3 maande gelede
Stiena maak ’n paar mense se harte baie bly
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Stiena dink terug aan hoe dit vroeër jare in die feestyd was. Dit was ’n tyd om na uit te sien. Stiena kan nie verstaan hoekom die inwoners nou so lelik met mekaar is nie. Maar die een mens wat nie kla en skel nie, is die erg gestremde Doppies. Geniet die vierde hoofstuk van NICO­LETTE FOULDIEN se jongste verhaal, Krismis­ in Riemvasmaak­.

STIENA se hart voel lig toe sy uit die taxi klim met die magdom sakke.

Dis die eerste keer vandat sy in Riemvasmaak woon dat sy met die taxi ry.

Vandag is dit nodig.

Haar madam het vir haar ’n ruim bonus gegee.

Sy kon vir die kinders nuwe klere en selfs Kersgeskenke koop.

Sy worry nie oor haarself nie. Vir wie wil sy in elk geval mooi lyk?

Giffie sien haar lankal nie meer raak nie.

Die kos behoort hulle darem ’n week te hou – totdat sy op 2 Januarie weer inval.

Haar madam het belowe sy sal vir hulle op Kersdag kos bring. Gammon en tong en soutvleis en slaaie.

Stiena se gelaat helder sommer op. Dit gaan tog ’n Kersdag wees waarna sy kan uitsien.

Solank haar kinders gevoed, geklee en happy is, is sy happy.

Die kinders gewaar haar en kom juigend aangehardloop.

Sy sit die sakke neer en omhels hulle.

Sy gee elkeen ’n vet soen op hulle snotbesmeerde wange.

Sy wil nie eens vra waar Giffie is nie.

Hy kom slaap net soggens sy roes af en kry dan koers voordat sy smiddae vyfuur by die huis kom.

Hy kyk kamstig bedags na die kinders, maar sy weet die kinders kyk eintlik na hulself.

Dit kan ongelukkig nie anders nie.

Sy moet werk om hulle aan die lewe te hou.

Sy verdeel van die ligter sakkies tussen die kinders sodat hulle dit kan dra. Hulle spog vermakerig by hulle vriende.

Om met groceries in Riemvasmaak se strate te loop, gee jou dadelik status.

In hulle sinkhuisie maak sy aanmaak-koeldrank en verdeel ’n pakkie­ koekies tussen die twee kinders.

Terwyl hulle rustig in die skadu sit en eet, pak sy haar inkopies uit.

Sy verdeel alles in drie. Aartappels, rys, suiker, meel, olie, bone en ertjies.

Een deel pak sy in haar kas met die blikkieskos. Die ander twee dele pak sy in aparte sakke.

“AI tog! Ko’ jy nou al weer preek?” vra ant Betta en trek haar gesig op ’n plooi.

“Nee, ant Betta. Ek bring net vir ant Betta ietsie,” keer Stiena voordat die ou antie weer na haar spoeg.

Ant Betta kyk verbaas na die sak wat Stiena na haar uithou.

“Vi’ my? Wat is dit?”

“Ag, sommer net so ’n ietsie vir die pot, ant Betta.”

“Nee, my kind. Hou dit ma’ liewer.

“Ant Betta issie iemand vi’ aalmoese nie.”

Stiena het dit verwag.

“O nee, dan is dit reg, ant Betta. Ek het net gedink ant Betta kan daarmee doen. En die pynpille is vir ant Betta se jigbeen.”

Stiena draai om.

“Nee, wag, kind! Gee ma’ aan. Hoe sê die Here nou weer? ’n Mens moenie ’n gegewe perd innie bek kyk nie.”

Stiena knik.

“Net so, ant Betta, maar ek glo nie dis die Here wat –”

“Ja, ja toe. Moenie nou weer begin met jou se jirre, jirre nie.

“Dankie. Sit ma’ neer. Ek sal weer ’n klip in jou se pad rol.”

Stiena lag.

“Ja, dankie, ek weet ant Betta sal.”

KINNA kyk gesteurd op toe iemand aan haar deur klop.

Is dit nie genoeg dat onwelkome besoekers haar in die nag pla nie? Nou gebeur dit in die dag ook!

“Kom binne!” roep sy teësinnig.

Sy sug toe sy haar besoeker sien.

“Middag, Kinna. Wat sit jy so? Iets fout?” vra Stiena bekommerd.

’n Oomblik wil Kinna haar skanse laat sak en haar hart oopmaak. Sy bedink haar betyds.

“Niks is fout nie. Wat soek jy?” Sy probeer kortaf klink.

“Ek soek niks. Ek bring net vir jou ’n ietsie.”

“Watse ietsie?”

Stiena hou die sak na haar uit.

“Sommer ’n paar goedjies. Ek het genoeg, toe dog ek ek deel maar –”

“Ek soek nie jou goed nie. Dankie, maar nee dankie.

“Ek kan heeltemal goed vir my sorg. Ek ken julle soort. Gee vandag, en môre preek julle daaroor in julle kerke sodat die hele wêreld kan hoor julle het gegee!

“Weet julle nie die een hand moenie weet wat die ander hand doen nie, hè?”

Stiena deins geskok weg vir die woede in Kinna se stem.

“Skies, Kinna. Ek het nie bedoel ... Ek sal dit mos nooit doen nie! Regtig!

“Ek gee dit uit my hart. Ek wil net help. Dis al.”

Kinna hoor die seerkry in Stiena se stem.

Sy kry meteens skaam vir haar uitbarsting.

Sy is kwaad vir die lewe en nou haal sy dit op ’n weerlose mens uit wat ook die gatkant van die lewe beleef.

“Ek is jammer, Stiena,” sê Kinna boetvaardig. “Sit maar neer.”

Sy beduie na die tafel.

Stiena sit die sak haastig neer en draai om.

Buite bak die son ongenadig op haar neer, maar sy voel dit skaars.

Om ander te help, laat jou goed voel.

Hoekom voel sy dan nou so sleg oor haar daad?

Stiena kyk op toe Doppies se skadu oor haar val. Sy onthou nou eers sy het hom iets belowe.

“Kom, Doppies,” nooi sy hom binne.

Sy krap tussen die seuns se geskenke en haal ’n rooi speelgoed-karretjie en ’n string stokkielekkers uit die sak.

Hy vryf sy hande opgewonde toe sy dit vir hom aanbied.

“Hier, Doppies. Dis vir jou. Vir Krismis.”

Hy kyk onseker na haar. Dan verhelder sy oë.

“Phe Dhophies?”

Sy knik. Sy gesig trek skeef en die spoeg spat toe hy opgewonde uitroep: “Sjtiena gie phe Dhophies phlesent!”

Hy draai om en loop so vinnig dat sy sleepvoet hom kan dra na buite, die karretjie en stokkie­lekkers styf teen sy bors vasgeklem.

Hy prewel opgewonde so ver as wat hy loop.

“Sjtiena gie phe Dhophies phlesent! Sjtiena gie phe Dhophies phlesent!”

Die son se strale verdwyn agter Riemvasmaak se blikhuisies. Die dik donker miswolk daal saggies op Riemvasmaak neer.

  • Lees môre verder

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters