Verlede maand
Timmy try almal oorreed alle paaie moet plaas toe lei
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met Nicolette Fouldien se heerlike verhaal “Layla en die Drug Dealer”. Geniet nou hoofstuk 2.

DIS egter nie net Tyrone Brown se geld en goed wat hom sy vriende se meerdere maak nie.

Hy is buitengewoon intelligent en sy skerp brein het al dikwels gesorg dat hulle uit penaries kom. Hy is die denker onder hulle.

In die tronk het die paroolraad en maatskaplike werkers hom dikwels geprys oor sy buitengewone verstandelike vermoëns. Hulle het hom gedurig probeer motiveer om dit buite in die samelewing ten goede aan te wend.

Hy weet hy is vir beter bestem en eendag sal hy nog probeer, maar nou wil hy net die lewe geniet. Dít wat so mildelik na sy kant toe kom, wil hy met al twee hande aangryp. Hy het te veel in die lewe misgeloop.

Hy kan byna nie glo dat hy so dom was om al die dinge aan te vang wat hom in die gevangenis laat beland het nie.

Daar was soveel ander maniere. Maar vir alles is daar seker ’n eerste keer. ’n Mens moet leer uit jou foute. En hy het.

Dis hoekom hy vriende het. Hulle is meer as bereid om van sy dade op hulle te vat.

Dit het hulle die afgelope vyf jaar aan hom bewys. Was dit nie vir hulle nie, sou hy vir seker nou nog in die gevangenis gesit het.

Soms hinder dit hom net dat hulle so dom en van hom afhanklik is. Timmy woon by sy ouma, Troubles by sy ma. Teddy is al een tussen hulle wat getroud is en twee kinders het.

Nie dat dit so lyk nie. Hy bring die meeste van sy tyd by sy vriende deur.

Hoe sy vrou dit uithou met ’n willie-werker-tronkvoël wat daagliks met sy vriende rondrits en dagga rook, weet Tyrone nie.

Troubles het drie kinders by verskillende meisies, maar nie een het hom al probeer dagvaar vir onderhoud nie.

Húlle onderhou hóm liewer. Timmy het ook onlangs een van sy vele meisies swanger gemaak, maar hy loer klaar weer rond vir ’n nuwe stukkie.

Ty blameer sy vriende nie. Dis hoe die lewe is. Alle gangsters doen dié soort dinge.

Dis die norm, en wie is húlle om anders te wees?

Hy het self ’n tienjarige seun by sy ou skoolliefde, Linda, met wie hy destyds in ’n verhouding was. Vanweë sy aanhouding in tronke het die verhouding skipbreuk gely. Hy is jammer dat hy oor al die jare nie regtig ’n band met sy seun kon vorm nie. Maar dis maar hoe dit is.

Linda-hulle het al jare gelede uit die dorp verhuis en hy sien Conner slegs as hy die dag besluit om hulle in die Kaap te gaan besoek, wat maar bitter min is.

Haar ouers se gedrag teenoor hom is ook nie bevorderlik vir ’n verhouding tussen hulle nie.

Hulle blameer hom dat hul dogter op so ’n jong ouderdom swanger geword het en haar skoolloopbaan daarmee heen is.

Hulle verloor gerieflik uit die oog dat Linda in daardie stadium glad nie so onskuldig was nie en openlik agter hom aangeloop het.

Maar nou wil hy net vorentoe kyk. Een van die dae gaan hy al sy vriende ook agter los.

Hy sien vir hom ’n blink toekoms. Hy wil in sy pa se voetspore volg. Hy wil egter nóg beter wees.

Magtig. Dis wat hy wil wees. Dis vir hom lekker as mense so na hom opkyk, soos sy vriende nou doen. Hy het klaar ’n visie.

Hy wil ook eendag hotelle besit. Maar nie sommer net hotelle nie.

Hy wil plekke hê wat mense lok. Pubs, klubs, bars. Plekke waarheen mense kan kom om hulle te geniet en waar hulle na hartelus geld kan spandeer. Dis ’n droom wat hy binne die volgende twee jaar bewaarheid wil sien. Oor twee jaar is hy 30 en dan wil hy sy eerste miljoen hê. Kom wat wil.

“Nei, my broe, ek’s serious. Ma’ djulle moet dit self sien. Dissie nog ’n plaas soes in plaas nie.”

Almal kyk Timmy uitdrukkingloos aan. Ná die rukkie stilte wat geheers het, het Teddy al vergeet waaroor die gesprek gaan. Hy krap met ’n gebreekte vuurhoutjie van die vullis onder sy naels uit om sy onkunde te verberg.

“Nou wat dink djy moet ons op ’n f*kk*n plaas ga’ maak?” kom dit van Troubles, wat steeds roerloos op die bank lê.

“My broe, as djulle wil uitmis, issit djulle saak.

“Ek het da’ grootgeword en ek sê vi’ djulle da’ issie ’n bietere plek om in die tyd vannie lockdown te wiesie.”

“... op ’n plaas?” vra Troubles en maak darem dié keer sy een oog op ’n skrefie oop om te wys hoe vergesog hy die stelling vind.

“Ja, my broe. Da’ is dinge nog soes normal. Nie soes hie’ wa’ o’s heletyd innie f*kk*n huis moet sittie. Saterdae speel die ouens sokker en die kinnes netball en dan moet jy die talent check!”

“Ag f*k, Timmy! Djy dink net aan f*kk*n toet?” gooi Teddy ’n stuiwer in die armbeurs.

“Nou wa’an dink djulle dan?” Timmy klink byna verbaas. Dié keer bars Troubles uit van die lag. Hy beur stadig uit sy lêende posisie orent.

“Kykie, my broe, ko’ ons kry die ding straight. Djy wil hê ons moet vi’ twee wieke plaas toe ga’ om netball-toeties te ga’ check? Nou wa’ ga’ ons duck en wie sê die boer soek ons tipe da’?

“Het djy al gehoor vannie AWB, my broe? En wat as die rooinek dink ons ko’ sy skape steel?

“Wiet djy hoe lank kry djy vi’ skaap steel? Meerdere as f*kk*n moord!”

Timmy kyk Troubles kopskuddend aan. “Hoeveel keer moet ek nog vir djou sê? Dissie ’n plaas soos djy dink nie. Dis ’n vrugteplaas en daar bly meer as 20 huisgesinne.

“Daar’s ’n laerskool, ’n winkel, ’n kerk, ’n danssaal en ’n pub.”

“Allie kinnes wat in die dorpskoshuise bly, het terug plaas toe geko’.

“En dis net die regte tyd om contacts te kry vi’ ons besigheid. Die merts soek almal entjies, drank, dagga, Mandrax en tik.

“Hulle sukkel om goed vannie dorp af te kry, want die boere check hulle uit as hulle oppie plaaslorrie klim. Toe, wat sê djy, Ty?”

Almal se koppe draai nou in Tyrone se rigting. Dié neem rustig diep teue van die slowboat.

“Ek hoor djou, my broe. O’s het f*kk*l om te dala nie, so ons ka’ ma na djou plaas ga’ kyk. Ek wil net wiet wa’ gat ons slaap en as da’ ienagge kak gebeur, gooi ons ’n lange.”

Timmy kyk die ander selfvoldaan en met ’n breë smaail aan.

“Ek het alles kla gereël, my broe. Ons ga by my niggie aftrek. Sy en ha’ twee kinnes bly alleen in ’n moerse groot joint. Badkamer en alles.

“Djulle hoefie nog te worrie nie, da’ is genoeg dite, ma’, Ty, djy sal sieke moet sorg dat ons genoeg shipment virrie twie wieke het?”

Ty sê: “Okay, ek sal kyk wat ek kan dala.

“Sort djulle eie dinge uit en lat wiet my hoe laat ons ry.

“Nou moet djulle line, ek wil my outoppie foun.”

Almal gee Tyrone om die beurt ’n stewige handdruk voordat hulle laat los en met ’n harde “hosh” met ’n uitgestrekte duim en wysvinger teen hul bors druk en dan in gelid by die deur uitdrentel.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters