25 dae gelede
Terror se koms lui ’n nag van vrees in vir die Seteras
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag verder aan die verhaal van Salmon Smith genaamd “Projek Bionies”. Geniet hoofstuk 2.

MORGAN Setera se oë verstar toe hy die groot veroordeelde sindikaatleier en vier van sy trawante in sy voorhuis sien staan.

Hy en sy gesin was so besig om reg te maak om te vlug dat hulle skoon vergeet het om die voordeur te sluit.

Nou het die gewetenlose misdadiger dit reggekry om hulle hier vas te trap voordat hulle kon wegkom.

“T-Terror Gambino …?!” hyg hy dit geskok uit terwyl hy in die skurk se wrede bakkies vaskyk.

“En waarheen dink julle gaan julle?” vra Gambino met ’n gryns­lag wat enige iemand se bloed in sy are sal laat ys.

Hy en sy vier makkers kom stadig op die vreesbevange Setera-gesin afgeloop.

“Kapt. Morgan Setera, jy het my vir jare weggebêre in daardie stink, rotbesaaide hool van ’n tronk! Nou gaan jy en jou familie boet daarvoor!” bulder hy.

“T-Terror..., l-los asseblief my gesin hieruit. H-hulle het niks aan jou gedoen nie!” stotter Setera en stoot sy vrou en dogter agter sy rug in.

Saam retireer hulle, terwyl die skurke stadig nader kom.

Setera kan die moordlus in Terror se oë sien.

Die skurk haal ’n vuurwapen met ’n silencer aan die loop geskroef onder sy blad uit.

“Jou geliefdes moet ongelukkig ook vir jou dade boet!”

Bianca en Chrystal se histeriese gille klink skielik op. Morgan se hart sink tot in sy skoene.

Hy besef dat hy drasties iets moet probeer doen om sy gesin uit dié gevaarlike situasie te red.

Hy hou ongemerk sy oog op die skakelaar van die voorkamer se ligte. As hy die ligte hier in die voorkamer kan afsit, sal dit pikdonker wees in die huis.

Dit was dus ’n goeie ding dat hy besluit het om slegs die voorhuisligte aan te los.

“E-ek het net my w-werk gedoen, Terror,” probeer hy nog ’n laaste keer.

“Ja, djóú werk het 12 jaar uit my lewe gevat!” bulder die skollie en spring woedend op en af.

Dis net die oomblik waarvoor Morgan gewag het.

Hy reik met sy een hand na die skakelaar en met die ander hand gryp hy die groot porseleinvaas langs hom vas.

Hy druk die skakelaar en dit is onmiddellik pikdonker. In dieselfde beweging swaai hy die vaas in Terror se rigting.

Hy hoor hoe dit die teiken tref en Terror ’n kragwoord uiter.

“Hardloop!” gil hy vir sy vrou en dogter en duik terselfdertyd in die rigting waar hy nog laas die groot boef gesien het. Hy moet net probeer om die skurk se vuurwapen in die hande te kry.

Maar waar Terror gestaan het, is ’n kaal kol.

Hy het nie rekening gehou met die boef se spoed nie.

Toe die vaas Terror voor die bors tref, gooi die skurk sy liggaam skuins en val teen een van sy manne. Dié help hom vinnig eenkant toe.

Setera trek deur die lug en beland op die vloer. Hy gly tot teen een van die rusbanke. ’n Pyn skiet deur sy regterskouer toe die impak sy sleutelbeen kraak.

Maar daar is nie nog tyd om oor die pyn te worry nie.

Hy moet seker maak dat sy gesin veilig is.

Hy hoor ’n geskarrel in die donker en toe gedempte skote wat opklink.

Hy verbeel hom hy hoor sy vrou se afgestompte gil. Hy wil net opvlieg toe sterk hande hom op die vloer vasdruk.

Die lig word skielik aangeskakel. Setera kyk op in die wrede gevrete van die holborsels van Terror Gambino.

Hy draai sy kop dwars om te sien of sy gesin weggekom het.

Maar toe hy die toneeltjie in die gang op die vloer sien, voel dit asof sy hart ’n slag mis.

Sy vrou lê in ’n ál groter wordende plas bloed, met dooie oë starend die niet in. Daar is ’n koeëlwond agter haar kop waaruit die bloed stroom.

Langs haar sit Chrystal met groot oë na haar ma se liggaam. en staar.

“Bianca! Nee!” weergalm Setera se gille deur die huis. Hy stoei om los te ruk, maar die vier holborsels is te sterk vir hom.

Hulle druk sy mond toe en sleep hom verby Chrystal na sy slaapkamer.

“Daddy!” gil Chrystal en probeer agter hom aankruip. Magteloos sien Setera hoe Terror Chrystal met ’n base­ball bat agter die kop slaan voordat hulle met hom by die slaapkamer in verdwyn.

Hy hoor nog hoe die dowwe houe neerreën op sy jong meisiekind totdat haar gille stil raak.

Trane stroom oor sy wange. Hy word sommerso woes op ’n houtstoel neergeplak. Sy hande word aan die stoel se armleunings vasgebind. Kleefband word oor sy mond geplak.

Terror is onmiddellik by met sy baseball bat. Met twee kragtige houe breek hy beide Setera se bene.

“Djy gaan al die pyn voel wat ek in daai stink tronk gevoel het, djou platpoot!” spoeg Terror dit uit.

Terror bring die bat op Setera se voorarms neer. Kraakgeluide klink op, wat opgevolg word met Setera se gedempte gille.

“Toe ek jou destyds wou omkoop sodat jy die dossier kan laat wegraak, toe hou djy jdou mos sterkgevriet!”

Die eks-cop voel hoe hy sy broek vuilmaak toe ’n hou hom in die ribbekas tref. Vyf minute hou die marteling aan, totdat hy bewusteloos vooroor hang.

Terror lig Setera se kop op en laat dit terugval.

Hy kyk na sy trawante.

“Ek dink ek kan hom nou uit sy lyding verlos en my soete wraak volbring!” sê hy.

Hy pluk sy vuurwapen uit, lig Setera se kop en stuur ’n koeël in die middel van sy voorkop deur.

“Steek die plek aan die brand!” beveel hy sy manskappe en verdwyn na buite.

Die holborsels sprinkel petrol in die voorkamer rond en steek dit aan die brand. Hulle spring vinnig in hul voertuie en jaag by die rustige woonbuurt uit.

Een van die bure sien die vuur en skakel onmiddellik die brandweer.

Die brandweer arriveer vinnig op die toneel, maar die vuurtonge het reeds die voorhuis met Bianca en Chrystal se liggame begin verswelg.

Dit het begin lek aan die kamer waar Setera se liggaam gebukkend in die stoel sit toe dit geblus word.

Gou-gou wemel die hele straat van polisiemanne. Ná die speurders en fotograwe word die toneel oorhandig aan die polisie se forensiese deskundiges. Bianca en Chrystal se uitgebrande liggame word vinnig in swartsakke toegezip en van die toneel verwyder.

Setera se gebreekte liggaam word in ’n lykswa gelaai.

By die Tygerberg-staatslykshuis word die twee vroue se liggame onmiddellik in yskaste gepak.

Setera se lyk word op ’n metaaltafel geplaas – gereed vir die patoloog om vroeg die volgende oggend met sy outopsie te begin.

Die lykshuispersoneel verlaat dié vleuel van die gebou. Niemand sien die donker skaduwee wat deur ’n sydeur die lykshuisgebou binnesluip nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters