2 maande gelede
Tien taakmaglede betree die lab van prof. Von Brauwn
 ~ 

HALLO daar, Sonlanders! Bonga die Tokko-Man: Die Staatsgreep is die opvolg ná Interdimensionele Oorlog uit die pen van SALMON SMITH. Lees vandag die eerste hoofstuk!

TIEN swaar gewapende lede van die polisie se spesiale taakmag bestorm die Admiraal Piet Naudé-gebou op die Wingfield-vlootbasis in Goodwood ...

Dit is die gebou wat die laboratorium en kantoor van prof. Tony von Brauwn huisves.

Prof. Von Brauwn was die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se wetenskaplike wat die oorsaak was vir die Interdimensionele Oorlog wat twee weke gelede hier in die Kaap gewoed het.

As gevolg van sy onwettige breinkind, projek Open Door, het hy en sy span wetenskaplikes ’n portal in die Kaap oopgemaak en só toegang geskep vir akkedisagtige gedrogte uit die ander dimensie.

Die Ozarki’s, soos die gedrogte bekend staan, het groot skade aan infrastruktuur – van die Kaap tot so ver as die Weskus en die Boland – aangerig en die lewensverlies is voorlopig oor die 5 000 geskat.

Genl. Sithole, hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, sal nou aan ’n kommissie van ondersoek oor die krisis antwoorde moet verskaf.

En daar is ’n lasbrief uitgereik vir die arrestasie van prof. Von Brauwn en sy span.

Die span speurders van die Valke wat die arrestasie vroeg vanoggend moes uitvoer, is net missing.

Dít is hoekom die taakmag ingeroep is ...

En nou penetreer hulle die Admiraal Piet Naudé-gebou.

Hulle beweeg suutjies en takties deur die voorste gedeelte van die gebou.

Hulle gewere is doelgerig voor hulle uitgestrek, met hulle vingers slaggereed op die snellers.

Hulle loer vlugtig by elke vertrek in. Die gebou is oënskynlik verlate. Daar is geen siel in sig nie.

Hulle beweeg stadig in ’n lang gang af.

Skielik stop die leier van die taakspan vierkant in sy spore.

Hy maak ’n vuis en steek dit in die lug op – ’n teken dat die ander manne agter hom tot stilstand moet kom.

Hy maak ’n handgebaar wat beteken dat hy nou ’n geluid gehoor het en wys ernstig na die groot dubbeldeure aan die einde van die gang.

Hy beduie dat hulle stadig vorentoe moet beweeg.

Hy gaan staan voor die deure en beduie aan een van sy kollegas om langs hom in te val.

Toe hou hy drie van sy vingers in die lug ...

Met die ander arm hou hy sy geweer slaggereed voor hom met die kolf teen die skouer vasgedruk.

Toe begin hy met sy vingers aftel ... Drie ... Twee ... Een!

Gelyk trap hy en sy kollega langs hom die dubbeldeure oop en die hele groep storm by die vertrek in.

Met een oog deur die geweer se visier en die ander oog oop, fynkam elkeen die groot vertrek. Dit lyk soos die laboratorium waarin prof. Von Brauwn sy onderduimse werke gedoen het.

Oral staan groot proefbuise, glastenke met kadawers van diere wat in ’n vloeistof ronddryf.

Staaltafels, groot leë metaalhokke en rekenaars staan in die een helfte van die vertrek.

’n Geluid vanuit die verste hoek vang hulle ore.

Vinnig beweeg hulle in ’n gevegsformasie daarheen.

Hulle stop dood in hulle spore toe hulle die toneel voor hulle sien.

Die vyf speurders van die Valke lê daar in die hoekie op die vloer met hulle voete en hande stewig agter hulle rug vasgebind.

Om hulle mond is vuil lappe gebind om te verhoed dat hulle enige geluide kan maak.

Hulle oë is pieringgroot en hulle probeer opgewonde iets aan die taakmagspan verduidelik, terwyl hulle woes met die koppe in ’n rigting beduie.

Die lappe om hulle mond demp egter wat hulle wil sê.

Een van die taakmaglede pluk vinnig ’n lap van een ou se mond af. Die lap is skaars af en die speurder gaan gal af: “Bom! Bom! Dit gaan ontplof!”

Almal se koppe ruk in die rigting waarheen die man beduie.

Hulle oë rek pieringgroot toe hulle die groot, elektroniese bom sien wat daar in die een hoek aan ’n groot gastenk vasgemaak is.

Dis tóé dat hulle snap wat hier aan die gang is – prof. Von Brauwn en sy span wetenskaplikes het die speurders, wat hulle hier moes kom arresteer, oorval en vasgebind.

En toe het hulle dié lokval gestel vir enige een wat hier sou kom opvolg. En hulle het toe mooi netjies daarin getrap.

Vasgenael staar hulle na die rooi digitale syfers wat stadig die laaste drie sekondes aftel.

Die slag van die bom dawer deur die gebied en blaas ruite van huise en geboue in die nabygeleë woongebiede uit.

Die blomkoolvormige vuurbol kan van ver gesien word en die trillings kan tot sover as Bellville gevoel word.

Daardie aand word die televisienuus oorheers deur die gebeure rondom die ontploffing.

Beeldmateriaal van die verwoeste weermagbasis en liggame in wit bodybags word gebeeldsend.

“Vroeër vanmiddag het tien taakmaglede en vyf speurders van die Valke met hulle lewe geboet toe ’n tuisgemaakte bom in ’n gebou op die Wingfield-vlootbasis in Goodwood ontplof het,” lewer die nuusberiggewer op die toneel verslag.

“Die lede van dié gespesialiseerde eenhede was binne-in die Admiraal Piet Naudé-gebou vir die doel om die wetenskaplike prof. Tony Von Brauwn te arresteer vir sy aandeel aan die vernietigende Interdimensionele Oorlog hier in die Kaap.

“Dit wil voorkom asof die lede reg in ’n lokval gestap het.

“Dit was ’n lokval wat vermoedelik deur prof. Von Brauwn gestel is.

“Prof. Von Brauwn en sy span is in dié stadium op vrye voet en die voortvlugtiges word beskou as uiters gevaarlik.”

BONGA Mvikeli, die Tokko-Man, sit in die voorkamer van ’n netjiese huis in Bethlehem in die Oos-Vrystaat.

Die huis behoort aan sy ma se niggie Ruth Mvikeli en dit is hier waar hy en sy ma, Nunu, tydelik bly totdat die stof gaan lê het ná die verwoestende oorlog daar in die Kaap.

Hulle huis in Khayelitsha is ook deur die Ozarki’s verwoes en nou moet die regering met ’n plan vorendag kom hoe daar vir die skade vergoed gaan word.

En nou kook dit hier binne in hom oor die nuus dat prof. Von Brauwn ontsnap het.

Die Tokko-Man besef dat daardie mal wetenskaplike so gou moontlik opgespoor moet word – voordat hy dalk met nog ’n mal plan vorendag gaan kom ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters