Verlede maand
Tessa is ingenome met die visitors wat opgedaag het
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons gaan vandag voort met Nicolette Fouldien se heerlike verhaal “Layla en die Drug Dealer”. Geniet nou hoofstuk 4.

‘EN TOE? Is jy al spyt dat jy saamgekom het?” Menta loer grootoog na Layla.

“Nee ... maar jy skuld my oor jy my anders laat glo het.

“Ek het regtig nooit in my wildste drome kon dink dat ’n plaas só lyk nie!”

“Nou sien jy hoekom ek nie so gelukkig op Witpad is nie. Dis lekker hier, Layla.

“Net jammer die hoërskool is so ver hiervandaan en ek sien regtig nie kans vir die dorpskoshuis nie.

“Kom, ons gaan groet gou een van my vriendinne hier langsaan.”

Hulle is oor die lae draadheining wat die twee huise skei nog voordat Layla kan teëstribbel.

’n Lang skraal, meisie van ongeveer hulle ouderdom maak op Menta se klop die deur oop.

“Menta! My jinne, wanne’ het julle gekom?

“En hoekom whats­app jy my nie om te sê julle is hier nie?”

Hulle omhels mekaar voordat Tessa aan Layla voorgestel word.

Hulle volg haar in die huis in en gaan neem in die sitkamer op gemaklike banke plaas waar Tessa se ma haar ook by hulle aansluit.

Layla word aan antie Sue bekendgestel en sit woordeloos die drie vroue se gesprek en volg.

Die groepie deel oor en weer gemeensaamhede voordat ant Sue vra: “En gaan julle ook vanaand na die lock-out jol toe?”

“Ek sal graag wil gaan, maar ek weet nie van Layla nie,” antwoord Menta.

Almal se oë draai na Layla, wat met onbegrip terugstaar.

“Lock-out jol?” vra Layla uit die veld geslaan.

“Ja, hie’ oppie plaas laat ons nie vir o’s op lockdown sittie,” grap Tessa.

“Layla loop nie eintlik sulke plekke nie. Haar pa is ’n pastoor,” gee Menta ’n verduideliking.

“Ag nee, maar dis nou ’n jammerte.” Layla hoor die opregte spyt in ant Sue se stem.

“Maar jy kan mos maar saamkom? Dis tog net ’n gewone dans waar almal hul enjoy en vannie Covid-19-stres ontslae raak,” kom dit oortuigend van Tessa.

Layla kyk Tessa weer net woordeloos aan.

Sy weet nie wat in so ’n situasie van haar verwag word nie. Sy was nie voorbereid op danspaarties en sulke goed nie.

“Ag toe, kom nou, Layla. Jy sal dit geniet. Ek belowe,” soebat Tessa en Layla se oë soek hulp by haar vriendin.

“Weet jy wat, Layla? Ek dink dis presies wat jy nodig het.

“Jy is nie by die huis waar ieder en elk jou doen en late dophou nie. Kom ons maak vanaand ons ponytails los en dans totdat die hane kraai.

“Vanaand wil ek jou wys hoe word daar plaas-styl gepaartie,” kom dit van Menta.

Layla kan geen verweer teen die twee meisies se oorredingsvermoë vind nie en toe die antie hulle ook nog ondersteun, stem sy teen haar beterwete in.

Dis ’n warm aand en Layla besluit op ’n ligte somersrokkie met fyn skouerbandjies en bypassende sandale.

Anders as sy doen Menta oog­lopend meer moeite met haar voorkoms en Layla maak net groot oë toe sy as afronding haar lippe bloedrooi kleur.

Layla wys die lipstiffie van die hand toe dit na haar uitgehou word, maar stem tog in om haar lang, digte bos bruinrooi hare los te maak.

Sy weet dis haar beste bate en trek die borsel daardeur totdat die krulle blink oor haar skouers val.

Haar vriendin kyk haar bewonderend aan. “My goeie hel! Hier doen ek al dié moeite om my mooier as jy te laat lyk en al wat jy doen, is hare borsel en hier staan ek asvaal!

“Die lewe is darem wragtig nie fair nie!” roep Menta kamma gefrustreerd uit.

Layla glimlag net in haar rigting, te besig om haar innerlike stem stil te maak om haar nog aan haar vriendin te steur.

Nadat hulle iets geëet het, wens ant Minnie hulle ’n aangename aand toe en weer verbaas dit Layla dat die grootmense so gemaklik is met die wete dat hulle na ’n jol gaan. So asof dit alledaags en niks snaaks is nie.

As haar ouers moet weet waarheen sy nou op pad is, slag hulle haar af!

Dis juis dié soort ding waarteen hulle haar altyd waarsku. Sy wens meteens sy het tog maar nie gekom nie.

Nou kan sy nie weier om saam met haar vriendin te gaan sonder om haar sleg te laat voel nie.

Sy kan net hoop en bid dat alles goed verloop en dat sy dalk ongemerk vroeër kan wegglip.

Die danssaal is oorkant die laagwaterbruggie, net ’n entjie van die huis af en almal het haar reeds verseker dat hier geen misdaad is nie en dat dit dag en nag veilig is om rond te beweeg.

Hulle loop tot by die heining om na Tessa te roep en kyk verwonderd na die pikswart BMW wat nou in die oprit geparkeer staan. ’n Droomkar as hulle al een gesien het!

Tessa kom hulle met sterre in haar oë tegemoet gestap.

“Haai! Julle al klaar? Jong, julle sal maar solank moet gaan.

“My ma se neef, Timmy het pas hier opgedaag en julle sal nie glo watter sexy ouens hy saamgebring het nie!”

Die twee meisies kyk Tessa verbaas aan.

“Julle moet hulle net sien! Hier is so ’n oulike een met ringe en goud net waar jy kyk!

“Maar ek hou meer van die ander een. So ’n lange, met sulke blou oë. Lyk kompleet soes ’n whitey!

“Mooi!”

“Tessa, is jy van jou kop af? Jy ken nie eens die mans nie, maar jy gaan aan soos een wat klaar verlief is,” kom dit ergerlik van Menta.

“Wag totdat jy hulle sien, my tjomma. Dan praat ons weer! Maar sien julle later!”

Sy is weg nog voordat hulle iets verder kan kwytraak en Menta trek Layla vies agter haar aan na die ’n kortpad tussen die bome.

“Ag, newwermaaind! Sy’s pure bokjags!”

Layla kan nie anders as om maar net te lag vir haar verergde vriendin nie.

Op pad wys Menta na die barakke ’n hele ent weg van die werkershuise, waar die seisoenwerkers woon wat van die Oos-Kaap afkomstig is.

“Hulle is meestal mans en bietjie van ’n rowwe spulletjie, maar hulle meng nie eintlik met ons nie en hulle weet die baas sal nie huiwer om hulle weg te jaag as iets verkeerd loop nie.

“Hulle smokkel skelm met drank en dwelms en sommige van die meisies op die plaas is nogal danig met hulle.”

Layla luister geïnteresseerd.

“Jy weet, Layla, die plaas is groot en baie van die jong meisies wat skool klaarmaak en nie op die dorp werk kry nie, kom maar terug hierheen om in die pakstore en boorde te werk.

“Jy het gesien hoe gaan Tessa aan oor die mans daar by hulle?

“Nou só gaan dit elke seisoen as hier nuwe werkers kom.

“Die meisies gee nie om of dit swart, bruin of blou is nie. Solank hulle net afleiding kry.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters