28 dae gelede
Valencia besef die baba kan James help heel word
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Ons eerste verhaal vir die jaar is “Doodloopstraat” deur ERNEST LOTH. Geniet hoofstuk 7.

VALENCIA en haar gesin sit steeds in antie Klara se voorkamer. Valencia sit kruisbeen in die gemakstoel. Sy is gespanne. James kan dit sien aan die manier waarop haar linkerbeen aanhoudend beweeg asof dit nie kan stop nie.

James plaas sy hand op haar linkerknie om haar gerus te stel. Sy hou haar been stil.

“Bly kalm, vrou. “Moenie vir jou so opwerk nie,” sê James.

Valencia is vermoedelik diep ingedagte.

Sy skrik wakker uit haar bepeinsing en vra: “Maar wat as sy nie inwillig tot die aanneming nie?

“Sy kán weier. Lee-Conner speel nou ’n belangrike rol in haar lewe. Hy vul die gaping wat Lidia se dood gelaat het.”

James raak stil. Dit het ook flussies deur sy brein geflits.

Hoewel hy besef dat die kind antie Klara se lewe ophelder, is dit volgens hom ook nie reg dat antie Klara op haar ouderdom nog met kindgrootmaak opgesaal word nie.

Die koppies rinkel op die skinkbord toe Jamie-Lee die tee inbring.

Intussen het Valencia die foto’s teen die muur bekyk.

Daar’s familiefoto’s van antie Klara en haar oorlede man.

Die vergrote troufoto het al vergeel, maar ’n mens kan agterkom dat die egpaar toe diep in die 20 was. Antie Klara was op haar dag ’n pragtige jong vrou.

Dan is daar ’n foto waar antie Klara met haar man, Whitey, en Lidia staan. Die ander geraamde kleur­foto’s staan op ’n ronde tafel in die hoek.

Sy soek na ’n enkelfoto van Lidia.

Sy sien een van Lidia in ’n koningsblou rok, silwer handsak en silwer skoene, waarskynlik by haar matriekafskeid. Op een van die foto’s poseer Whitey met sy vingers in die lug ...

“Pragtige foto’s,” sê Valencia toe antie Klara met die beskuit inkom.

Jamie-Lee plaas die skinkbord op die koffietafel.

“Ja-a ... dis nou my family. Het jy gesien hoe pragtig lyk Lidia dáár op haar matriekfoto?”

“Baie mooi,” sê Valencia. Ek weet nie eens meer waar my eie matriek­foto’s is nie.”

“Ja-nee my kind. Foto’s is maar onse memories waaraan ons kan vashou ...”

Antie Klara kyk na James waar hy steeds met die baba sit.

“Is hy nog oukei?” vra sy.

“Lyk my hy slaap nou, antie Klara,” sê James.

“Een ding van hom, as hy sy magie vol gedrink het, is hy in droomland. Gee hom hier dat ek hom sommer hier op die sofa neerlê.

“Hy slaap net so ’n rukkie, dan is hy weer wawyd wakker.”

Antie Klara lê Lee-Conner saggies neer.

“Om terug te kom na jou laaste vraag, Valencia. Ai, ek het diep gedink daar innie kombuis terwyl ek en jou dogter die koppies regkry virrie tee.

“Kry vir julle tee en koekies, James­.”

Hulle help hulself aan tee en koekies.

“James, jy het netnou tog te pragtig gelyk met die kind in jou arms,” sê antie Klara.

James bloos liggies. Jamie-Lee glimlag breed.

Valencia neem ’n slukkie tee.

“Ek het nie ’n probleem dat julle Lee-Conner wil aanneem nie. Dis net dat ... Wel, julle my moet kans gee,” sê sy ernstig.

“Lidia se dood het ’n stukkende plek in my hart gemaak. Lee-Conner is soos ’n salf wat die seerplek toemaak.

“Hy hou my nogal besig in die tyd dat ek vir hom ma speel. Maar hy bring ook soveel memories terug, want hy trek ook nogal na sy ma toe sy ’n baba was.

“Dis asof ek haar weer van voor af grootmaak en vertroetel.” Stilte.

“Ek ... ek kan my indink, antie Klara. Ek wetie wat ek sal maak as iets met Jamie-Lee moet gebeur nie,” sê Valencia met ’n vol gemoed.

“En in dié land van ons waar ons nie weet of ons môre nog sal survive nie ...” sê antie Klara en neem ’n slukkie tee.

James praat vir die eerste keer weer.

“Ek verstaan, antie Klara. Ons sal maar aanhang tot antie Klara besluit wanneer ons kan voortgaan met die aanneming.”

“Dis reg so, James,” sê antie Klara.

“En nog iets ...” sê James.

“Praat maar, James, ek luister.”

“Noudat ek hier is – ek is regtig opreg jammer oor alles wat gebeur het. Jammer dat dit só afgeloop het.

“As ’n mens net vooraf dinge kon geweet het ... maar ons weet mos nie altyd hoe God se planne uitwerk nie.

“Soos ek gesê het: Ons kan nie vinger wys nie. Die kind het ook nie gevra om in die lewe te wesie en ons kan hom nie verstoot nie.

“Hy makeer baie liefde.”

Jamie-Lee verkyk haar aan Lidia se ma. ’n Merkwaardige vrou. Ook Valencia kyk antie Klara met ’n gedagte aan.

Sy het nie verwag dat die vrou hulle so mooi sou ontvang nie. Gedog sy sou teen hulle uitvaar of hulle wegjaag. Sy wonder wat sou gebeur het as Whitey tuis was.

Ook James koester sy eie gedagtes. Die oomblik toe hy Lee-Conner vashou en teen hom vasdruk, het daar ’n band tussen hulle ontstaan.

Hy móét die kind aanneem. Dis sy responsibility.

Hy voel so skuldig dat hy die kind se ma moes afsê. Maar hy moes – om sy huwelik te red. En om haar ’n kans te gee om oor te begin.

Wat sou gebeur het as hy geweet het sy is swanger? Sou hy voortgegaan het met hulle verhouding?

Hoekom het sy nie oop kaarte gespeel nie? Dan kon hulle dalk iets uitgewerk het.

Hy besef sy het ’n obsessie met hom gehad. Hy het tog iets vir haar gevoel, maar sy gevoel vir Valencia was nog daar.

Dit het versterk nadat hulle twee – hy en Valencia – soos volwassenes oor die brief gepraat het.

As sy maar net nie ... ai, hy wil nie daaraan dink nie.

As Whitey net nie die gun vir haar gegee het nie ... Whitey is ook te blameer vir die hele ding.

Maar soos antie Klara gesê het, hulle moenie vinger wys nie. Dit is nou soos dit is.

Valencia staar na James en besef dat haar man se gedagtes ver is.

Sy weet hy verkwalik homself oor Lidia se dood en hy voel dit nou meer omdat hy hier in hulle huis sit.

Sy sal maar toesien dat hy nie sy sessies by die psigiater misloop nie, want sy kan sien dat sy geestestoestand nog nie reg is nie.

Saans lê en ruk hy steeds in sy slaap.

Die sielkundige het met sy laaste sessie vir haar gesê hy ly nog aan posttraumatiese stres.

Sy het opgemerk hoe gefrustreerd hy soms raak as hy dink sy kyk nie, maar sy ken hom.

Sy weet die rolstoelding beperk hom in baie dinge wat hy so graag wou doen.

Soos om die gras te sny, sy kar binne skoon te maak of selfs net soggens te gaan draf.

Maar dalk sal die aanneming van Lee-Conner hom help herstel, want sy het gesien hoe hy die kind vashou en styf teen hom vasdruk.

Of sy dit nou wil erken of nie, sy sal alles in haar vermoë doen om haar man die kind te help grootmaak.

Sy sal haar rol as sy vrou honderd persent moet volstaan sodat hy weer sy lewe normaalweg kan voortsit onder die omstandighede.

En dáárvoor sal sy krag van God nodig hê ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters