Verlede maand
Valencia besef sy kan dinge nie meer wegsteek
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ 

Haai, Sonlanders! Ons eerste verhaal vir die jaar is “Doodloopstraat”, uit die pen van ERNEST LOTH. Geniet nou die tweede hoofstuk!

DIT was nie Gert se verbeelding nie – hy het skote gehoor. Hy plak nou al ’n paar maande hier naby die rivier en hy kan sweer die skote het daar uit die rigting van die wilgerboom gekom. Daar waar die rooi kar staan.

Hy vlieg op en sien twee mense digby mekaar lê, so ses meter van waar hy staan. Hy stap vinnig nader en skrik hom boeglam toe hy die bebloede liggame sien.

Dit lyk asof hulle dood is. Toe beweeg die man ...

“Kry ... kry ’n ... ambulans! Asseblief!” kreun die man voordat hy weer sy bewussyn verloor.

Gert vra ’n verbyganger om die ambulans te bel. Die man het nie airtime nie.

“Waarvoor het julle selfone as julle g’n airtime hettie?” skel Gert en wend hom tot iemand anders.

Die vrou in die rooi T-shirt skakel die nooddiensnommer.

Sy stap uit nuuskierigheid stadig na die toneel waar die twee lê. Sy is per toeval ’n vryskutjoernalis vir Son ...JAMES skrik in die hospitaal wakker.

“Jy was gelukkig,” sê die verpleegster. “Maar die dokters veg nou in die operasiesaal vir die vrou se lewe ... Lydia, nè?

Sy vrou, Valencia, staan langs sy bed en sy dogter, Jamie-Lee, staan by sy voetenent.

Jamie-Lee huil. Maar Valencia bedwing haar trane.Dat dit só moes eindig, dink sy.

James staar na Valencia.

“Ek ... ek is jammer, Valencia.”

Die toneel tussen hom en Lidia speel soos ’n movie voor James se geestesoog af.

Die dokter beduie hy wil Valencia eenkant spreek.

Sy beweeg saam met die dokter na die gang.

“Ek is bevrees ek het slegte nuus, Mevrou. Hoewel ons jou man van ’n gewisse dood kon red, het ’n koeël sy rugwerwels getref en dit versplinter. Die splinters het sy rugmurg beskadig ...”

“Wat beteken dit, Dokter?” vra sy ontsteld.

“Hy is permanent verlam in sy onderlyf,” sê die dokter.

Valencia begin saggies huil.

“Hy sal ook sielkundige hulp moet ontvang vir die traumatiese ervaring wat hy beleef het.

“Sterkte vorentoe, Mevrou,” sê die dokter terwyl hy sy hand op haar skouer plaas.

Valencia wink vir Jamie-Lee. Jamie-Lee beweeg na haar ma toe.

Valencia verduidelik kortliks die dokter se bevinding.

“Beteken dit–”

“... dat jou pa verlam gaan wees? Ja, my kind.”

“Ag, Mammie, ek is so jammer.” Sy omhels haar ma.

“Ons sal maar net moet sterk wees, my kind.”

Jamie-Lee staar na haar pa. Dit lyk asof hy slaap. Sy sien hoe hy reëlmatig asemhaal.

“Wat ... wat het eintlik gebeur, Mammie? Wie het vir Daddy geskiet?”

“Ai, my kind, dis ’n lang storie. Ek wil jou nie nog met my en sy problems opsaal nie.

“Jy is jonk. Jy hoef jou nie te kwel oor dinge wat ek en hy moet uitsort nie.”

“Ma moet my nie onderskat nie. Ek weet mos julle twee is van bed en tafel geskei. Dié dinge gaan nie verby my nie.

“Ek is julle enigste dogter en woon saam met julle in een huis.

“Ek kan aanvoel as julle nie gelukkig is nie. En julle was nie die laaste ruk op jul gelukkigste nie.”

Valencia swyg. Sy weet sy kan haar kind nie om die bos lei nie.

“Kan ons nie wag tot ons by die huis kom nie, my kind?’

“Nee, Mammie. Ek wil nóú weet ...” dring sy aan.

Sy lei haar ’n entjie van James se bed af weg.

“Die meisie het hom geskiet ...”

“Watter meisie, Ma?” vra sy.

“Die een met wie hy ’n affair aangehad het ...”

Stilte. “Hoe ... hoe lank weet Mammie dit?” vra sy.

“Ek het dit lankal vermoed. Toe kry ek die brief in sy gatsak.

“Die brief waarin sy vertel hoe baie sy vir hom omgee en ... ander goed wat nie vir jou ore bedoel is nie. Ek en jou pa het daaroor gesels.

“Ek het hom voor ’n keuse gestel. Hy het erken hy het ’n fout gemaak en gesê hy gaan die verhouding stopsit.

“Hy het toe vandag vir haar gaan sê dit gaan nie meer werk tussen hulle nie.

“Ek neem maar aan hulle het woorde gewissel en sy het hom geskiet en toe haarself.”

Jamie-Lee se mond hang oop.

Sy kyk na haar pa waar hy so hulpeloos tussen die wit lakens lê en na die hartmasjien wat die hele tyd geluide maak.

“Dis erg, Mammie! En waar is sy nou?”

“Dit lyk nie asof sy dit gaan maak nie. Hulle is besig met ’n noodoperasie.”

“Sal Mammie vir Daddy ver­gewe? ’n Tweede kans gee?” vra Jamie-Lee saggies.

“Ons sou van voor af begin, my kind. Ek het hom reeds vergewe.

“Dit was moeilik, maar ek het.

“Ek dink ek is self ook ’n oorsaak dat ons uitmekaar gedryf het. Deur my werk en als.

“Ek het jou ook lelik afgeskeep, Jamie­-Lee. Ek is baie jammer.”

Sy omhels haar dogter.

Sy onthou die dag toe Jamie-Lee vir haar geld aanbied om ’n uur by haar te koop. Tóé het sy begin besef.

“Ons sal hieroor kom, Mammie.”

’n Ouer dame van in die 60 loer by die saal in.

“Goeiedag, julle,” groet sy.

“Ek is Lidia se ma.”

“Goeiemiddag, Mevrou. Ek is Valencia, James se vrou. En dis my dogter, Jamie-Lee.”

“Noem my sommer antie Klara. Ek kom net sê my dogter ...” Sy sluk swaar. “My dogter het dit toe nie gemaak nie.

“Ek wil net sê ek is jammer dinge het só gebeur. Is jou man oukei?”

“Dit lyk so, Antie Klara.”

“Die dokter sê hy gaan permanent verlam wees.

“­ ’n Koeël het sy rugwerwels versplinter.”

Antie Klara gryp Valencia se hand vas en knyp haar oë toe.

“Ek is regtig jammer, my kind. Julle moet sterk wees. Ek bid vir julle.”

“Ons innige simpatie aan u ook, Mevrou,” sê Jamie-Lee en gee haar ’n drukkie.

Valencia gee antie Klara ook ’n drukkie.

Antie Klara huil onbedaarlik terwyl Valencia haar vashou.

“Dankie, julle,” sê sy.

Sy groet en laat hulle toe alleen in die saal agter.

“Arme vrou,” sê Jamie-Lee.

Hulle hoor James kreun.

Die hartmasjien maak ’n een­tonige geluid.

James se liggaam ruk.

“Daddy! Daddy!” gil Jamie-Lee.

“Mammie, kry die dokter!”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters