Verlede maand
Suster Klein neem Samantha dadelik na haar regte ma
 ~ 

HAAI Sonlanders! Oe, my woorde! My kop spin dan nou nes die journo Samantha Julies s’n behoort te spin. Die dorp se destydse vroedvrou, suster Marsha Klein, bevestig aan Samantha sy weet wie haar biologiese ma is. Sy ook sê dat sy nie net met Samantha swanger was nie, maar eintlik ’n tweeling die lewe ingebring het. Volgens suster Klein was Samantha se biologiese ma destyds ’n slagoffer van Die Binnekring waar Louw se pa en die gangster-dikding betrokke was. En toe tref dit Samantha soos ’n lae vuishou: sy weet wie die Laksman is. Wie kan dit wees? Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE JASON se Die Laksman.

‘SO, SUSTER Klein weet wie my ma is?”
Samantha is amper te bang om dié vraag te vra.

Suster Klein se kop ruk agteroor. “Maar natuurlik weet ek,” sê sy vererg.

“Ek is dalk oud, maar ek is beslis nie kens nie.”

Samantha byt op haar onderlip. Die ongeduld vreet aan haar, maar sy besef dat sy nêrens met suster Klein gaan kom as sy haar humeur gaan verloor nie.

Elke steeks donkie in die wêreld het buitendien by suster Klein tips gevang oor hoe om onmoontlik te wees.

Sy blaas haar asem hard uit en vertel dan aan suster Klein alles wat sy weet.

Dié se oë rek pieringgroot. “Kind, wat vertel jy dan nou vir my?” vra suster Klein in ongeloof. “Daar is dan meer drama in jou lewe as in 7de Laan.

“As jou lewe ’n movie was, sou ek vir ’n slag weer TV licence betaal het – net om dít te kyk.”

Samantha kan nie anders as om vir suster Klein se sêgoed te lag nie.

“Dis hoekom ek suster se hulp nodig het. Niemand anders as suster Klein kan my help om hierdie raaisel op te los nie. Sonder u is ek verlore,” smeer sy die heuning dik om die ouvrou se mond.

Suster Klein vryf haar hande heel ingenome teen mekaar.

“Dan is dit my Bybelse plig dat ek jou help. As ek eendag hemel toe wil gaan, móét ek jou help.”

Suster Klein roep kliphard ’n outjie nader wat besig is om blikke verf te pak.

“Klaas,” gaan sê vir die meneer ek vat nou my tea break en dat hy plan moet maak dat iemand my moet kom aflos. Ek loop nou.”

Suster Klein gryp haar bag waarin seker ’n sesman-tent kan pas en wys vir Samantha om haar te volg.

“Van Zylstraat toe,” gebied sy nadat sy haar logge lyf in Samantha se eina i10 gebuig gekry het.

Samantha haal haar foon uit om dié se GPS-toestel te aktiveer.

“Nee, gits, kind. Wat wil jy dan nou doen?” protesteer suster Klein.

“Robertson is darem nou nie so groot dat jy GPS nodig het nie. En dan is jy nog hier gebore en getoë ook?

“Ry, ek sal verduidelik.”

Samantha skakel haar kar kopskuddend aan.

Suster Klein ken nie van rigting met “links” en “regs” aangee nie.

Samantha moet ry met aanduidings van “ry soe’ en ‘draai soentoe’.

Genadiglik vat dit nie lank om in Van Zylstraat uit te kom nie.

By ’n ouerige huis hou hulle stil. Samantha staar stom na die sinkdakhuisie. Die verf is al aan die afdop en toe hulle uit die kar klim, kom ’n pavement special van ’n hond aangehardloop en blaf by die hekkie.

“Wyk, Satan,” skrou suster Klein en mik ’n hou met haar massiewe handsak.

“Jy gaan my nie vandag byt nie, ek sê jou. Die devil isse liar.”

Samantha probeer hard om nie uit te bars van die lag nie, veral nie toe die hond verskrik omdraai en weghardloop nie.

“Bly my ma hier?” vra Samantha in ’n sagte stemmetjie.

Suster Klein knik en grawe in haar bra rond. Dan bring sy ’n sakdoen te voorskyn waarmee sy die sweet van haar voorkop afvee.

“Ek wonder waar is Mary dan vanoggend?” sê sy stug. “Gewoonlik kom sy uit as karre hier stop.”

“Mary? Mary Poggenpoel? Die antie wat altyd die antiekwinkel gehad het? Is sý my ma?”

Voordat suster Klein kan antwoord, kom ’n tenger vroutjie om die draai gestap.

Sy vries in haar spore toe sy Samantha gewaar.

Dit voel vir Saman­tha asof die tyd stilstaan. Dit voel asof die vrou na haar aangesweef kom.

“Ek weet hoekom jy hier is,” sê Mary toe sy voor hulle te staan kom.

“Ons kan nie hier praat nie. Julle weet byna á l Robertson se mense werk in die skinderfabriek.”

Sy maak die hekkie oop.

Samantha voel Mary se oë op haar brand, maar sy kan haarself nie so ver kry om die vrou in die oë te kyk nie. In die huis gekom, gee Mary haar onverwags ’n drukkie en bars uit van die huil.

Samantha voel hoe haar wange ook nat word. Maar net so skielik soos wat Mary haar vasgegryp het, laat sy Samantha los en stap haastig na die eetkamertafel waar sy haar pakkie blou Rothmans gryp en ’n sigaret aansteek.

“Toe ek die dag hoor dat jy joernalistiek gaan swot het, het ek geweet dis ’n kwessie van tyd voordat jy my gaan opspoor,” sê sy en blaas die rook uit.

Suster Klein gee ’n hoesie en waai die rook met haar een hand weg.

“Smoking kills,” skimp sy.

“Maar ook leuens wat vir jare aan ’n mens vreet,” sê Mary.

Sy draai dan na Samantha. “Ek het geweet Flip en Sarah Julies sal mooi na jou kyk,” sê sy. Daar is ’n hartseer trek in haar oë.

“Ek kan nie myself justify oor hoekom ek jou moes opgee nie.

“Ek dink suster Klein moes jou al daarvan vertel het. Jy is hier vir iets anders. Hoe kan ek help?”

Samantha is uit die veld geslaan oor hoe haar biologiese ma sommer tot die punt kom. “Ek ... ek hoor ek was een van ’n tweeling?”

Mary knik. “Suster Klein het jou seker van Die Binnekring vertel?”

Samantha knik.

“Een van daai etters het my swanger gemaak. Maar asof een kind nie genoeg straf vir my was nie, was dit ’n dubbele straf.

“Jy lyk nes jou broer, uitgeknip.”

“So jy weet hoe hy lyk? Het jy hom nog onlangs gesien?”

Samantha kan haarself nie so ver kry om die vrou voor haar “Ma” te noem nie.

Niemand kan van haar verwag om die vreemdeling voor haar wat haar die lewe ingebring en toe verdwyn het, dáái erkenning te gee nie, dink sy.

“Hy was hier, ja,” sê Mary en vat nog ’n diep trek van haar skyf.

“Hy is my kind en ek is jammer om dit te sê, maar dit lyk asof daar ’n paar van sy varkies weggehardloop het.”

“Weet jy waar hy bly?” vra Samantha opgewonde.

“Hy is hier,” sê Mary. “Hy is hier in Robertson ...”

  • Môre: Slot

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters