25 dae gelede
September kom af op ’n skokkende toneel in sy huis
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Dis weer tyd vir ’n aksiebelaaide riller van ’n kortverhaal uit die pen van SALMON SMITH. Hy noem dié een Die Groot Vyf. Geniet die eerste hoofstuk!

ADJUDANT-OFFISIER Brian September kry onmiddellik daardie nare gut feeling toe hy voor sy motorhek optrek. Hier is iets groots fout by die huis, flits dit deur sy gedagtes.

Dit is nog stikdonker, ’n paar ure voor sonopkoms. Maar die motorhek staan op ’n skrefie oop en die hangslot lê stukkend op die plaveisel daaragter. Dit lyk asof iemand dit met ’n bolt cutter oopgeknip het.

Hy wip uit sy voertuig en hardloop sy erf binne. Sy hart maak sulke bokspronge toe hy sien sy agterdeur is oopgedwing.

Hy pluk sy vuurwapen uit sy holster. Versigtig stoot hy die deur wyer oop. Takties betree hy sy halfdonker huis.

Onmiddellik vul ’n yster-reuk sy neusgate ...

Die polisieman het gereeld met moordtonele te doen en hy ken dit maar te goed.

Bloed! kom die gedagte by hom op.

Sy hart begin in sy borskas tamboer speel.

Hy dink aan sy pragtige vrou en dogter wat hy gisteraand alleen hier moes agterlaat toe hy nagskof gaan werk het.

Saggies sluip hy die gang af. Aan die einde van die gang staan sy slaapkamer se deur halfpad oop en die kamerlig is aan.

Dit voel asof die bloed in sy are ys toe hy die toneel daar in sy slaapkamer gewaar.

Die lewelose liggaam van sy vrou lê daar in ’n plas bloed. Waar haar keel eens was, is nou net ’n gapende rooi wond.

Haar dowwe oë staar nikssiende die verte in ...

Dit voel asof suur braaksel dreig om in September se keel op te stoot en hóm ook dood te wurg.

Maar voordat hy sy maag vrye teuels kan gee, hoor hy iewers in die huis ’n gewerskaf.

Dit klink asof dit daar van sy dogter se kamer af kom. Hy sien rooi.

Die skurke is nog hier in my huis! besef hy.

Sy oë rek wyd oop.

“Christal!” hyg hy sy dogter se naam uit toe hy gedagte kry van haar.

Hy bars by haar kamer in, maar vries in sy spore toe hy die skurk daar bo-op sy lieflingdogter gewaar.

Die laaste ding wat hy kan onthou is die angstige oë van Christal en die geskokte uitdrukking op die skollie se gesig.

En ná dit net ’n waas ...

Later toe die polisie op die toneel aankom, vind hulle September op sy knieë in die gang – met sy leë vuurwapen nog in sy hand.

Twee skollies lê morsdood – een in die gang met ses koeëlgate in sy kop en lyf; die ander op Christal se bed, met sy hele gesig weggeskiet soos sewe bullets daardeur geploeg het.

Iewers in die voorhuis lê skurk nommer drie op die vloer en kreun oor die twee koeëlgate in sy rug.

Christal sit in ’n hoekie in haar kamer met haar hande krampagtig aan ’n kombers oor haar naaktheid geklem.

Haar oë is nog pieringgroot van die skok.

Dit is eers toe kapt. De Witt, September se bevelvoerder by die Elsiesrivier-polisiestasie, liggies aan sy skouer raak dat hy weer bewus word van sy omgewing.

Vasgenael staar hy na die bloederige toneel hier in sy huis. Toe val sy oë op die leë dienspistool in sy hand.

Hy trek sy asem skerp in. “C-Christal! W-waar is Christal!?” kerm hy.

“Toe maar, Seppie, sy is veilig in die hande van die trauma counsellor,” probeer De Witt hom gerusstel.

Daar verskyn skielik ’n vreemde uitdrukking op De Witt se gesig.

“Kom, laat ons jou hier wegkry,” sê hy.

Die volgende dag basuin elke koerant die storie uit van die polisieman wat inbrekers in sy huis betrap en sy dienspistool op hulle leeggemaak het.

“Soos ’n scene uit ’n Hollywood movie het die bullets gisteroggend gevlieg toe ’n cop van die Elsies­rivier-polisiestasie na bewering sy dienspistool op drie vermeende inbrekers in sy huis leeg geskiet het,” begin die berig in Son.

“AO Brian September het vroeër as gewoonlik van ’n nagskof by sy huis in Balvenie Estate in Elsies opgedaag.

“September het na bewering die lyk van sy vrou in ’n plas bloed in hulle slaapkamer gekry en toe postal gegaan op die inbrekers, wat steeds op die toneel was.

“Twee van die vermeende skurke het met hulle lewe geboet. ’n Derde is in die rug gewond.

“Hy is hospitaal toe geneem, waar hy onder polisiebewaking vir sy lewe veg.

“Daar is gerugte dat een van die skurke September se dogter verkrag het, maar dít kon nog nie bevestig word nie.

“Kapt. FL van Dyk, polisiewoordvoerder, was maar suinig met sy kommentaar.

“Al wat hy noem, is dat sake van moord, poging tot moord en huisbraak geopen is en dat die ondersoek nog in ’n baie sensitiewe stadium is.”

Die daaropvolgende dae is baie swaar vir September.

Christal het intussen ’n senu-ineenstorting gekry en is tans onder waarneming in ’n psigiatriese hospitaal.

Die skurk wat in die rug gewond is, is verlam en sy familie dreig nou om September in ’n siviele eis vir miljoene te dagvaar.

Gedurende sy vrou se begrafnisdiens is Brian ontroosbaar.

Hy huil sy hart uit van die kerk tot by die begraafplaas.

Die daaropvolgende hofsaak lok groot belangstelling van oral uit.

In die ondersoek is daar vasgestel­ die inbrekers was ongewapen.

Nou ontstaan die vraag in die hof of die polisieman reg opgetree het om sy vuurwapen te gebruik en of hy hom kan verlaat op provokasie as verdediging.

Intussen het ’n hele debakel oor die hofsaak ontaard in woeste debatte tussen ondersteuners van September en diegene wat voel dat die polisieman onnodig geweld gebruik het.

Die hof vat die wêreld se tyd om die saak te ontleed en kom uiteindelik ná ses lange maande tot ’n slotsom...

“Kan die beskuldigde staan, asseblief!” dawer regter Van der Bank se diep stem deur die hofsaal.

Dit is ’n maer en afgeremde Brian September wat stadig van die beskuldigdebank af opsukkel.

Hy kyk eers vlugtig na die openbare galery en hy voel weemoedig toe hy nie familielede of selfs een van sy kollegas daar sien nie.

Hy draai sy gesig vorentoe.

Toe hy oogkontak maak met regter Van der Bank en daardie yskoue uitdrukking in sy oë sien, toe weet hy ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters