Verlede maand
Toe Waanie sy vis wil inkatrol, duik ’n groot catch op
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Denzil is verras toe Waanie wel sy belofte nakom. Dis nou nadat sy vrou, Naomi, hom reg gesê het Waanie is ’n liegbek sonder kind of kraai. Toe Denzil lekker getrek raak van sy dop, skimp Waanie hy het ’n connection waar Denzil nóg drank kan kry. Geniet hoofstuk 6 van ELDRIDGE JASON se verhaal “21 Dae”.

‘EK SIEN ons gaan nog tot die einde van die maand in lockdown wees,” sê Waanie aan Denzil. “Dit is nou nie meer net 21 dae nie.”

Denzil vat nog ’n sluk van sy dop en breek dan onbeskaamd wind op. Die dop begin kick. Hy begin nou lekker invincible voel.

“Cyril moenie kom met sy k*k nie,” antwoord Denzil en hik. “Ek is nie ’n kleintjie wat hy hier by die huis kan hou nie.

“Ek staan in niemand se naughty corner nie.”

“Sê ek ook mos,” plak Waanie stamps op.

“Wat moet ’n man drink? Wat moet ’n man rook?

“Ek sien die mense innie Plain en Elsies gaan shop sommer self vir hulle ’n dop. Sonne’ geld.”

Denzil hik en gooi nog ’n dop van die nippie brannas, wat nou veels te vinnig na sy sin sak.

Waanie merk dit ook op. Hy skuif nader aan Denzil. Social distancing bestaan sedert die eerste paar glase brandewyn lankal nie meer tussen die twee nie.

“As jy my R3 000 gee, kry ek vir jou stock entjies en dop wat jou ’n hele paar maande kan hou.

“Ek het ’n lyn met ouens wat by die drankwinkels ingebreek het.”

Denzil breek onbeskaamd wind op. “Nou hoekom het jy nie lankal so gesê nie?” vra hy.

“Hoekom loop koop jy vir my hierdie klein k*ntjie-botteltjie as ek nou met ’n hele shipment kon gesit het?”

Waanie trek sy skouers op. “Ek was nie seker of jy my sou trust nie, sien die man?

“Niemand wil my mos glo as ek sê ek kan ook ’n way maak nie. En verder weet ek mos nie of jy die geld het nie. R3 000 is mos ook nie R300 nie.”

Denzil hik weer. “Net voor die lockdown het ek my 20-jaar-ser­vice-geld gekry en geld getrek om by die huis te hou. Aan die einde van die maand bepak die Sassa-mense mos die ATMs. Dan smaak ’n man nie om in daai lyne te gaan staan nie.”

Waanie smile van skelm oor tot skelm oor. Dít het hy geweet, ja, dink hy tog te opgemaak met homself.

Denzil het hom nie daar naby sien gestaan nie, maar daai dag het hy gehoor hoe lank die ATM raas toe hy wat Denzil is geld onttrek het.

En hy wat Waanie is, het daai stacks R200-note gesien wat Denzil in sy sak geprop het.

“Sal daai lyn van jou vandag nog my dop kan deliver?” vra Denzil. Hy lyk nou al skeel van lekker gesuip kan trek.

“Maar natuurlik,” antwoord Waanie vinnig. “My lyn is oop by Koppe.”

“Koppe, die skelm gangster?” vra Denzil agterdogtig.

“Nee, nee, hy het sy dinge laat staan,” skerm Waanie vir ’n vale. “Hy is nou broer Koppe.

“Die kerkbroers hier in ons pad is dan klaar skelm. En ’n eks-gangster wat nou ’n kerkbroer is, is mos dan ekstra-skelm,” sê Denzil.

Hy vryf oor sy baard en meet die bietjie brandewyn wat in die nippie is met sy oë. In sy kop calculate die getal geldnote wat hy gesaaf het ver weg van waar Naomi dit kan kry.

Goed in wiskunde was hy nog nooit. Maar hy weet die vierkantswortel van R3 000 is al die wortels wat in daai vierkant groei.

Waanie hou sy asem angstig op. Hy kan sien sy plan is aan die vou. Dit lyk nie of Denzil sluk aan sy broer Koppe-liegstorie nie.

Hy wat Waanie is, kan nie afford dat Denzil second thoughts begin te kry nie.

“Ek hoor die plan is dat ons eers Septembermaand uit lockdown gaan kom,” speel Waanie sy troefkaart.

“Waar hoor jy sulke stront?” vra Denzil kras.

“Don’t kill the messenger,” antwoord Waanie en hou sy hande voor hom. “Maar dink mooi oor dit: Die mense in Europa en Amerika sterf so baie, want dis nog winter by hulle.

“Hier het ons nog nie eens winter gehad nie, so die ergste storm wag nog op ons.

“Maak dit ook nie vir jou sin nie? Ek mean maar, wie se lewer en longe sal dit so lank kan hou?”

“En waar kom jy aan al hierdie dinge?” vra Denzil agterdogtig. “Jy wat gewoonlik nie eens weet watter tyd van die dag dit is nie, weet darem nou baie.”

Waanie trek sy skouers op.

“My girlfriend kyk baie TV en–”

Waanie bly meteens stil en byt op sy lip. Hy het sopas met sy voet in beesstront getrap, besef hy angstig.

“Hierdie girlfriend, h’m ... Bring haar hier dat ek haar kan ontmoet.”

Waanie se mind werk oortyd. Hy is in ’n hoek, besef hy maar alte goed. Daar is nie ’n manier dat Denzil daai R3 000 vir hom gaan gee sonder dat hy sy girlfriend ontmoet het nie.

’n Girlfriend wat nie eens bestaan nie. Hy kan ’n verskoning uitdink dat hierdie meisie slaap of na hul siek baby kyk, maar dan sal Denzil wil saamstap huis toe om te sien of die meisie daar is.

Waanie staan vinnig op. Hy het nou te ver met sy plan gekom dat die een of ander fake girlfriend sy dinge in die wiele ry.

“Ek gaan haar haal en haar na jou toe bring,” sê Waanie en stap hekkie se kant toe.

“Moenie lank maak nie,” skree Denzil agterna.

“Die son trek water en ek smaak nie water drink nie.”

Waanie loop van smokkie tot smokkie op soek na ’n goose wat hy in sy scheme kan gebruik.

Maar met dié dat al wat ’n tavern is tydens die lockdown gesluit is, is daar g’n dronk siel in sig nie.

Waar is die dronkies wanneer ’n mens hulle nodig het? wonder Waanie desperaat.

Dan, so asof die duiwel ook soms na sy kinders omsien, gewaar hy Cynthia die pad af gestap kom.

Cynthia is Bloekomlaan se resident-tikkop. Soms noem mense dit Doekomlaan, want mense pleeg die wonderlikste misdade, maar dan tol hul saak in die hof. Maar daai is ’n storie vir ’n ander dag.

Vir nou is hy wat Waanie is bly om Cynthia te sien, want Cynthia doen alles vir ’n tik-lollie se ware.

Soos in alles. Eenkeer het Cynthia glad vir haar ’n rêrige werk gaan soek – net om geld vir ’n sakkie tik te kan score. Ongelukkig wou niemand haar werk gee nie, want Cynthia gaan nêrens sonder daai swart doekie op haar kop nie.

“Cynthia, Cynthiaaaa!” roep Waanie en swaai sy arms woes.

Toe Cynthia by hom kom, kyk sy hom met nou ogies aan. Hy wat Waanie is, het gehoor Cynthia het daai nou ogies omdat haar ma destyds by die docks gewerk het.

“Ek het ’n proposal vir jou. En hier praat ek nie nou van trou nie.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters