2 maande gelede
Valencia besluit sy gaan tog ’n ou kennis ontmoet
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Ons eerste verhaal vir die jaar is “Doodloopstraat” deur ERNEST LOTH. Geniet hoofstuk 8.

DIS stil in die motor toe hulle terugry huis toe. Jamie-Lee chat met vriende op Facebook.

Sy het ’n persoonlike stryd gevoer met sekere persone se kommentaar op haar pa en Lidia se affair wat selfs op sosiale media oopgevlek is.

Natuurlik was haar pa die vark in die verhaal volgens die meeste aanmerkings. En Lidia die engeltjie.

Hier en daar het sy respond, maar die meeste kritiek het sy blatant geïgnoreer.

Mense het seker maar die reg op hulle opinies. Sommige is openlik ongevoelig.

Sy het haar pa en ma beskerm na die beste van haar vermoë. Dis haar familie.

Gelukkig weet sy ook dat die hele ding sal oorwaai.

Wat haar egter so bedinges maak, is dat haar pa hom nie kon beheer nie. Om in so ’n verhouding betrokke te raak!

Hy is tog immers getroud.

Hy’s veronderstel om wiser te wees. Tog besef sy dat haar ouers mekaar iewers langs die pad verloor het …

Sy self het daaronder gely.

Sy het selfs so ver gegaan as om een keer te vra hoeveel geld haar ma per uur betaal word by die tydskrif waar sy as assistent-redakteur werksaam is. Haar ma het die bedrag gesê.

Sy het toe van haar spaargeld gaan onttrek en vir haar ma gesê: “Mammie, hier’s R150.”

Valencia wou weet hoekom. Sy’t gesê sy “koop” nou ’n uur om ’n bietjie met haar te gesels of sommer by Spur ’n koffie en bord tjips te gaan geniet.

Haar ma het in trane uitgebars en haar vasgegryp en tussen die lyne gelees wat haar dogter eintlik wil sê. Hulle het albei onbedaarlik begin huil.

Sy dink haar ma het toe besef watter gaping daar tussen haar en Jamie-Lee was.

Toe ontdek sy per toeval die brief van Lidia in haar pa se broeksak.

Dis asof Lidia wou hê haar ma moes weet dat sy en James iets aanhet.

As sy nou daaraan dink, het haar ma eintlik haar pa in iemand anders se arms gedryf …

Maar sy is ook bly haar ma het kop gekry. En haar pa …

Jamie-Lee loer ongemerk in sy rigting waar hy links voor sit en met sy linkerhand die vashouplek langs sy kop vasklem.

En sy besef dat sy hom verskriklik liefhet, ongeag die blaps wat hy gemaak het.

Sy bewonder haar ma ook. Dat sy nie haar pa gedrop het nie. Dit wil gedoen wees.

As dit sy was, het sy so ’n man pad-op gestuur! Goddank dat haar ma ’n sterk vrou is en dat niks ergers met haar pa gebeur het nie.

Sy kan sien dat hy nie gemaklik in die rolstoel is nie, maar hy wys dit nie openlik nie.

Maar sy weet hy aanvaar dit maar vir haar en haar ma se onthalwe.

Sê nou Lidia het daarin geslaag om haar pa dood te skiet …

Joeeee, sy wil nie eens daaraan dink nie. Kan ’n mens so blindelings liefhê dat jy jouself en die een wat jy liefhet, wil vernietig?

’n Mens lees so baie van dié tipe goed in tydskrifte en koerante en sien dit op TV. Dan skryf jy dit af as malligheid, dink sy.

Totdat die dinge met jou gebeur en die realiteit van die situasie dan ’n bitter pil vir jou word.

Valencia verbreek die stilte in die motor deur te sê hoe verras sy was dat Lidia se ma hulle so goed ontvang het.

“Dis waar, Mammie,” sê Jamie-Lee.

“Het Mammie gehoor sy het so ’n lekker aksent soos die mense van die Noord-Kaap?”

James sê niks.

Hy het lank terug by Lidia verneem dat haar familie eintlik van O’Kiep in Namakwaland afkomstig is.

Hy is ook verbaas dat sy hom nie ingevlieg het nie.

Dalk omdat sy ’n kerkvrou is. Sy het ’n vergewensgesindheid in haar.

Daarsonder sou sy hom seker met kookwater verbrand het! Hy het opgelet hoe sorgvuldig sy met Lee-Conner werk.

Die kind het ook in sy hart gekruip.

Hy wou so graag nog ’n kind by Valencia gehad het.

Hy was verpletterd toe Valencia haar baarmoeder en eierstokke moes laat verwyder.

Sy het nie ’n keuse gehad nie. Anders het die kwaadaardige gewasse haar hele liggaam besmet.

Valencia se foon vibreer weer toe sy by hulle hek indraai.

Sy sorg dat James weer sorgvuldig in sy rolstoel sit en sluit die voordeur oop en stoot hom binne.

Dan lees sy die SMS op haar foon se skerm.

Dis dieselfde boodskap wat sy ’n paar dae gelede ontvang het.

Ben. Hy’t die voorbladstorie in die Sondagson gelees.

Hy wil hê hulle moet ’n koffie iewers gaan drink. Die wêreld isdarem klein, dink sy.

Hy is weer terug in die dorp. Was mos die laaste tyd oorsee omdat sy werk dit van hom vereis.

Sy het hom voor James ontmoet. Ben was haar eerste liefde.

Ben Baxter. Met die lenige, atletiese lyf. Eerstespan-rugbyspeler.

’n Slimkop wat mal oor rekenaars was.

Hy het toe IT gaan swot op UCT.

Hy het nou sy eie besigheid in die Paarl. Sy wonder of hy getroud is. Hy was mos al die jare ’n hubare alleenloper.

’n Man wat baie vroue se eierselle in hulle eierstokke soos ping-pong-balletjies laat rondspring het met sy kyk alleen en die kuiltjie in sy ken!

Vir haar was hy te brêkkerig. Vol van homself.

Hy het altyd te veel naskeermiddel gebruik wat clash met sy duur eau de toilette en het ’n mens ná ’n ruk in sy geselskap hooikoors laat kry.

Sy wonder of hy baie verander het.

Dalk moet sy tog maar inwillig vir die afspraak om ’n koffie saam met hom te gaan geniet.

Sy moet eerlik met haarself wees – daar was ’n tyd toe sy baie lief was vir hom.

Hy het haar oorlaai met geskenke. Blomme, halssnoere, aandrokke. En hulle het baie gaan uiteet in die duurste restaurante.

Hy was toe al daai een wat haar net wou impress. Tog was sy nie baie daarmee beïndruk nie.

Sy het hom ook mooi laat verstaan dat sy nie ’n materialistiese mens is nie en dat hy nie hulle verhouding aan die gang moet probeer hou met duur geskenke nie.

Hy het aan haar gesê dat sy nie soos die ander meisies was wat hy gehad het nie.

Dit was ook ’n groot kwelpunt in hulle verhouding. Sy oë wat hy rondgegooi het vir elke vrou met ’n oulike gesig en mooi bene!

Sy nie jaloers nie, maar dit het nogal aan haar gekrap.

Totdat sy eendag op ’n reëndag gesê het: Hier toe en nie verder nie.

Hulle het baie mooi uitmekaar gegaan.

Een ding wat sy van hom bewonder het, is dat wanneer hulle gestry het, het hy nooit probeer om sy hand vir haar te lig nie.

Dit was net altyd baie seer as hulle nie met mekaar gepraat het nie en hulle vir lang tye mekaar nie gekontak het nie.

Sy glimlag. Dis seker maar so as ’n mens iemand liefhet …

Sy besluit om tog maar ’n koffie met Ben te gaan drink en haar gevoelens teenoor hom te toets.

Sy skrik toe haar selfoon skril lui. Sy beantwoord dit en hoor dis Ben se stem …

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters