15 dae gelede
Toskane probeer die manne met sy bloedgeld omkoop
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Brian en sy makkers lê weer besoek af by ’n hele paar gemorste op die Kaapse Vlakte. Hulle aanvalle is soos die vorige kere die hoofnuus. Die manne besluit om ’n rukkie laag te lê. Die sosiale media gons behoorlik. Talle inwoners van bendegeteisterde gebiede nooi die manne om ook daar ’n draai te maak. Maar ander stem nie saam met die groepie se optrede nie. Geniet hoofstuk 9 van “Die Groot Vyf” van SALMON SMITH.

’N POLISIEVOERTUIG trek voor Toskane se huis op net toe Die Groot Vyf op die punt is om met dié groot bendeleier af te reken.

Almal se koppe ruk na die groot kamervenster wat op die straat afkyk.

’n Stilte daal in die kamer neer terwyl hulle kyk hoe die twee polisiemanne uit die voertuig klim en na die metaalhek loop.

Brian druk vinnig ’n vuurwapen teen Toskane se kop.

“As jy ’n geluid maak, dan is jy sat!” sis hy.

Die dikding se oë rek pieringgroot. Sy hart klop hoog in sy keel.

Hy besef dat hy nou in k*kstraat is, want hy het ’n week gelede in Son gelees van vyf gemaskerde mans wat ’n skrikbewind onder bendelede en misdadigers op die Kaapse Vlakte voer.

“D-dis net s-sersant De Brugge en konstabel Voetpad wat hulle geld kom optel!” kreun Toskane.

’n Spiertjie spring in Brian se regteroog – iets wat gereeld gebeur as hy hewig ontsteld is.

“So, jy het korrupte cops ook in jou mag, nè?” spoeg hy dit uit.

Hy klem sy hande in vuiste saam. Hy haat korrupte polisiemanne.

Dit is húlle wat verhoed dat reg en geregtigheid seëvier en die gangsters hier en oral dink hulle is untouchable.

Hy kyk na Samuel Geduldt en Henry Maarman.

“Boeta S en Boeta H, gaan raak ontslae van daardie twee vuilgatte daar onder. Lok hulle eers in die jaart in en reken met hulle af!”

Sy stem is yskoud en sy oë agter die balaklawa is sulke donker poele. Toe Samuel en Henry na onder verdwyn, spits Brian al sy aandag op Toskane toe.

“Oukei, my twee manne gaan sommer gou daai sakie daar onder uitsort terwyl ons hier met jou gaan afreken.”

Toskane se bors dein op en af. Dit lyk asof sy keel van benoudgeid wil toetrek.

“W-wat wil julle hê, Menere? E-ek het ’n klomp geld daar in my kluis!” stotter hy vreesbevange.

Brian slaan Toskane ’n helse hou met die baseball bat oor sy neus dat die bloed so spat.

“Ons soek nie jou bloedgeld nie, jou gemors! Ons is hier om jou te laat boet vir die bendegeweld hier in Avonwood waarvan jý die oorsaak is.

“Die AmaF*ck Up gang se paaie loop vanaand net hier dood.

“Ons, Die Groot Vyf, gaan sorg dat daar weer orde in ons gemeenskappe is! Ons het oorlog verklaar teen julle gespuis en gaan julle een vir een uitroei!”

Met dié woorde stuur elkeen ’n koeël­ deur die groot bendeleier se brein en verlos Avonwood se gemeenskap van nog ’n nuttelose etter.

DIESELFDE aand slaan die Groot Vyf by nog sewe dwelm- en bende- hot spots in Elsiesrivier, Bishop Lavis, Bonteheuwel, Manenberg en Lavender­ Hill toe.

Toe die son sy kop daar ver bokant die Bolandse berge uitsteek, is die lede van Die Groot Vyf reeds elk in hulle onderskeie wegkruipplekke. Hulle kombi is diep weggesteek in ’n ou, bouval­lige fabriek in Epping Industria.

DIE volgende oggend, ná Die Groot Vyf se middernagtelike besoeke, basuin elke koerant die omvang van dié besoeke teen die lamppale uit.

“Groot gang bosses val”, “Vigilantegroep weer doenig op Kaapse Vlakte” en “Bendes lewe in vrees,” is van die opskrifte wat teen lamppale pryk.

Brian en Johnny sit weer soos gewoonlik in hulle shack in die Maitland-begraafplaas.

Hulle oë is op die klein televisiestel op die kas in die hoek. Hulle aanvalle op dwelm- en bende- hot spots is hoofnuus.

Verskillende tonele in Elsies­rivier, Bonteheuwel en Manenberg verskyn op die skerm. Hulle herken Toskane se huis in Norwood.

Hulle sien hoe dit wemel van polisiemanne daar en hoe die liggaam van die groot bendeleier onder ’n wit laken op ’n stretcher­ gekarwei word.

“Dít is een van die vele tonele op die Kaapse Vlakte wat inwoners gisteroggend begroet het,” begin ’n vroulike verslaggewer oor die gebeure verslag doen.

“Dit wil voorkom asof dieselfde vigilante groepie van vroeër weer bedrywig is op die Kaapse Vlakte en dié keer vermeende bendeleiers teiken. Dieselfde groep word ook verbind word met voorvalle meer as ’n week terug waar bendelede op straathoeke aangeval is.

“Die motief vir die aanvalle is nog onbekend. Twee polisiebeamptes het ook in ’n moontlike skermutseling met die groep hulle lewe in Elsiesrivier verloor.

“Volgens die polisie doen hulle alles in hulle vermoë doen om agter die kap van die byl te kom ...”

IN DIE twee weke daarna hou Die Groot Vyf hulle klein.

Op sosialemedia-platforms woed hewige debatte tussen mense wat Die Groot Vyf se optrede goedpraat en dié wat hulle daarteen uitspreek.

“Ons is al gatvol van die gangsters se k*k. Dis reg dat iemand húlle ’n slag uitroei.”

“Dis reg dat die druglords en bendeleiers op ’n streep vrek. Hulle vernietig ons gemeenskappe.”

“Kom asseblief hier na Avian Park in Worcester en maak ’n bietjie nag onder die JCYs,” is van die kommentaar in Son van diegene wat die slagting goedkeur.

Van die kommentaar daarteen is: “Ja, om eie reg te gebruik is ook nie die antwoord nie. Julle kan nie verkeerd met verkeerd regmaak nie.

“Julle gaan almal hel toe!”

Die saak geniet aandag van die hoogste gesag in die land. ’n Nasionale taakspan word op die been gebring om die voorvalle te ondersoek en direk aan die president verslag te doen.

DIS twee weke later. Die Groot Vyf vergader een aand laat op hulle geheime bymekaarkomplek in Epping. Brian se oë is yskoud.

“Ons het ons sover goed van ons taak gekwyt, manne!” sê hy.

“Ons wraak is soet. Maar dis net die begin.

“Ons gaan nog die regering en gangsters wys dat ons nie op ons laat trap nie.”

Skielik verhard Brian se gesig. “Daar is eers ’n persoonlike sakie waaraan ek aandag moet gee.

“Ek skuld iemand ’n besoek – daardie gangster-gemors wat my dogter verkrag en haar dood veroorsaak het. Die wetter wat mý toe vir miljoene gesue het oor ek hom verlam geskiet het ...

“Hy moet boet vir sy dade!”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters