Verlede maand
Ty sukkel om hom in toom te hou so naby mooie Layla
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met NICOLETTE FOULDIEN se heerlike verhaal “Layla en die Drug Dealer”. Geniet nou hoofstuk 9.

TY SE motor staan langs die rugbyveld geparkeer en musiek blêr hard uit die luidsprekers.

Timmie is besig om die braaivleisvuur met kurkdroë wingerdstompies te stook en Troubles lê langs die twee susters op ’n kombers wat hulle op die grasperk langs die kar se skadu oop gegooi het.

Ty sluit sy oë wat agter sy ontwerpersonbril skuil en leun terug teen die motorsitplek. Hy skuif vinnig regop toe hy in die truspieël kyk en die figuur van Layla, haar vriendin en Timmie se meisie van gisteraand gewaar.

Hy het gehoop sy kom.

Layla probeer die skielik opwelling van opwinding in haar binneste in toom hou, maar sak skynbaar ongeërg langs die ander op die oopgespreide kombers neer. Die lang, seningrige ou by die vuur beloer haar deur skrefiesoë en sit dadelik die braairooster neer toe sy Troubles se uitgestrekte hand neem.

Laasgenoemde kyk diep in haar oë en sy trek haar hand ongemaklik uit syne toe dit nie lyk asof hy dit weer wil los nie. Die lang man met die gelerige kleur en fyn gelaatstrekke is meteens by hulle en rank oor haar.

“Ai, jai, jai! Wat het ons hier? Hallo, engel, ek is Timmie.”

Layla skud Troubles se onwillige hand los uit hare en neem Timmie se aangebode een. “Layla,” is al wat sy skor uitkry en is skielik weer spyt dat sy na haar vriendin geluister het. Pleks dat sy maar in die kamer bly lê het.

Dié mans is vreemd en anders as waaraan sy gewoond is. ’n Skadu skuif oor hulle en Timmie se hand gly los uit hare.

Timmie kyk vies na Ty, wat hom wegdruk en dan ook oor Layla buig.

Layla glimlag stram en kyk ongemaklik na die ander wie se oë nou verbaas op hulle gerig is. “Hey, what kind hie’?” verbreek Troubles die stilte. “Wa’ en wanne’ het djulle ontmoet?”

“Nie djou biesagheid nie, my broe. Djy wiet mos ek slaapie op my pos nie,” maak Ty die verontregte man stil en sak op sy hurke langs Layla neer. Die skare begin opeens juig toe die sokkerspanne op die veld draf en Layla sien verlig hoe almal hul aandag daarheen verskuif.

Dis net Ty wat van agter sy donkerbril na haar kyk en gerusstellend glimlag.

Gou is almal in die spel vasgevang en Troubles sorg dat die meisies se glase vol bly terwyl Timmie braai.

Dis ’n vrolike spulletjie en Layla is bly om te sien dat die ander mans nie verder aandag aan haar skenk nie.

Sy kan die hitte van Ty se liggaam aanvoel en elke keer wanneer hy opgewonde beweeg, raak hul lywe aan mekaar en dit stuur rillings deur haar. Hulle praat nie, maar hy kyk kort-kort na haar en sy sweer hy kan van agter die donker brilglase alles in haar binneste sien.

Ook hoe haar hart woes klop en sy bang word dit kan enige tyd uit haar borskas spring.

Ty moet hom telkens vermaan om nie sy hand te oorspeel nie. Hy kan nie ophou om na die meisiekind teenaan hom te kyk nie. Alles aan haar bekoor hom.

Hy wens hy kon haar nader trek en haar klam lippe soen. Hy moet al sy wilskrag inspan om dit nie te doen nie.

Dit lyk nie asof die ander van die onderstrominge in sy gemoed bewus is nie. Ook maar goed so. Hy wil nie weet wat die ouens van hom sal dink nie.

As hul leier moet hy gedurig daarteen waak dat hulle ’n swak plek in sy mondering ontdek.

Hulle ken hom as ’n ongenaakbare en gewetenlose mens.

Die sokkerwedstryd is opwindend, maar Ty sukkel om daarop te konsentreer met Layla se lyf wat deurentyd aan hom raak.

Layla voel self ongemaklik en is bly vir die toenemende donkerte sodat niemand die blos op haar wange kan sien nie.

Nog nooit was sy so naby ’n man nie! Ty kyk vraend op in Layla se gesig waarop die vuur se vlamme ligstrepe trek en haar nog bekoorliker laat lyk.

Die musiek is hard en hy sukkel om te hoor wat sy sê.

Hy staan op en trek haar saam met hom ’n ent weg van die ander.

“Sorry, die musiek is so hard. Wat het jy gesê?”

“Ek gaan terug huis toe. Jammer, maar dit word laat en ek sien nie kans vir die spulletjie nie,” sê sy.

“Weet jy, ek ook nie. Kan ek saamstap?”

Hy sien haar huiwering en weet sy dink aan die vorige aand.

“Ek belowe ek sal nie aan jou raak nie.”

“Regtig,” voeg hy as nagedagte by om haar volkome gerus te stel.

Sy draai haar gesig weg van hom en dit lyk asof sy sukkel om ’n besluit te neem. “Okay.”

Ty blaas saggies sy verligting uit en neem haar aan die hand.

Hy onthou sy belofte van flussies om nie aan haar te raak nie maar dit lyk nie asof sy tans omgee nie en die donker sluk hulle in voordat die ander agterkom hulle is weg.

“Jy is nie gewoond aan dronk mense nie, nè?” verbreek Ty die stilte toe hulle die teerpad haal.

“Nee, nie eintlik nie. My pa is ’n pastoor en ek het maar kerklik grootgeword.” Sy bly skaam stil.

“Nou verstaan ek! Hoekom het jy my nie vroeër gesê nie? Dit moes vir jou aaklig gewees het om die heeltyd na daai jongens se vuil taal te luister.”

Hy klink boetvaardig en sy keer haastig.

“Ag, dis nie regtig so erg nie. Ek lewe darem nie só geïsoleerd nie.

“Ek het net genoeg vir een dag gehad. Ek dink dis beter dat ek my nou uit die voete maak voordat dit erger word.”

“Jy is ’n slim meisie,” vlei hy.

Sy voel ’n blos na haar wange versprei. Hulle is byna te gou by die huis en toe hulle voor die hekkie gaan stilstaan, weet nie een wat om volgende te doen of te sê nie.

Dis Layla wat eerste praat. “Dankie vir die saamstap.”

Ty wens hy kon die oomblik uitrek, maar hy weet hy durf nie.

“Niks te danke. Die plesier is myne. Sien ek jou weer?”

Hy vou albei haar hande in syne en kyk af in haar donker oë. “Ja, seker, Ty ... Goeienag.”

“Goeienag, Layla, lekker slaap.” Haar hande gly uit syne.

Ty staar lank na die toe deur voordat hy omdraai en op sy hurke onder die bome oorkant die huis gaan sit. Sy oë volg elke beweging van Layla in die verligte huis.

Die kamerlig flikker aan en hy kyk skaamteloos toe hoe sy haar rok oor haar kop lig. Sy hart klop woes in sy binneste, ’n ongemak­like krieweling in sy lende.

Hy moet sy verbeelding inspan om haar naakte liggaam op te tower. Die lig gaan dood en doof alle verdere beelde uit. Hy blaas ’n dik wolk rook hard uit, soos iemand wat te lank sy asem opgehou het, en staan tydsaam op.

Hy slaan teen die boom water af in die hoop dat dit verligting sal bring vir sy klipharde ereksie.

Dit tyd dat hy sy strategie tot die fynste besonderhede uitwerk.

Al is dit die laaste ding wat hy op aarde doen, maar die liefste Layla gaan hy syne maak.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters