Verlede maand
Sy het van kleins af geshine en sy was gou ’n ster
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons spoil julle dié week met ’n splinternuwe verhaal uit Christo Meyer se pen. Die verhaal se naam is “Ou Wonde”. Geniet nou hoofstuk 2.

‘JY MOENIE my dogter aan die wolwe uitlewer nie,” sê Shaunelia se ma op ons eerste vergadering.

“Sy is jonk en onskuldig, maar jy moenie dink jy gaan haar uitbuit nie. Jy gaan haar besprekings behartig, maar maak net seker dat sy met elke optrede die betaling kry wat haar toekom.

“Ek het navorsing oor jou gaan doen en ek is baie beïndruk met jou suksesrekord. Jy het ’n reputasie dat jy die belange van die sangers altyd eerste stel. Ek hoop dit bly so.”

Shaunelia se ma is ’n reguit mens. Sy draai nie doekies om of maak ’n moordkuil van haar hart nie. As sy jou ’n ding wil sê, doen sy dit sonder om te blik of te bloos. Alles wat ek van Shaunelia wou weet, het haar ma my vertel.

”My dogter is nie ’n moeilike mens nie. Ek hoop net nie haar roem gaan na haar kop toe nie.”

Shaunelia se pa het verkies om nie betrokke te raak nie.

Ek dink hy het sy vrou se oordeel vertrou. Met Shaunelia se talent kon die Crawfords enige agent, bestuurder of promotor aangestel het. Maar hulle het besluit om my ’n kans te gee.

Kom ek gee ’n bietjie agtergrond. Shaunelia Crawford is in Johannesburg gebore. Sy was ’n woelwater in die ware sin van die woord.

By tye het sy haar ouers soveel grys hare besorg dat haar pa net sy kop in ongeloof kon skud.

“Dit moes eintlik ’n seunskind gewees het dié,” het hy meer as een maal vir sy vrou gesê. “Soms wonder ek of jy nie die verkeerde baba huis toe gebring het nie.”

Toe Shaunelia in gr. 3 was, ontdek haar ouers dat hul dogter oor ’n uitsonderlike sangtalent beskik.

Sy is net nege, maar sy sing Celine Dion en Mariah Carey se liedjies met die grootste gemak.

Die hoë note is glad nie vir haar ’n probleem nie. Trouens, sy geniet dit meer as liedjies in ’n laer register.

Nadat hulle dit eers met mekaar en toe met Shaunelia bespreek het, besluit Shaun en Magnolia Crawford om hul dogter by een van die beste musiekskole in te skryf.

“Met daai stem kan jy groot geld maak,” komplimenteer haar pa haar op ’n dag. “Jy moet net op die regte tyd by die regte mense uitkom.”

In haar laaste jaar op laerskool ervaar Shaunelia haar heel eerste liefdesteleurstelling.

Sy is smoorverlief op ’n klasmaat wat skuins oorkant haar sit, maar toe sy een middag sien hoe hy ’n ander meisie omhels en soen, voel dit of haar hele wêreld in duie stort. Vir dae aaneen huil sy haar elke aand aan die slaap.

En so besluit sy om haar heel eerste liedjie, “Stukkend Van Binne”, neer te pen.

Meer as ’n maand later praat sy teenoor haar ma haar hart uit.

Haar ma maak haar sit en vertel haar ’n bietjie meer van die liefde.

“As daar een iets is wat met ’n meisiekind se kop kan smokkel, is dit die liefde.

“Luister vandag mooi wat ek vir jou sê: Kalwerliefde kom en gaan.

“Dis maar die beloop van die lewe, maar jy sal dadelik weet wanneer jy die dag ware liefde vind.”

Shaunelia is in gr. 11 toe haar pa sê: “Jy kan van musiek ’n loopbaan maak, maar ek voel jy moet iets hê om op terug te val, net ingeval dinge nie heeltemal uitwerk nie.”

En só is Shaunelia ná matriek universiteit toe om B.Com. te swot.

In haar studentejare neem sy aan talle talentkompetisies deel en sy skop elke keer stof in die oë van haar teenstanders.

Talentsoekers sak soos aasvoëls op haar toe, elkeen natuurlik met sy eie agenda.

Shaunelia bly egter gefokus en laat haar deur niemand ’n gat in die kop praat nie. Haar studie is haar grootste prioriteit. Sodra sy haar graad gevang het, sal sy ernstig op haar sang konsentreer.

Van een ding is sy oortuig, vertel sy my toe ons paadjies kort ná haar gradeplegtigheid kruis: Sy gaan dit tot heel bo in die lewe maak.

Shaunelia tref die musiektoneel soos ’n Kaapse donderstorm. Sy maak seker daar word deeglik kennis geneem van haar.

Nie net het sy ’n mooi gesiggie, sexy lyf en ’n stem wat vra om oor en oor na geluister word nie, sy kan dans ook.

Die beoordelaars van Idols en The Voice sou na haar as die volle pakket verwys het, maar Shaunelia skryf doelbewus nie vir hierdie kompetisies in nie.

Sy het al te veel gehoor van ’n Idols-wenner wat net verdwyn sonder dat enige iemand weet wat van hom of haar geword het.

Haar eerste mikpunt is reeds om aan die wêreld te bewys dat sy nie net ’n one-hit wonder is nie, maar iemand wat nog jare in die bedryf gaan wees.

Iemand wat haar eie musiek wil skryf en nie jaar in en jaar uit cover versions wil doen nie.

Kort voor lank is haar naam op almal se lippe. Sy is skaars 22 en sy staan reeds as die nuutste sangsensasie bekend.

Dit voel amper te goed om waar te wees. Daar is iets unieks aan haar, iets waarvan ander sangers net kan droom.

Oral waar sy optree, laat sy die gehoor uit haar hand eet.

Hulle kry nie genoeg van haar vertonings nie. Haar dagboek is maande vooruit bespreek. Koerante en tydskrifte staan tou om onderhoude met haar te voer. Sy verskyn gereeld op televisie.

Fotograwe kanselleer ander afsprake om haar af te neem.

Shaunelia se ouers is trots op haar. Weens hul besige skedule as eienaars van die bekende Crawford-winkelgroep kan hulle nie al haar optredes bywoon nie, maar hulle sou as hulle kon.

Sy is net so trots op haar ouers. Jare tevore het hulle ’n besigheid met net een supermark begin, maar dit met verloop van tyd landwyd uitgebrei.

Haar ouers is goeie mense. Skat­ryk, maar beslis nie aansitterig nie. Hulle doen gereeld skenkings aan nagskuilings, kinderhuise en ander instansies vir minderbevoorregtes.

Shaunelia se eerste CD behaal binne ’n week ná uitreiking die eerste plek op die trefferparades.

Haar liedjies word op elke radiostasie in die land gespeel. Sy word na groot musiekfeeste genooi.

Haar energieke optredes maak dat oud en jonk stroom om haar in lewende lywe te sien.

Sy sing in Afrikaans en Engels. Maar uit ondervinding weet ek alles in die musiekbedryf is nie net maanskyn en rose nie. Veral as sangers wat al lank op die toneel is skielik nie meer so gewild is soos in hul gloriejare nie.

Hulle raak jaloers op ’n nuweling se sukses en sal enige iets doen om weer op die kruin van die golf te kom.

Shaunelia het skielik so ’n groot bedreiging geword, die has-beens sou uit hul pad gaan om haar ondergang te bewerkstellig. Al het dit ook tragiese gevolge.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters