27 dae gelede
Stadig maar seker span die net al hoe stywer om Terror
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag verder aan die verhaal van SALMON SMITH genaamd “Projek Bionies”. Lees nou die slothoofstuk.

TERROR Gambino se oë rek pieringgroot toe Grecia later vir hom die boodskap bring.

“J-jy sê dis ’n gedaante wat soos ’n a-alien lyk wat dié boodskap vir my gestuur het?!” vra hy verskrik.

“Ja, my larney. Dit het ammal by ons plek in Belhar sat gemaak, behalwe vir Tottas. Hy lê innie hospitaal,” sê Grecia grootoog.

“Het die gattas dit toe gevang?” vra Terror vreesbevange.

Dit klink of sy keel wil toetrek van benoudgeid.

“Nee, my lanie. Dit was te vinnig vir hulle.”

Terror kyk weer af na die boodskap. “Dis maar nog die begin, Terror Gambino! Ek kom vir jou!” lees hy weer die boodskap.

“Ek wonnir wie dit kan wees en hoekom hy dan vir my target?” kry hy dit heserigheid uit.

Skielik lui Terror se foon. Hy kyk bekommerd na die skerm.

“Dit is Brian daar by ons Malmesbury-tak,” sê hy. Hy plak die foon teen sy oor. “J-ja, wat is dit Brian?!” vra hy sommerso rof.

Maar dit is nie Brian se stem aan die ander kant nie. “Jou duiwelsnes hier in Malmesbury is ook verwoes, saam met al jou trawante. En jóú tyd het ook nou aangebreek!”

Die vreemde stem stuur ysrillings langs sy rug af.

“W-wie’s djy?! W-wat het ek aan jou gedoen?” stotter Terror vreesbevange.

“Jy gaan binnekort weet!” kraak Morgan Setera se stem vir oulaas voordat hy aflui.

Terror haal die foon van sy oor af weg. Hy kyk nou ernstig na Grecia. “Grecia, kry onmiddellik ál die manne hier by my huis bymekaar. En bewapen hulle tot die tande toe!”

Terwyl Grecia uithardloop om die bevel uit te voer, skakel Terror kol. Van Briesies se nommer.

“Briesies, stuur so gou moontlik ’n seksie polisiemanne na my huis! Daai alien-ding, of wat dit ook al is, het my nou van Malmesbury af gebel en my met die dood gedreig. Ek dink al my manne dáár is ook nou dood.”

Binne ’n uur is twee patrollievoertuie met ses swaar gewapende polisielede voor Terror se huis in Myr­tleweg gepos.

Kol. Van Briesies kom kyk vlugtig of alles wel is by Terror se huis voordat hy weer in sy voertuig klim.

Vanuit die donkerte beloer Morgan Setera die huis. Met sy swart kostuum smelt hy maklik met sy omgewing saam.

Hy zoem deur sy teleskopiese oë in op die toneel rondom Terror se huis. Hy merk die polisieteenwoordigheid.

’n Woede kom in hom op oor die spesiale behandeling wat hulle daardie skurk gee. Hy fokus op die persoon wat voor die huis in ’n kar klim. Sommer onmiddellik herken Setera vir kol. Van Briesies.

Hy onthou kol. Van Briesies van die tyd toe hy wat Setera is, nog aan die Highflyers Unit verbonde was. Dáái kolonel hom altyd so grief gegee met die ondersoeke in Terror Gambino se saak.

Nóú kan hy sien hoekom. Daardie cop is kop in een mus met daardie gemors.

Toe kol. Van Briesies wegtrek, kyk Setera vlugtig rond. Dié tyd van die nag is daar nie ’n enkele voertuig in die strate nie. Dit pas hom perfek.

Hy hardloop agter Van Briesies aan terwyl dié in Myrtleweg afry. Naby die Bishop Lavis-sportveld sit hy spoed in.

Van Briesies kyk vlugtig in sy truspieël en sy oë rek pieringgroot toe hy die gedoente hier agter sy voertuig gewaar.

“Wat de f*k!” gil hy dit uit. Hy sit meer spoed in, maar Setera haal hom met gemak in en slaan die passasiersruit uit. Hy steek sy hand daardeur, ruk die deur met een haal af en slinger dit dat dit dóér trek.

Hy spring met gemak by die bewegende voertuig in.

Van Briesies verloor beheer oor die voertuig en ploeg in ’n boom vas.

Voordat hy kan uitspring, gryp Setera hom aan sy kraag en pluk hom terug die voertuig in.

“Jy gaan nêrens heen nie!” sê Setera yskoud.

“W-wie’s jy?! W-wat wil jy hê?” stotter Van Briesies terwyl hy vreesbevange na Setera in die snaakse kostuum kyk.

Setera hou Van Briesies se handradio na hom toe uit. “Beveel jou manskappe om Terror Gambino se huis te verlaat, of anders gaan onskuldige polisiemanne vanaand sterf!” beveel hy ysig.

Met bewende hande gryp Van Briesies die radio en deel vinnig die bevele uit.

Hy loer weer bangerig na Setera. “W-wie is jy?

Skielik haal Setera sy donkerbril af en ruk sy kopbedekking af.

Van Briesies beskyt hom byna toe hy in Setera se bakkies vaskyk.

“M-Morgan Setera! M-maar jy is dan d-dood?” stotter hy.

“Ek is terug uit die dood om wraak te neem! En ek het nie tyd vir korrupte polisiemanne nie!” spoeg Setera dit uit. Met een kragtige hou breek hy Van Briesies se nek.

Terwyl Van Briesies sy laaste doodsrukke gee, verdwyn Setera soos blits uit die voertuig.

TERROR Gambino kyk hulpeloos deur sy kamervenster op die boonste verdieping terwyl die polisiemanne voor sy huis onttrek.

Hy skakel naarstig Van Briesies se nommer, maar daar is geen antwoord nie.

Hy smyt die foon eenkant toe. “Grecia, waar is djy?!” gil hy.

Gille trek egter sy aandag. Hy mol weer vir die venster en wat hy daar onder op sy werf sien, laat hom sulke fyn poepies gee.

Hy sien hoe ’n donker figuur soos weerlig daar onder rondbeweeg en onder sy manne maai.

Later is dit nog net Grecia wat oorbly. Hy sien hoe sy hoofholborsel sy vuurwapen op die gedaante rig en telkemale die sneller trek. Hy sien hoe die koeëls sulke vonkies maak soos dit van die gepantserde kostuum af wegskram.

Hy aanskou hoe die gedaante sy vuis dwarsdeur Grecia se bors slaan en hoe sy geliefde holborsel leweloos op die grond neersyg.

Vreesbevange tree Gambino van die venster af weg.

“Nou het jou tyd aangebreek, jou gemors!” hoor hy skielik agter hom.

Geskok swaai hy om. Hy sien die swart gedaante in ál sy glorie hier in sy kamer. “H-hoe het jy nou so vinnig hier bo gekom?! W-wie is djy en w-wat het ek aan jou gedoen?!” stotter hy verskrik uit.

Setera ignoreer die vrae. Hy loop op Terror af en trek die kopstuk van sy kop af.

“Beantwoord dít jou laaste twee vrae?” spoeg hy dit uit.

Terror se oë rek pieringgroot toe hy in Setera se gesig vaskyk.

Hy steier agteruit. “K-kapt. Morgan Setera … Maar dit is onmoontlik! Jy is dan dood!”

“Maar nie so dood soos jy nou gaan wees nie!” spoeg Setera dit uit. “Jy het my my gesin ontneem! Jy het my probeer vermoor omdat jy met jou sieklike, misdadige lewe wou voortgaan en mense se lewe wou verwoes!”

“Asseblief, spaar my lewe. Ek het baie geld!” soebat die misdadiger desperaat toe Setera hom vasgryp.

Terwyl nuwe polisiemotors met blou ligte voor Terror se huis optrek, trek die misdaadleier, al gillend, met ’n sierlike boog deur die kamervenster. Hy val hom te pletter onder op die sypaadjie.

  • “Kyk daar!” gil een van die polisiemanne en beduie na die kamervenster. Almal se kop ruk op en hulle sien die donker gestalte in die venster. Maar toe verdwyn dit soos blits die donkerte in. Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters