

Vetkop draai in Rudy se rigting. “Ek neem aan hy het jou vertel dat hy op ’n tyd my number one hit man was?”

Rudy knik, veels te bang om te praat.

“Dan neem ek aan jy realise dat jy te veel weet? Dat jy nie lewend hier gaan uitstap nie?”

Rudy se oë skiet vol trane. Hy begin saggies snik.

“Jislaik, nee,” sis Vetkop. “Jy is ’n groot, uitgegroeide button-kop.

“Waar is jou dignity? Jy sal jou pak soos ’n man moet vat. Is ’n loodpil anyway nie beter as om in die Tygerberg Hospitaal van die corona-virus sat te gaan nie?”

Nemesis begin vrolik sing.

We had joy, we had fun

We had seasons in the sun

But the hills that we climbed

Were just seasons out of time.”

Nemesis lig hom stadig uit sy stoel. Die pistoollope van Vetkop se ouens volg hom sekuur.

“Ek is jammer om jou bubble te burst,” sê Nemesis koel en kalm. “Maar jóú doppie is geklap.”

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters