Verlede maand
Valencia hoor skokkende nuus by die dokter
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

Haai, Sonlanders! Ons eerste verhaal vir die jaar is “Doodloopstraat”, uit die pen van ERNEST LOTH. Geniet nou die derde hoofstuk!

JAMES se hart het ’n oomblik gaan staan, maar het binne tien minute weer begin klop ná die flinke optrede van die mediese personeel.

Jamie-Lee en Valencia staan nog langs sy bed.

“Joeeee, Daddy, vir ’n moment het ons gedink ...”

James probeer smile. “Ag, onkruid vergaan nie …”

Die dokter verskyn.

“Dokter,” sê James. “My bene ... ek ... ek vóél hulle nie.”

Valencia kyk na die dokter. Hy knik. Sy beaam sy gebaar.

“Meneer, ek het met u vrou gesels. U is baie gelukkig dat nie een van die twee koeëls u hart getref het nie. Een van die koeëls het egter u rugwerwels getref en versplinter en die rugmurg geraak. Dit beteken u gaan permanent verlam wees. Ons kan deur middel van ’n delikate operasie die splinter verwyder, maar daar kan komplikasies intree wat u heeltemal verlam sal laat. En dit wil ons nie waag nie.”

James is stil. Hy staar na sy vrou en dogter.

’n Traan rol by sy linkeroog uit en sypel in die kussing. Jamie-Lee sluk haar trane terug.

“Ons … ons sal mooi kyk na Daddy. Moenie worry nie.”

Toe praat die dokter weer. “Daar sal nou ook ’n paar veranderinge by die huis aangebring moet word, veral by die deure. Dit gaan ’n geweldige aanpassing vir u en vir u gesin wees, Meneer.”

“Ons sal daarvoor voorsiening maak, Dokter,” sê Valencia en vee die traan teen haar wang weg.

“Ons het ook ontdek dat u ’n chroniese bloeddrukprobleem het, wat beteken dat u voortaan gereeld medikasie moet gebruik om u bloeddruk in toom te hou.”

James is stil, maar sy brein werk oortyd. Hy besef dat hy nie meer vir sy gesin sal kan werk nie. Gelukkig het hy twee goeie polisse wat sy ongeskiktheid sal dek en ’n vaste belegging waaraan hy nog nie geraak het nie. Dit sal hulle waarskynlik deurdra. Maar dis veral die skiettoneel wat sy denke oorheers. Hy weet net dat hy uit sy kar geklim het toe hy die rewolwer in haar hand sien. Hy het nie verwag dat Lidia so iets sou doen nie. Die dokter bring hom terug na die hede.

“U mediese fonds maak voorsiening vir sielkundige behandeling. U het beslis ’n traumatiese ondervinding deurgemaak. Die sielkundige sal weer probeer om die gebroke skerwe van u geestelike toestand te heel,” sê die dokter.

James draai na die dokter.

“Die dame, Lidia, is sy oukei?”

“Sy het haarself doodgeskiet, James,” sê Valencia.

Sy merk hoe James verbleek met die aanhoor van die nuus.

Skielik word die rustigheid in die saal verbreek deur ’n man van amper dertig wat die vertrek binnebars. Sy gesig is vol tatoeëermerke. Hy stap tot by Jame­s se voetenent en wys ’n dreigende vinger na hom. Jamie-Lee en Valencia is uit die veld geslaan. Die dokter gaap die toneel aan.

“Djy issie safe nie. Djy’t surive, ma’ my suster hettie!”

“Wie is jy?” vra Jamie-Lee. “Jy pratie soe met my pa nie!”

“Hey, wag djý! Djy weet niks! Ek is Lidia se broe’, Whitey. En jou pa íssie safe nie!” gil Whitey.

“Waar’s die sekuriteit?” roep die dokter. “Jy kan mos nie hier inbars en my pasiënt kom dreig nie!”

“Ek’s’ie bang vir securities nie. Ek ken tronk! My suster was k*k lief vi’ djou. Ek weet’ie hoekom het sy met jou gef*kkie!”

Valencia tree na vore. “Aikôna, jou suster moes ook van beter geweet het!”

“Moet djy nie vir daai hond opkommie. Hy’t djou ook vir ’n gat gevat!”

Twee sekuriteitswagte kom staan weerskante van Whitey. Hulle vat hom aan sy skouers en neem hom uit. Hy draai terug en skree: “Het djy gewiet sy was pregnant, djou vark?! Sy’t my daai dag gesê toe sy vir djou witbiene wou maak!”

Valencia plaas haar hand voor haar mond.

“Praat hy die waarheid, Dokter?” Sy wend haar tot James. “Wat gaan hier aan? Het sy jou kind verwag?”

Die dokter is uit die veld geslaan. “Is julle familie van die dame wat haarself geskiet het?”

“Jy kan maar so sê, ja. My man en sy het ’n affair gehad.”

James draai sy gesig weg.

“Die dame was ses maande swanger,” sê die dokter.

“En het die kind survive?” vra James.

Stilte daal in die vertrek neer.

“Ons moes die baba verwyder deur ’n keisersnit. Hy sterk aan in die broeikas.”

“Het jy geweet sy is mettie lyf, James?” vra Valencia.

“Ek het nie geweet’ie, Valencia.”

“Hoe kon jy nie weet’ie? Kon jy ook’ie sien nie?” vra Valencia.

James ignoreer haar vraag. “Hoe is dit moontlik dat die kind survive het, dok?” vra hy.

“Dis ’n wonderwerk. Die mannetjie is sterk en gesond, al pas hy maar in ’n skoenboks. Ons hou ’n wakende oog oor hom.”

Die dokter skuif sy stetoskoop reg, steek sy hande in sy sakke en verlaat die vertrek.

“So, dis jou kind, James …”

“Ek weet’ie, Valencia.”

“Hoe kan jy dit nou betwyfel? Julle was tog in ’n verhouding. Jy het daar gepeuter. Niemand anders nie.”

Dis te veel vir Jamie-Lee. Sy het skielik ’n behoefte aan vars lug. James kyk haar magteloos agterna en kan homself skop vir die hartseer wat hy oor haar en haar ma gebring het.

James sug. “As dit my laitie is, Valens, dan sal ek my responsibilities nakom. Ek is bitter jammer. Jy en Jamie-Lee verdien dit nie.”

Stilte.

“Kan jy nou sien, James?

“Jou berou kan nou niks aan die situasie makie. Die koeël is deur die kerk. Of moet ek liewer sê die koeël is deur jou bors!”

“Los maar jou sarkasme, Valens. Ek hettie dit nou nodig nie.”

“Ai, James, die verkeerde besluite wat ’n mens neem, het altyd lelike nagevolge en ongelukkig moet ’n mens dit face. Dit het ’n geneigdheid om te boemerang!”

“Dankie, pastoor Valencia. Moenie sout in die wond vryf nie.”

“Ongelukkig is ek en Jamie-Lee nou deel van die gemors. Ons sal die berg saam met jou uitklim, al is dit hoe moeilik. Dit baat nie ek of jou dogter gaan jou nou kruisig nie. Gedane sake het geen keer nie.”

“Dankie dat jy verstaan, my vrou.”

“En wat gaan ons maak met die skurk wat jou hier kom staan en dreig? Seker maar aan die polisie rapporteer voordat dit handuit ruk. ’n Interdik teen hom kry.”

“Hy gaan in elk geval mang vir ’n ongelisensieerde wapen wat hy aan Lidia verskaf het,” sê James.

“En weet dat hy op borgtog vrygelaat gaan word,” sê Valencia.

“Ek voel baie moeg, Valens.”

“Dit was ’n uitputtende dag, my man. Sluit jou oë en rus.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters