Verlede maand
Shaunelia laat Patrick verstom toe hy aankom
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons spoil julle dié week met ’n splinternuwe verhaal uit Christo Meyer se pen. Die verhaal se naam is “Ou Wonde”. Geniet nou die slothoofstuk.

D

IE trane rol oor my wange terwyl ek aan die verlede sit en dink.

Hoe kon ek ’n talentvolle sangeres se loopbaan so vernietig? Dis ’n skuldgevoel wat ek tot in lengte van dae met my moet saamdra. Daar was nie eens kans om vergifnis te vra nie.

Haar sukses met my as haar bestuurder was net die begin. Daar was so baie wat sy nog kon bereik.

Ek het die situasie lelik uitgebuit. Ná haar ouers se skielike dood het ek haar meer as net ’n skouer gebied om op te huil.

Sy was gebroke, en toe ons eers in mekaar se arms beland, het die een ding outomaties tot die ander gelei.

Ek kon myself nie keer nie, al het ek geweet dis verkeerd.

Wat kon van haar geword het? Ek het oral navraag gedoen, maar niemand weet waar Shaunelia haar bevind nie.

Sy het nie eens ’n profiel in die sosiale media nie.

Het sy so seergekry dat sy niks met die buitewêreld te doen wil hê nie? Of liewer, het ek haar so diep seergemaak?

Moet ek maar nie vir Andrew laat weet hy moet sy lawwe idee oor ’n simpel boek laat vaar nie? Ek het tog genoeg skade aangerig. Almal het destyds die blaam vir Shaunelia se verdwyning van die musiektoneel op my geplaas. Ek kan hulle nie blameer nie.

As ek dinge tussen ons profes­sioneel gehou het, wie weet, dalk sou Shaunelia teen hierdie tyd al ’n legende in die plaaslike musiekbedryf gewees het. Miskien selfs internasionaal vir haar ’n naam gemaak het.

Drie topverkoper-CD’s binne die bestek van drie jaar. Talle musiektoekennings.

Selfs ’n verskyning in ’n gewilde sepie. Haar gesig op die voorblad van al wat ’n tydskrif is.

Totdat ek alles gaan staan en bederf het. Ek, Patrick Patterson, wat van beter moes geweet het.

Shaunelia wou nie aanvaar haar ouers het verongeluk nie. Sy kon nie glo hulle is weg en dat sy hulle nooit weer gaan sien nie. Die nuus het haar geknak.

“My pa het van nature altyd uiters versigtig bestuur,” onthou ek haar woorde. “Ek kan nie dink dat hy sommer net so voor ’n vragmotor sou inry nie. Dis nie hoe ek hom geken het nie.”

In die ondersoek het dit aan die lig gekom dat daar fout was met die remme van haar pa se voertuig.

Iemand moes doelbewus daarmee gepeuter het, maar die skuldige het nooit aan die pen gery nie.

“Hoe ernstig is jy oor my?” wou Shaunelia ’n paar weke ná die begrafnis by my weet. Ek was uit die veld geslaan.

Ek het nie geweet wat om te antwoord nie en het die gesprek in ’n ander rigting gestuur. Wat kon ek sê?

Ek was verloof en op die punt om met iemand anders te trou. Dit sou haar hart breek as sy moes uitvind.

Maar die waarheid het maar sy eie manier van uitlek. My verloofde het uitgevind van Shaunelia en alles aan ’n skinderblad gaan uitblaker.

Toe Shaunelia my met die waarheid konfronteer, kon ek sien sy is verpletter. Haar hart was gebreek.

My selfoon se luitoon ruk my terug na die hede. Ek sien Andrew se naam op die skermpie.

“Patrick, ek het uitgevind waar Shaunelia is. Ek stuur vir jou die adres.” Net dit, toe druk hy die foon dood.

Vroeg die volgende oggend klim ek in my motor en val in die pad. Ek tref haar op die stoep van ’n plaashuis in Stellenbosch aan.

“Ek het altyd geweet jy gaan my opsoek,” sê sy nadat ons gegroet het. “Jy is mos maar ’n rustelose siel.”

“Ek sou nie gekom het nie. Dis Andrew, my uitgewer. Hy wil hê ek moet ’n boek oor jou lewe skryf.”

“Ek weet,”antwoord sy. “Hy het my gebel.

“Ek wonder nou nog hoe hy my nommer in die hande gekry het. Ek het reeds hier kom wegkruip omdat ek gehoop het niemand sal my hier opspoor nie.

“Maar ek is bly jy het gekom. Dis in elk geval tyd dat ek berusting kry en die verlede finaal begrawe.”

“Bly jy alleen hier?”

“Ek en my seun. Dis baie rustig hier, soos jy self kan sien. Ons lewe lekker.

“Ek het meer as genoeg van my ouers geërf om nooit weer op ’n verhoog te klim nie.”

Sy het ’n seun? Dit beteken sy het aangegaan met haar lewe.

Hoekom pla dit my so?

Het ek gedink sy gaan vir my wag?

“Jy en jou seun alleen? Waar is jou man?”

Die vraag is uit nog voordat ek behoorlik daaroor gedink het. Hoe kan ek so voorbarig wees?

“Daar is nie ’n man in my lewe nie.”

“O,” is al wat ek kan uitkry. “Hoe oud is jou seun en wat is sy naam?”

“Hier kom hy nou aangedraf,” beduie sy.

“Net sodat jy weet, ek het jou lankal vergewe. Niemand is volmaak nie.”

Ek draai my kop. Dis ’n bekende gesig wat langs Shaunelia gaan staan. Ek is seker ek het hom al iewers gesien. Ek voel hoe my wange warm word.

My hart begin vinniger klop. Dan gaan daar ’n lig vir my op.

Dit tref my soos ’n vuishou op die krop van my maag.

Natuurlik. Hy lyk presies nes die seun op die foto’s uit my kinder­album. Hy lyk nes ek.

Hy is ongetwyfeld my kind en ek is sy pa.

Meteens maak alles sin. Die rede dat Shaunelia destyds verdwyn het, was omdat sy swanger was met my kind.

Hoekom het sy niks gesê nie? Was sy so seergemaak dat sy besluit het om liewer stil te bly? Ek kan haar nie verkwalik nie.

“Sy naam is Rodney en hy is 13 jaar oud. Jy kan maar self jou sommetjies maak.”

Sy kyk na hom. “Rodney, onthou jy ek het altyd gesê jou pa sal op ’n dag hier opdaag om te kyk hoe dit gaan? Vandag is daardie dag. Ontmoet jou pa, Patrick Patterson.”

’n Oomblik lank hang ’n ongemaklike stilte in die lug. ’n Knop vorm in my keel. Ek het nie woorde nie. Ek sal vir Andrew moet laat weet ek gaan nie meer ’n boek oor Shaunelia se lewe skryf nie.

As hy in die toekoms ook nie meer ’n spanningsroman van my wil publiseer nie, is dit sy verlies.

Daar is ander uitgewers wat my met ope arms sal verwelkom.

Rodney gee ’n tree vorentoe. Ek en sy ma staar mekaar woordeloos aan. Die drie van ons gryp mekaar vas en begin meteens gelyktydig huil.

Daar lê ’n hartseer verlede agter ons. Baie foute is gemaak.

Hiervandaan wil ek net vorentoe kyk. ’n Seun kan nie sonder sy pa grootword nie. Al het dit ook ver­reikende gevolge.

  • Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters