Verlede maand
Skok ruk baie toe Louw vrygespreek word van 3 rapes
 ~ 

HI, Sonlanders. Dis die begin van ’n nuwe week en dis tyd vir ’n splinternuwe verhaal. Die Laksman is ELDRIDGE JASON se jongste pennevrug. Geniet die eerste hoofstuk!

DIE hofsaal is vandag stampvol.

Daar is nie eens plek vir ’n halwe muis nie. Almal se oë is gefokus op die landdros, wat met ’n sakdoek oor sy bleskop vee.

Voor hom staan ’n man vol selfvertroue in ’n peperduur ontwerperspak.

Die Rolex aan sy arm wys hy is nie iemand wat vir kleingeld werk nie.

Hy staan fier, penorent en baie versekerd van homself en sy rykdom.

Die landdros kug. “Dit is dan die gevolgtrekking van hierdie hof dat daar nie genoegsame bewyse is om u skuldig te bevind nie, Justin Louw.

“Nie net het die vermeende slagoffers hulle op kritieke punte weerspreek nie, maar daar was ook nie genoeg DNS-bewyse om u met die beweerde verkragtings te verbind nie.

“Dus bevind die hof u onskuldig op al drie aanklagte van verkragting. U is vry om te gaan.”

Krete van skok weergalm in die hofgalery.

“Stilte in die hof!” bulder die hofordonnans.

“Djy kô sê nie vir ons nie!” skree iemand in die hofgalery.

Die landdros is nog besig om te praat, maar mense stroom by die vertrek uit.

Justin Louw draai na sy advokaat.

“Jy is peperduur, maar jou dienste was elke liewe sent werd,” sê hy met ’n breë glimlag.

Die advokaat grinnik. “Net talk is cheap,” sê hy.

“Maar tussen ons twee gesê … daar was ’n tyd toe ek gedink het ons gaan hierdie saak nie deurkry nie.

“U is ’n baie gelukkige man, meneer Louw. Dit lyk of die geluk aan u kant bly.”

“ ’n Mens kan nie net alles aan geluk oorlaat nie,” antwoord Justin.

“O?” vra die regsman en frons. “Gaan jy uitbrei?”

Justin glimlag. “ ’n Mens blaker nie jou geheime uit nie,” sê hy geheimsinnig.

“Kom ons gaan na buite.

“Ek is seker die media staan al tou om ’n onderhoud met my te hê. Ek is immers the man of the moment.”

Buite die hofgebou is daar toe inderdaad ’n vrag joernaliste wat Justin stormloop toe hy op die trappe van die hofgebou verskyn.

“Hoe voel jy noudat jy onskuldig bevind is? Gaan hierdie jou kanse kelder om premier van die provinsie te word? Watter boodskap het jy vir die vroue wat jou van verkragting beskuldig het?” bombardeer hulle hom met vrae.

“Hokaai, een op ’n slag,” sê Justin vol van homself.

“Ek wil eerstens sê in hierdie Vrouemaand ondersteun ek die veldtogte teen geweld teen vroue en kinders ten volle.”

“Bullsh*t!” skree iemand uit die crowd.

Justin Louw laat hom nie hierdeur van stryk af bring nie.

“Ek en my familie is weens hierdie beskuldigings deur ’n uiters moeilike tyd.

“In tye soos hierdie besef ’n mens eers wie jou ware vriende is.

“Dis tye soos hierdie wat ’n mens ’n sterker persoon maak.

“Ek wil aan die drie vroue wat my van die afskuwelikste van dade beskuldig het, sê ek is nie kwaad vir hulle nie.

“Ek weet nie hoekom hulle daardie onwaarhede teen my opgemaak het nie, maar ek wens hulle net die beste vir die toekoms toe.”

“So, wat van die bewerings dat jy die saak ‘gekoop’ het?” vra ’n joernalis van ’n poniekoerant.

Justin se oë vernou ’n oomblik, maar dan glimlag hy weer breed.

“Colgate betaal hom seker ’n k*khuis se geld om in sy advertensies te speel. As ’n mens ryk is, kom jy weg met alles,” brom iemand in die crowd.

“Ek het my volle vertroue in die regstelsel gesit en is onskuldig bevind,” sê Justin.

“Mense las altyd onnodige sterte aan stories, maar die waarheid is dat ek my naam skoongekry het.

“Nou gaan ek fokus op my gesin en my loopbaan.

“My kinders is deur erge trauma en is geboelie op skool en sosiale mediaplatforms weens al die leuens wat teen my opgedis is.

“Ek wil dit sommer nou al reguit sê dat ek die staat ook vir kwaadwillige vervolging gaan dagvaar.”

“Liegbek!” skree iemand in die skare. “Papa wag vir jou!”

“Papa moet maar lekker wag,” sê Justin komkommerkoel.

Eenkant staan ’n man wie se kêppie laag oor sy oë getrek is.

Die man staar lank na Justin, en dan merk hy die snikkende meisie op wat deur haar ma weggelei word.

Hy beweeg haastig deur die skare tot by haar.

“Ek glo jou,” sê hy in ’n growwe stem.

Die meisie snik en vee haar trane af. “Oom, ek sweer, ek het nie gelieg nie.

“Dit het gebeur soos wat ek getuig het.

“Hy … Justin … hy het my ’n werk in sy kantoor beloof.

“En toe ek daar begin werk het, moes ek skielik saans laat op kantoor bly om take vir hom te doen.

“En een aand … een aand toe roep hy my in sy kantoor, sluit die deur agter hom … en forseer homself op my.

“Ek lieg nie. Ek verstaan nie hoekom niemand my nou glo nie.”

“Ek glo jou,” herhaal die man sy woorde van vroeër. En ek belowe jou dat hy nie daarmee gaan wegkom nie.”

Die meisie skud haar kop.

“Justin is baie powerful, en dan het hy nog geld ook. Hy is untouch­able.”

“Niemand is untouchable nie,” sê die man en glimlag vir die meisie.

“Geld kan nie die waarheid vir altyd stilhou nie. Die waarheid seëvier altyd.”

“Glo Uncle maar daai nonsens,” sê die meisie en stap weg.

Die man staar haar agterna en bal sy vuiste.

Justin Louw gaan nie met sy streke wegkom nie.

Daarvan gaan hy seker maak.

Justin gee ’n laaste wuif vir die crowd.

Waai maar, jou gemors, dink die man, en begin aanstaltes maak om liewer nou te loop.

Hy moet sy planne agtermekaar kry. Vanaand is die aand dat Justin die waarheid moet face …

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters