Verlede maand
Valencia maak ’n surprising voorstel oor James se baba
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons eerste verhaal vir die jaar is “Doodloopstraat” en die skrywer is ERNEST LOTH. Geniet nou hoofstuk 5.

VALENCIA sug. Sy wil die aangeleentheid nie met haar dogter bespreek nie. Sy besef Jamie-Lee het die reg het om te weet, maar sy wil nie hê dit moet haar ongelukkig maak nie.

Dus moet sy haar woorde versigtig kies. Sy vertel hoe sy die vreemde parfuum aan James se klere geruik en die rooi lipstiffie op sy hempskraag gesien het.

Jamie-Lee sug diep en staar nikssiende deur die motorruit.

JAMES is alleen tuis toe Jamie-Lee en haar ma nog ’n klag teen Whitey by die polisie gaan maak.

Dis vir hom vreemd dat Whitey so negatief teen hom gedraai het, terwyl hy altyd gesorg het dat Whitey ’n pakkie sigarette of ’n bier of twee se geld kry.

Maar hy verstaan Whitey ook – sy was sy enigste suster en hy is hartseer en saam met die hartseer gaan gewoonlik ook woede.

Hy is onrustig en krap ’n paar ou koerante uit om te lees.

Die Sondagson met die berig oor die skiettoneel tuimel per toeval voor sy voete neer.

Hy wil dit ignoreer, maar tel dit tog op. Die voorbladopskrif lui: LIEFDESDRIEHOEK EINDIG TRAGIES­.

En die foto’s waar Lidia se liggaam onder die wilgerboom lê en die ambulans wat hom hospitaal toe neem, bring weer die harde werklikheid na James terug.

Hy het destyds in die hospitaal net deur die berig gescan en wou dit nie lees nie, maar nou lees hy dit aandagtig deur.

’n Ongekende hartseer wel in hom op. Hy was verkeerd om met die meisiekind involved te raak.

Maar dit was ’n sameloop van omstandighede wat hulle bymekaar gebring het.

Hy onthou die dag in Pick n Pay toe sy van haar kruideniers­ware moes terugsit omdat sy nie genoeg geld gehad het nie.

Hy het toe nader getree uit die lang ry en die res van die geld vir haar bygesit sodat sy al die groceries kon kry.

Sy het met ’n mooi glimlag vir hom dankie gesê en gevra hoe sy hom vir die goeie daad kon vergoed. En die res is geskiedenis.

Dit was die tyd toe hy en Valencia ietwat vervreemd geraak het.

Hoe kan hy dit vergeet? Wie sou ooit kon dink hulle verhouding sou so eindig? Vir die eerste keer ná haar dood huil James.

Dis ’n huil wat skeur uit sy borskas. Ná ’n rukkie voel hy beter.

Hy sit ’n lang ruk so kop onderstebo.

Toe hoor hy hulle motor intrek.

Hy was sy gesig met koue water en sien in die badkamerspieël sy oë is rooi gehuil.

Valencia en Jamie-Lee kom die huis binne. Hy hoor hoe sy die motorsleutels op die halfmaantafel in die gang neersit en vra waar hy is. Hy rol sy rolstoel tot by haar. Sy sien dat hy ’n bietjie af lyk.

“Is jy oukei, James­?”

Sy sien die Sondagson op die vloer lê en tel dit op.Haar oë beweeg oor die voorblad. En sy begryp.

Sy sit haar hand op sy skouer. Hy plaas sy hand op hare. Hulle kyk woordeloos na mekaar.

“Ek het geweet dit sou jou later vat. Maar ek’s bly jy het uiting gegee aan jou gevoelens, my man.”

Sy buk en gee hom ’n stywe druk. Hy ruik haar bekende parfuum wat hom altyd so rustig maak en hom haar nabyheid laat waardeer.

“Ons het toe die probleme met Whitey­ gerapporteer.

“Ons is gerusgestel dat Whitey in hegtenis geneem is vir die gun-storie. Hy is verhoorafwagtend.”

“Maar dit moet ons nie laat relax nie. Want die feit dat hy opgesluit is, sal sy woede teenoor my… ons verder stook,” sê James hees.

“Maar ten minste weet ons dat hy Daddy nie weer gou sal pla nie,” bemoedig Jamie-Lee hom.

“En as hy uitkom? vra James.

“Ons sal daarmee deal as dit gebeur,” sê Valencia. “Wie is lus vir ’n koppie tee?”

“Dit sal lekker wees, dankie, Mammie,” sê Jamie-Lee. “En is daar nog van Mammie se melktert oor van gister?”

“Yep,” sê Valencia en beweeg kombuis toe.

Terwyl sy die koppies regsit, maal haar gedagtes. Sy is bly dat James tyd gekry het om sy hart uit te huil.

Die ding met Lidia het haar ook byna ondergekry. Sy was van plan om hom soos ’n warm patat te los en aan te beweeg met haar lewe.

Sy het nie meer krag vir hom gehad nie, veral nie ná die voorbladnuus nie.

Sy het so blootgestel gevoel, want haar naam was op die lippe van almal in die dorp.

Sy het glad getwyfel aan haar gevoel vir hom. As haar liefde vir hom nie so opreg was nie, sou hulle huwelik ’n doodloopstraat bereik het.

Sy het hom ’n tweede kans belowe ná die brief van Lidia.

Dalk moet sy ook hand op eie bors slaan, want sy het hom ook baie afgeskeep. Selfs vir Jamie-Lee.

Haar werk as assistent-redakteur het haar tyd in beslag geneem.

En nou is daar nog die kind van hom by Lidia. Dalk moet hulle daaraan dink om tog die kind aan te neem.

Sy wou graag nog ’n kind hê, maar ná die kwaadaardige gewas op haar eierstokke het sy haar baarmoeder laat verwyder.

Sy kry James nog in die voor­kamer toe sy die tee en tert inbring.

Sy roep Jamie-Lee en gaan sit by die tafel om haar tee te geniet.

“James, ek het gedink dalk moet ons dit oorweeg om tog maar die baba aan te neem.”

Sy sien hoe sy gesig verhelder.

“Regtig?” vra hy.

Valencia sê: “Dis te sê as die ouma inwillig, want ons moet seker nog by haar verbykom.”

Jamie-Lee kom binne. Sy het die laaste sinne gehoor.

“Wat gaan Mammie-hulle by Lidia se ma uitvind?” vra sy.

“Ek en jou pa het besluit om Lidia se baba aan te neem as die ouma haar toestemming gee.

“Wat dink jy, Jamie-Lee?”

“Dis … nie ’n slegte idee nie, Mammie.

“Maar gaan dit nie te veel wees vir Mammie nie, want Mammie moet mos na Daddy ook omsien?”

“Dis oukei. Ek kan antie June vra om hand by te sit. Sy sit mos by die huis ná haar aftrede.”

“Ek dink antie June sal dit geniet ná haar dogter se dood,” sê Jamie-Lee.

“Dit sal ’n gesonde uitlaatklep vir haar wees, Mammie.”

“Ek is darem ook nie heeltemal so hulpeloos nie. Dié moderne rolstoel is nogal heel gemaklik.

“So, ek sal ook kan hand bysit met die winduitdrukkery of selfs ’n kimbie omruil,” spot James.

“Maar voor ons te excited raak, laat ons eers môre besoek aflê by Lidia se ma en hoor of dit oukei sal wees,” sê Valencia en neem ’n slukkie tee.

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters