12 dae gelede
Storie oor Flip en Magrieta kom by verkeerde ore uit
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Flip Heynz en sy vrou, Magrieta, bespiegel oor die stilstaande ondersoek na die moord op Olivia Olivier. Magrieta glo Olivia het haar die nag tevore kom besoek nadat sy haar by die badkamervenster gesien het. Sy kry die gevoel Olivia wou haar iets vertel en glo haar siel rus nie. Olivia het drie maande gelede aan haar einde gekom nadat ’n bottel in haar opgedruk is, kamma omdat sy ’n lesbiër is. Flip en Magrieta wonder hoekom niemand gearresteer is nie en bevraagteken die bekwaamheid van Oosbank se enigste speurder, sers. Tatie Tamatie. Flip waarsku Magrieta om die nag se gebeure met niemand te deel nie, maar sy knak en vertel die juicy details aan haar bestie, Bettie. Geniet nou hoofstuk 3 van CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk, Spookvrou.

NES Bettie en Magrieta is Anna ook ’n huisvrou.

Hulle is almal in hulle vroeë 50’s.

Hulle bly hulle hele lewe lank hier in Oosbank en kuier gereeld oor en weer.

Anna se mond hang oop van verbasing toe sy hoor wat Bettie op die hart het.

Sy luister met belangstelling en sonder om haar vriendin in die rede te val. Toe Bettie klaar vertel het, loop ’n traan oor Anna se wang.

“Miskien moet ons maar self inspring en die moordenaars probeer vang,” stel Anna voor.

“Tamatie is veels te slapgattig na my sin.”

“Ek weet darem nie of dit ’n goeie idee is nie,” keer Bettie haastig.

“Ons weet nie met watter monsters ons hier te doen het nie. As hulle snuf in die neus kry, kan óns hulle volgende slagoffers word.”

Anna gryp na haar hart. “Sjoe, ek het nie daaraan gedink nie. Jy is reg. Vergeet wat ek gesê het. Laat die polisie maar liewer self hulle werk doen.”

Minute nadat Bettie terug huis toe is, tel Anna die telefoon op en bel vir Fransien.

“Môre, my niggie. Jy sal nie glo wat ek vandag vir jou gaan vertel nie.”

“Maar natuurlik sal ek jou glo, Anna. Soos ek jou ken, praat jy altyd die waarheid.”

“Bettie was nou net hier by my. Sy sê Magrieta was douvoordag by haar met ’n gesig wat asvaal geskrik is.”

“Haai nee, Anna, wat het dan gebeur?”

“Magrieta het gisteraand ’n besoeker gehad, ’n bose gees met sulke wilde oë.”

Fransien trek haar asem skerp in. “Arme Griet. Sjoe, ek kry glad koue rillings vir haar part. Ek sou myself in ’n ander bloedgroep geskrik het. Is sy darem oukei?”

“Dit wil so voorkom, maar sy is skytbang die gees kom weer kuier ...”

Op haar beurt laat weet Fransien vir Sophie. En Sophie laat weet vir Veronica.

En só word die storie van huis tot huis versprei. En elke keer word ’n ekstra stertjie aangelas.

Toe kom dit by die verkeerde ore uit ...

Riempies haas hom na ’n woning in John Travoltastraat.

Hy het iets belangriks om met die huiseienaar te deel. Dit lyk asof hulle geheim op die lappe gaan kom.

Hoe Mr. T gaan reageer, weet hy nie, maar hy moet dit net van sy hart af kry. Dit wat hy vanmiddag in die gange van ’n winkelsentrum gehoor het, het sy nekhare laat rys.

Die twee anties was so diep in gesprek dat hulle nie eens besef het hy luister hulle af nie.

“Daar lê stories in die dorp rond,” sê Riempies nadat hy by Mr. T se agterdeur ingeglip het.

Dis die reëling tussen hulle dat Riempies om veiligheidsredes nooit aan die voordeur klop nie.

Mr. T reageer nie dadelik nie. Hy neem eers ’n paar slukke van die Coke wat op die tafel voor hom staan.

Dit is al wat Mr. T drink. Dis soos ’n dwelmmiddel. Hy kan hom nie ’n lewe daarsonder voorstel nie.

Hy sit nooit sy mond aan bier of enige iets wat alkohol bevat nie.

Sy pa was ’n suiplap en hy het homself belowe hy gaan nie dieselfde paadjie volg nie.

“Watse stories?” vra Mr. T nadat hy kliphard wind gebreek het.

“Dit gaan oor Olivia Olivier.”

“Kom tot die punt, man,” vererg Mr. T hom. “Wat van Olivia?”

“Haar siel kan glo nie tot rus kom nie. Ek verstaan sy dwaal laataand in die buurt rond.”

Mr. T begin lag dat sy maag skud.

“Waar kom jy aan dié nonsens?”

“Almal praat daarvan. Magrieta van ou Flip vertel Olivia was by haar badkamervenster. Sy sê aan die kyk op Olivia se gesig kon sy sien Olivia wou haar iets vertel.”

“My donner, Riempies, ek het nooit geweet jy is so bygelowig nie. Olivia is vrek. Jy onthou dan wat ons aan haar gedoen het.”

“Maar haar gees ...”

“Hou nou op met dié stront. Jy werk op my gat.

“As jy jou aan ouvroustories steur, moenie dieselfde van my verwag nie. Hoor jy my?”

Sonder ’n verdere woord draai Riempies om en loop by dieselfde deur uit waar hy ingekom het.

Mr. T vat hom nie kop toe nie. Hy het sy tyd gemors. En hier het hy gedink hy doen goed deur Mr. T te kom waarsku.

Hoe kan Mr. T sê hy praat nonsens? Glo hy dan nie aan spoke en bose geeste nie?

Dis goed wat bestaan. Riempies het eerstehandse kennis van spoke.

Ná sy ma se dood het hy haar gereeld in die huis gewaar. Sy ma was veral lief om laat in die nag in die kombuis te staan en skottelgoed was.

Sy ma sou die skottelgoed self afdroog en wegpak. Baie aande het hy wakker gelê en geluister hoe sy ma die ketel aanskakel.

Sy ma het in ’n motorongeluk omgekom. Die persoon agter die stuurwiel was niemand anders as sy pa nie.

Hy was onder die invloed van goedkoop wyn en het hom nie aan enige verkeersreëls gesteur nie. Sy pa het net ligte beserings opgedoen, maar sy ma is op slag dood.

Riempies se pa het kort ná sy ma se dood ’n ander vrou in sy lewe toegelaat. Nie hy of sy twee susters het daarvan gehou nie. En hy is seker sy ma ook nie.

Hy weet sy ma was die rede vir sy pa se hartaanval. Hy is een oggend dood in sy bed aangetref met sy oë wawyd oop.

Riempies weet sommer hy gaan vanaand weer sukkel om aan die slaap te raak. Olivia Olivier gaan heeltyd in sy gedagtes wees.

As hy terugdink, wens hy so hy kan regmaak wat hy verbrou het.

Dit was nooit sy bedoeling om haar om die lewe te bring nie.

Hy is werkloos en toe Mr. T hom ’n groot bedrag aanbied om ’n moord te pleeg, was die versoeking net te groot.

Mr. T is die tipe persoon vir wie jy nie sommer nee sê nie.

Hy sal maniere vind om jou in die moeilikheid te laat beland al het jy niks verkeerd gedoen nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters