13 dae gelede
Suster Snoesie wonder nou oor iets heel anders
 ~ 

DAGSÊ, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n nuwe kortverhaal uit die pen van CHRISTO MEYER. Hy noem dit “Die Gwen Eybers-raaisel”. Geniet dit!

‘GWEN Eybers verwag ’n baba.”

Dié woorde uit die mond van ’n voorbarige verpleegster by die plaaslike kliniek het ’n hewige storm op Matroosdal ontketen. ’n Storm wat spoedig van huis tot huis versprei het.

Dit was so erg dat sommige inwoners na hartpille gegryp het. Ander het sommer in hulle oggendtee verstik. Vir jonk en oud was dit ’n skok wat hulle nie maklik sou verwerk nie.

As dit iemand anders was met wie so iets gebeur het, sou die gemeenskap nie so verslae gewees het nie, maar beslis nie Gwen van suster Snoesie Eybers nie.

Sy was dan altyd so eenkant, altyd anders.

Die nuus het amper te goed geklink om die waarheid te wees. Suster Snoesie het dan alles streng volgens die Bybel gedoen en haar dogter in die huis van die Here grootgemaak.

Hoekom sou Gwen so onverantwoordelik wees?

Toe ouma Stienie van Viooltjiestraat hiervan te hore kom, was sy dadelik kortasem.

Haastig het sy gekyk waar haar asmapompie is. Vir die eerste keer ooit het ouma Stienie se pompie haar in die steek gelaat. Daar moes inderhaas met haar na die naaste hospitaal gejaag word.

Ouma Stienie was een van daardie persone wat Gwen se skoolloopbaan met belangstelling gevolg het en sy het by meer as een geleentheid gesê: “Daai meisiekind met die nors gesig en maer beentjies gaan dit nog ver bring in die lewe. Sy moet net leer om vriende­liker te wees.”

Kyk, selfs op ’n kleinerige plekkie soos Matroosdal is tienerseks nie iets vreemds nie, maar so iets het die gemeenskap van hierdie rustige vissersdorpie nie van iemand soos Gwen verwag nie. Daarvoor was sy veels te oopkop en intelligent.

Sy het ongetwyfeld die verskil tussen reg en verkeerd geken en sou nie halsoorkop tot so ’n besluit instem nie. Voorbehoedmiddels is ook vrylik beskikbaar.

Gwen was nie verniet elke jaar die toppresteerder in haar klas nie. Onderwysers het altyd met lof van haar gepraat.

G’n wonder sy kon kies waar sy ná matriek wou gaan studeer nie; universiteite het tougestaan met beurse om haar op hulle boeke te kry.

Hoekom sou sy verkies om op die jeugdige ouderdom van 18 haar toekoms deur ’n baba buite die eg te gaan staan en bederf? Dít was nie hoe hulle haar ken nie.

“Gwen het dan nie eens ’n boy­friend nie,” is daar agter haar rug gefluister.

Hoe op aarde is so iets moontlik? Daar was dan nie eens ’n metgesel aan haar sy by die matriekdans nie. Sy het alleen daar opgedaag en is alleen huis toe.

Terwyl die ander matrikulante after-paartie toe is en hulle aan drank en wie weet wat alles vergryp het, was Gwen al in die bed.

Van die seuns in haar klas het vooraf probeer om haar kop om te praat, maar aan hulle het Gwen haar min gesteur. Boonop was sy so stil en teruggetrokke dat sy nie werklik deel van ’n vriendekring uitgemaak het nie, wat nog te sê ’n spesiale vriend het.

Uit ’n ander oord is weer gespot dat dit die werk van die Heilige Gees was. Die dae van wonderwerke is nog lank nie verby nie, is daar geskimp.

Suster Snoesie, Gwen se streng moeder, is ’n baie godsdienstige vrou. Elke Sondag het sy in die voorste ry gesit en deur die week het sy seker gemaak sy loop nie ’n enkele biduur mis nie.

Sy het soggens haar dag met ’n gebed begin en saans met een afgesluit. Ook het sy gereeld vir haar kollegas by die visfabriek gebid as die behoefte opgeduik het.

Eienaardig genoeg het suster Snoesie nie ’n bohaai van Gwen se swangerskap gemaak nie. Dit was byna, as ’n mens dit so kan stel, asof sy haar dogter se onverwagte swangerskap gelate aanvaar het. Asof sy haar reeds voorberei het op die koms van ’n kleintjie wat in sonde verwek is.

So van verwek gepraat. Matroosdal se mense laat hulle nie maklik ’n rat voor die oë draai nie. As hulle lastige vrae het, gaan hulle karring totdat hulle antwoorde kry.

Niemand het die moed gehad om reguit vir Gwen of suster Snoesie te vra wie die kind se pa is nie, maar hulle het bly wonder.

Hulle het dag en nag die Eybers-huis dopgehou om te kyk of hy nie sy gesig kom wys nie.

Toe die Matroosdallers nie hulle sin kon kry nie, is daar uit die bloute allerhande stories versprei. Almal het skielik ’n eiertjie te lê gehad oor die pa van Gwen Eybers se ongebore kind.

Die een gerug het geloop dat dit ’n ouderling moet wees wat so gereeld huisbesoek gedoen het.

’n Ander gerug was dat daar laataand ’n kar voor Gwen-hulle se deur kom stop het toe haar ma in die feestyd kerkbyeenkomste in die stad bygewoon het.

Ander het die skuld vir Gwen se swangerskap op die reeksverkragter gepak wat uit aanhouding ontsnap het. Dit was ook die tyd toe ’n nuwe verkragtingsdwelm in die nuus was.

Kon dit wees dat iemand wat Gwen vertrou het en wat vir haar kom kuier het, iets in haar koffie of koeldrank gegooi het? Iets wat gemaak het dat sy agterna niks kon onthou nie?

Almal het egter gehoop Gwen kom self met die hele sak patats vorendag, maar nie eens suster Snoesie kon ’n antwoord uit haar lieflingdogter kry nie.

“Wil jy nie maar vir my die waarheid vertel nie?” probeer suster Snoesie een oggend.

Gwen het haar ma net een kyk gegee, opgevlieg en kamer toe gehardloop.

Suster Snoesie het dit ’n saak van gebed gemaak. Eendag, so het sy geglo, gaan die Here die waarheid aan haar openbaar.

“Ma sal vanaand die waarheid weet,” sê Gwen een Maandag­oggend kort voor die geboorte.

Suster Gwen kon daardie dag nie op haar werk konsentreer nie. Sy het die ure omgewens.

Sy kon nie wag om by die huis te kom om te hoor wat haar dogter op die hart het nie. Toe suster Snoesie daardie aand by die voordeur instap, was die huis grafstil.

Sy het na Gwen geroep, maar geen antwoord gekry. Sy het oral gekyk. Gwen was nêrens te sien nie en tog was ál haar klere nog in die kas.

Suster Snoesie is dadelik polisiestasie toe om Gwen as vermis te gaan aanmeld. Die konstabel agter die toonbank was uiters behulpsaam. Dieselfde aand nog is ’n soektog van stapel gestuur ...

DIS baie jare later. Suster Snoesie is oud en sieklik. Sy werk nie meer by die visfabriek nie. Die verlange na Gwen het sy tol geëis.

Sy weet nie hoe lank sy nog gaan lewe nie. Elke dag bid en hoop sy Gwen sal haar opwagting maak.

Sy wil nie doodgaan terwyl die raaisel rondom haar dogter steeds onopgelos is nie. Wat kon van die kind geword het? Hoekom is sy so skielik hier weg?

Sy is baie dank aan die polisie verskuldig. Hulle het hulle bes probeer.

Suster Snoesie wonder lankal nie meer oor destyds se swangerskap nie. Sy brand net om te weet of haar kleinkind ’n seun of dogter is ...

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS dit gerus na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters