Verlede maand
Uiteindelik kry hy weer ’n smakie vannie goeie lewe
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Denzil voel vir ’n fool gevat toe sy vrou vir hom sê dat Waanie g’n kind of kraai het nie. Dus het die ou skelm hom ingedoen en hy is weg met sy geld, dink Denzil kwaad. Maar Waanie is op ’n mission. ’n Mission wat heel waarskynlik ’n crime insluit. Geniet hoofstuk 5 van ELDRIDGE JASON se verhaal “21 Dae”.

WAANIE gee ’n kort klop aan die staaldeur.

Hy loer vinnig om. Hy sal gou moet speel. Die army en die polisie is in die omtes. As hulle hom nou hier gewaar ...

“Wiessit?” kom die vraag grof van die ander kant van die staaldeur.

“Is ekke,” antwoord hy vinnig. “Ekke, Waanie.”

“Jirre,” antwoord die stem. “Waanie? Is jy dan noggie vrek nie?”

“Dis nie nou tyd vir jokes nie,” antwoord Waanie haastig. “Die gattas is hier in die omtes en–”

Die staaldeur swaai oop en ’n hand trek hom na binne.

Inderhaas word die deur weer gesluit.

“Jy is mos lus vir daredevil speel,” antwoord nie man.

“Sorry, Koppe,” sê Waanie, “but ek is in die nood.”

Koppe betrag Waanie op en af.

Waanie vermy sy oë. Ná al die jare kan hy steeds nie gewoond raak aan al die tattoos in Koppe se gesig nie. Dit moes ál die ink in die wêreld gevat het om sy gesig so te laat lyk, dink hy.

Waanie haal die geld wat hy vroeër by Denzil gekry het uit sy sak en hou dit na Koppe toe uit.

“Ek soek ’n bottel cheap brandy, asseblief.”

Koppe snork hard. “Hoe weet ek jy werk nie saam met die gattas nie? En besides, is jy bef*k in jou kop?

“In hierdie tyd van lockdown kos drank nie meer cheap nie.

“Wat dink jy moet ek met daai R200 maak? My gat daarmee afvee?”

Traag haal Waanie die R100-noot ook uit sy sak.

“Dit is al wat ek het hierdie. Maar die ou wat my gestuur het, het nog baie geld.”

Koppe skud sy kop. “Hoekom waag jy dit om vir iemand anders hierheen te kom? Wat’s innit vir jou?”

Waanie trek sy skouers op.

“Ek het my redes, but daai is nie nou die point nie. Kan jy my help, Koppe?”

Koppe sug. “Ouens soos jy gaan my innie mang laat beland,” sê hy.

“But ek kan jou uithelp met ’n nippie.”

Waanie trek sy asem skerp in. “ ’n Nippie? Vir R300?”

“Wat expect jy?” vra Koppe aggressief. “Charity? Dink jy ek het vergeet van die jaar toe jy met my buttons weggehardloop het?”

“Maar ek het jou terugbetaal,” skerm Waanie.

“Eers nadat ek jou f*kk*n arm gebreek het, ja,” kap Koppe terug.

“Ek trust jou nie. Nie eens die Jirre trust jou nie. En ek wiet jy wil vir wie-ever jy drank kom koop, ’n kop aansit.

“ ’n Nippie is my final offer. Take it or leave it.”

Waanie gooi sy hande in die lug.

Dit baat nie hy gaan nou sy speelgoed uit die cot gooi nie. Om nou met Koppe te staan en stry is soos om te tender om vermoor te word.

Dit lyk nie hy gaan nou iets score uit die deal nie, maar daai nippie gaan anyway nie lank vir Dannyboy hou nie, en dan ... Dan gaan die poppe dans!

DENZIL sit op die stoep en rook. Hierdie keer rook hy nie meer klein-klein skywe nie.

Nee, hy vat diep, diep trekke. Hy kan nie glo hy het toegelaat dat Waanie hom so vir ’n pop vat nie, jinne.

’n Hond bly ’n hond, want hy moet blaf. Waanie sal altyd ’n gewetenlose uitbuiter bly. G’n wonder hy het so vinnig laat spat nadat hy die geld gehad het nie.

“En as jy so sit en eensaam lyk?” Denzil kyk gesteurd op. Waanie. Met iemand anders se Karrimor oor die skouer.

Hy wat Denzil is, sit sy kop op ’n blok dat daai Karrimor van iemand se wasgoedlyn af gegaps is.

Sonder om op ’n antwoord te wag, maak Waanie die hekkie oop en kom nader gestap. Denzil kom stadig orent.

“Stop,” sê hy kortaf. “Moenie nader kom nie. Wil jy my nog met jou virusse ook kom con?”

Waanie lyk seergemaak en haal die rugsak van sy skouer af.

“Daai is nogal ’n low blow,” antwoord hy afgehaal.

“Ek het goeie en slegte nuus. Wat wil jy eerste hoor?”

“Man, ek het nie tyd vir jou k*k nie,” antwoord Denzil.

“Ek is op vir jou stories. Dit is nie nou ’n episode van Noot vir Noot of ’n ding hierdie nie. Praat of f*kk*f.”

Waanie skud sy kop. “Om te dink ek het my lewe gaan waag,” sê hy en klik sy tong.

“Ongelukkig het my connection my ingeloop. R300 vir ’n nippie Richelieu.”

Hy hou die klein bottel brandewyn omhoog. Denzil se oë peuel amper uit sy oogkasse uit. Hy lek oor sy lippe. Waanie het nie k*k gepraat nie. Die dop is nou wel nie ’n lekker groot bottel nie, maar dis drank, drank wat hom lekker gaan laat slaap vanaand.

Die Vader weet, hy het dit nodig, want die prez het dan nou gepraat van langer ingehok word.

Hy kyk so op CNN en ander news channels en die mense praat van twee jaar by die huis.

Twee jaar? Twee f*kk*n jaar? Twee jaar sonder ’n ordentlike dop en entjies?

Dit is mos nie vir veiligheidsredes hierdie nie; dis straf hierdie.

Soos hy wat Denzil is, dinge sien, het die government sy huis in ’n Pollsmoor verander.

Hy gryp die bottel brannas uit Waanie se hande, storm die huis binne en kom oomblikke later met ’n glas en halwe bottel Coke na buite.

“Worry die man nie van ys nie?” vra Waanie laggend.

“Sien jy of Alaska se mense van ’n snoek-en-chips parcel worry?” kap Denzil terug en gooi vir hom ’n stywe dop.

Hy down dit in een sluk, sug behaaglik en vee sy mond met die agterkant van sy hand af.

“So moet die lewe mos smaak,” sê Denzil. Hy is skielik vriendeliker met Waanie.

“Ek het gedog jy gaan my ’n kop aansit,” sê Denzil. “Veral toe Noami sê jy praat k*k, jy het nie ’n goose of ’n laitie nie.”

Waanie raak wasbleek in die gesig en trippel ongemaklik op een spot rond.

“Issie waar nie,” skerm hy. “Ek het nie gelieg nie.

“But ek het nog goeie nuus: Ek het ’n beter connection wat meer dop en entjies verkoop.

“Ek mean maar, ek hoor die mense praat van ons gat tien jaar by die huis sit. Tien jaar sonder dop?”

Diep in sy hart weet Denzil Waanie praat stront. Maar diep in sy hart wonder hy ook of hierdie 21 dae nie 21 jaar sonder drank kan beteken nie. Hy skink vir hom nog ’n dop en draai dan na Waanie. Sy mind is opgemaak.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters