2 maande gelede
Valencia antwoord Ben eerlik toe hy oor haar man vra
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons eerste verhaal vir die jaar is “Doodloopstraat” deur ERNEST LOTH. Geniet hoofstuk 9.

V ALENCIA beantwoord haar foon.

“Hallo, Valencia hier. Ben?”

Sy hoor sy klokhelder lag. “Einste! Jy onthou darem nog my stem! En hoe gaan dit met my squirreltjie?”

Sy lag. “Ag, loop, jy! Jy’t my nog laas so genoem toe ons nog ’n item was.

“Ek is nie meer jou squirreltjie nie.” Sy hoor hoe hy kraai.

“Gaan ons ’n koffie drink dié Saterdagmiddag? Wat sê jy?”

“Dan gesels ons oor alles en nog wat. Oor my. En oor jou.”

Sy bly stil.

“Toe, wat sê jy?” vra hy.

“Ek weet nie of dit ’n regte ding is nie, maar ek sal like om weer jou gesig te sien.”

“Niks het regtig verander nie. What you see, is what you get. Oukei, dan sien ek jou binnekort. Tot siens.”

James stoot sy rolstoel tot voor haar.

“En met wie chat jy so lekker?” vra hy.

“O … dis … dis sommer Bridgette. Ou skoolmaat. Wil weet of ek oukei is ná die berig in die koerant.”

“Nou eers. Dit het mos lankal verskyn.”

“E … e … sy sê my foon is heeltyd op voice mail.”

“O …” sê James en beweeg met sy rolstoel na die TV-kamer.

Valencia voel kriewelrig oor die wit leuen wat sy vir James vertel het. Maar sy kan haar indink hoe hy sou reageer as sy moes sê dis Ben Baxter.

Sy het hom destyds van Ben vertel.

Voor hulle huwelik. En James was vantevore baie jaloers as sy Ben se naam in ’n gesprek geopper het.

Sy het aspris gespog oor watter gentleman Ben was. En dat hy sy eie besigheid besit en ’n foendi met computers is.

Toe Jamie-Lee eenkeer ’n probleem met haar laptop gehad het, wou sy Ben bel om dit gou te herstel. James wou niks daarvan hoor nie.

“Hoekom Ben? Is hy die enigste een wat iets weet van rekenaars?”

Toe los sy dit maar om verdere rusie te vermy en neem die laptop na die local computer shop toe.

VALENCIA en Ben sit in die mall en koffie drink. Weggesteek agter ’n groot delicious monster-plant wat hulle twee verdwerg.

Nie dat sy haar moet of behoort weg te steek nie, maar ’n onskuldige snapshot met ’n smartphone kan ’n storm in ’n teekoppie veroorsaak!

Hy lyk goed. Skoongeskeer.

’n Mens kan hom altyd deur ’n ring trek. Hy kyk haar steeds met sulke diep kyke soos voorheen.

En die kuiltjie in sy ken lyk nog steeds so sexy. Dit het destyds haar knieë lam gemaak! Snaaks genoeg, nie meer nie …

“Jy sê daai ding, Valencia. Dat al die goed met jou in die afgelope tydjie gebeur het.

“Maar jy’s mos allie pad ’n sterk mens. So ken ek jou.”

Valencia wonder skielik of haar lewe anders sou uitgedraai het as sy met Ben getroud was. Maar sy skuif die gedagte vinnig uit haar kop.

“My huwelik met Doris was van dag een af ’n fiasko. Ons het net nie by mekaar gepas nie.

“Haar familie het te veel in ons sake ingemeng. Sy het met elke problem wat ons gehad het, na haar ouers toe gehardloop.

“Dan wou haar pa my net kom donner sonder dat hy weet waaroor dit gaan. Ek het my respek ook vir hom verloor.”

“Jong, elke huis het seker maar sy kruis,” sê sy en neem ’n slukkie koffie.

“Dan beweer die kerkleiers ons moet maar ons kruis dra. Bog! Ek glo nie daaraan nie.

“Mens moet jou kruis wegsmyt as dit te swaar word. Ek dink’ie die Here wil hê ons moet met onnodige kruise rondloop nie,” sê Ben ernstig.

“En kinders? Enige kinders uit jul huwelik?”

“Twee. Seun en dogter. Een in graad tien en ander een in graad twaalf. Bly by hul ma.”

“Hoe is julle verhouding?”

“Ek en die ma? Of my kinders?” vra hy.

“Albei,” sê Valencia.

“Nee, ek en sy is nou net goeie vriende. Kom nou beter oor die weg as toe ons getroud was. Kan jy dit glo?

“My kinders kom gereeld kuier. Ons het beurte.

“Hul ma het nou weer ’n nuwe ou, maar my kinders kan hommie vattie.”

“Jy moet maar waak dat jy hulle nie negatief beïnvloed teenoor hom nie,” waarsku sy.

“Hoegenaamd nie. Gesê hulle moet hom kans gee om homself te bewys.”

“Dis reg so ja. Maar jy bly hulle pa.”

Stilte. “Hulle wil graag hê hulle ma en ek moet weer opmaak,” sê hy.

“Hoekom dan nie? Julle kan mos,” sê Valencia en hou hom stip dop.

“No ways! Daai vrou is verslaaf aan slot-masjiene en het geld op die masjiene gemors asof ons miljoenêrs is.

“Bly heeltyd opgepof en bestel kitskos en pizzas naweke. Ek sien nie meer kans vir daai soort lewe nie.

“En jy? Vandat James in ’n rol­stoel is. Hoe hanteer jy dit?”

Valencia stoot haar hand deur haar hare. Haar haardos val slap weer in plek.

Ben merk dit op en smile. Hy het altyd daarvan gehou as sy haar hare so met haar hand spontaan agtertoe vee.

“Ag, Ben, ek vat dit maar soos dit kom, jong. Ek kan hom nie nou drop nie …”

“So, jy dra maar jou kruis geduldig.”

“Ek het geen keuse nie. Ongeag sy flaters was hy nog altyd net goed vir my en my dogter.”

Stilte. “Jy’s nog lief vir hom, nè?”

Die stilte kom lê tussen hulle. Noudat hy dit vra, voel dit byna asof sy vinnig “nee” wil sê, maar sy kan nie. Sy vind James nou baie broos.

Sy’s jammer vir hom. Maar sy is nog lief vir hom. Sonder twyfel. Hy is spyt oor alles.

Dit kan sy sien.

Sy het ook bygedra tot hulle vervreemding destyds. Maar sy sal opmaak daarvoor.

Sy moet. Sy gaan!

Sy kyk Ben reguit in die oë.

“Ja, Ben. Ek is nog lief vir my man. Baie.”

Ben glimlag.

“Ek sal moet aanstaltes maak. Kyk waar travel die tyd al weer.

“Dit was aangenaam om met jou te gesels, Ben.”

“Dit was. Dit was regtig lekker om jou weer te sien.

“En ek wens jou alles wat mooi is toe. Kyk mooi na jouself en jou gesin.

“James moet jou waardeer. Julle sal oor dié dinge kom.”

Hy staan op en gee haar ’n drukkie.

Sy kom agter sy lekkerruikgoed is nie meer so oorweldigend nie. ’n Mens ruik dit skaars, maar dit is daar.

“Ek hoop ons sien mekaar weer in die toekoms,” sê hy hoopvol.

“Ek dink nie ons moet nie, Ben. Laat ons vriende bly. Dis genoeg vir my.”

“Oukei, maar weet net: Ek sal altyd daar wees vir jou – jy kan enige tyd op my nommer druk.

“Tot siens, Valencia.” Sy stem is hees en sy merk die blink in sy oë op …

“Tot siens, Ben. Ek moet teruggaan na my man toe.

“Hy het my nou nodig soos nooit tevore nie.”

Hy stap trots en regop van haar af weg. Die sonlig laat sy blinkleerskoene glans.

Sy sien hoe hy in sy blink swart motor klim.

En sy sien hoe hy sy hand by die motorvenster uitsteek en vir haar koebaai waai en wegry …

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters