16 dae gelede
Tammy se nuus klink vir L. Otto na moeilikheid
 ~ 

HAAI, Sonlanders! L. Otto slaag daarin om uit die kloue van die korrupte cops te ontsnap, maar hy’s nou ’n gemerkte man. Hy wend hom tot Tammy, sy eks-girlfriend. Sy stem traag in dat hy ’n ruk lank in haar plek kan gaan wegkruip. Die twee cops, Onvriendelik en Koekemoer, moet aan die groot boef, Die Grootbaas, please explain hoekom L. Otto weggekom het. Die Grootbaas is glad nie impressed nie en dreig dat hy hulle ’n les gaan leer. Maar sers. Onvriendelik gee hom die versekering hulle het min of meer ’n idee waar L. Otto wegkruip. Geniet nou hoofstuk 5 van ELDRIDGE JASON se verhaal Meneer L. Otto.

TOE ’n hand liggies aan sy skouer raak, wip hy van die skrik.

“Oe, jou ma se!” gil hy en vlieg orent.

Die moeder van alle pyne skiet onmiddellik deur sy lyf en hy kan nie anders as om kliphard te kreun nie.

’n Lig word aangeskakel en die skerpheid daarvan verblind hom ’n oomblik.

Dit vat ’n ruk vir hom om die beelde voor hom uit te maak.

Tammy staan voor hom, hande in die sye.

“Jy gil ook maar lekker soos ’n girl,” sê sy met ’n groot smile.

“Ek raak net aan jou en jy wil sommer aan die huil gaan.”

L. Otto vervies hom. “Jy oordryf,” antwoord hy dikbek.

“En dit is glad nie snaaks nie. Jy het my net laat skrik, dis al.”

Hy moes aan die slaap geraak het, dink hy vies.

Hy kan nie afford om aan die slaap te raak nie. Nie terwyl daar na hom gesoek word nie.

Hy het met groot moeite sy wonde versorg en dit op sy way probeer verbind.

En toe gaan lê hy op Tammy se bed, net om sy oë ’n bietjie toe te maak.

“Hoekom ruik dit soos die Tygerberg Hospitaal hier in my kamer?” onderbreek Tammy sy gedagtegang. “En is dit my T-shirt wat jy daar aanhet?”

Toe L. Otto die breë glimlag op Tammy se gesig sien, loer hy af na die pienk letters op die T-shirt.

Hy was vroeër so onder pyne dat hy nie eens die woorde opgelet het nie.

Single Girls Rock. Net so.

“Meisa, ek het nie geweet jy is single nie,” grap Tammy.

L. Otto voel hoe hy van diep uit sy nek uit warm word.

“Moenie vir jou laf hou nie, Tams,” grom hy kamma kwaad, maar bars dan uit van die lag.

Dan moet hy weer sy ribbes vasgryp as die pyn hom oorweldig.

Tammy staar hom bekommerd aan.

“Watse k*k het jy nou weer aangevang?” vra sy beskuldigend.

“Jy bly maar nou eenmaal daai luiperd wat nie sy spots wil uitlos nie.”

“Ten minste is ek nie ’n lui perd nie en try ’n living maak,” kap L. Otto terug.

“Ek kan mos nie help as die moeilikheid my nie wil uitlos nie.”

“Ja, ja, dis mos altyd nooit jou skuld nie. Alles gebeur mos oor die wêreld jou bestaan nie wil erken nie.”

L. Otto rol sy oë. “Is jy dan nou suster Tammy? Het jy jou hart vir die Here gegee om nou vir my te kom staan en preek?

“Ek het nie jou preke nodig nie, Tammy. Ek is dankbaar dat jy my hier laat oorslaap, maar moenie vergeet nie – jy het nou die dag net so kliphard k*k saam my aangevang!”

“Ten minste het ek uit my foute geleer,” kap Tammy terug.

“Ek sien jy het nie ’n kleine bietjie verander nie. Jy raak nog kwaad as ’n mens met jou praat.”

“Maar jy is mos nie my ma nie.”

Tammy se oë blits. “Ek hoef nie, maar ten minste gee ek nog om. Jou eie ma wil niks met jou te doen hê nie.

“As die mense jou sien, wil hulle jou net hande oplê en in holy water verdrink.

“Wanneer raak jy groot?

“Wanneer besef jy dat jy nie jonger raak nie en nie verder met jou dinge kan aangaan nie?

“En by the way, dis Die Grootbaas wat agter jou aan is, nè?”

L. Otto loer wantrouig na haar. “Hoe weet jy? Het jy Die Grootbaas gekontak? Tammy, die Here hoor my, as jy –”

“Relax,” val Tammy hom in die rede. “Ek sal jou nie in die steek laat soos wat jy my destyds in die steek gelaat het nie.

“Toe jy weg is, het twee ouens daar ingekom en toe hulle lekker gesuip getrek het, het ek gehoor hulle praat van Die Grootbaas.

“Ek het natuurlik gemaak asof ek nie na hulle luister nie en het ook nie laat blyk ek dra kennis van Die Grootbaas nie.”

L. Otto voel hoe sy hart vinniger begin klop. Blote toeval? Hy dink nie so nie!

Die kanse is groter dat dit môre die oordeelsdag sal wees as dat Metrorail ooit ’n diens van gehalte sal kan lewer. So, dié is nie toeval nie. Hierdie klink na moeilikheid. Op hoër graad.

“Hoe … hoe het hierdie ouens gelyk?” vra hy dringend.

Tammy trek haar skouers op. “Sulke twee f*ck*d up gattas. Die een het baie onvriendelik gelyk.

“But wat worry jy? Jy lê dan so lekker in my bed soos iemand wat daar hoort.

“Ek hoop nie jy het planne met my nie? Ek val mos lankal nie meer vir jou kaarte nie.”

Daar is ’n ernstige trek op L. Otto se gesig.

“Hierdie is nie tyd vir grappies nie, Tammy.

“Daai twee gattas ... Ek dink hulle is dieselfde twee cops wat my so lelik aangerand het.

“En ek dink nie dit was ’n coincidence dat hulle daar by jou pub was nie. Hulle weet van ons twee se connection en as hulle dit weet –”

Tammy trek haar asem skerp in. “Dan weet hulle waar ek bly,” prewel sy.

“Jislaik, hoekom het ek jou jammer gekry?” begin sy uitvaar teen L. Otto.

“Ek wil ook nie hoor nie. Almal sê jy is bad news en nou het jy daai goor characters straight na my plekkie genooi. Weet jy hoe moeilik dit is om blyplek te kry as jy ’n criminal record het?”

“Sjuut!” L. Otto hou sy vinger op sy lippe en sy ore gespits na die deur.

“Ek dink daar is iemand by jou voordeur,” fluister hy.

“Moet ek die lig afsit?” vra Tammy paniekerig.

L. Otto moet hard probeer dat hy nie sy humeur verloor nie.

“Wat gaan dit ons in die sak bring? Hulle weet mos ons is hier.”

Tammy se moer strip. “Moenie vir my kom kwaad raak nie. Is ek die een wat k*k aangevang het?”

L. Otto sug. Hy sal seker nooit vroumense verstaan nie. Selfs al word dit vir hom in ’n kompakte woordeboek uiteengesit.

Hy luister weer. Ja, hy is reg. Iemand vroetel beslis aan die voordeur.

“Wat het jy van Die Grootbaas gesteel?” vra Tammy met groot oë.

L. Otto weifel vir ’n oomblik, maar kyk haar dan straight in die oë.

“Ek het sy lewe gesteel, Tammy. Sy hele f*kk*n lewe.”

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters