10 dae gelede
Saul voel dadelik iets omtrent die ouens is nie lekker
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ná al die seer van die verlede besluit Saul om sy eie paadjie in te slaan. Hy is nie meer Saultjie nie, hy is nou ’n man. Iemand wat sy eie besluite gaan neem. Geniet nou hoofstuk 2 van GWENDOLINE KORDOM se “Die Sterre Bring Hoop”.  

IN DIE kamer gryp hy twee tasse en begin blindelings pak.  Toe hy klaar is, gaan sit hy ’n oomblik op die bed.

? Skielike hartseer wel in hom op. Pa het hom as sy eie aanvaar net voordat hy gesterf het.

Hoekom kan Lukas en die res van sy broers dit nie doen nie?

Mieta herinner hom altyd aan Josef in die Bybel. Sy glo dat God altyd naby hom is, soos met Josef.

Hy is die uitverkorene. Die laaste keer toe hy kwaad hier weg is, het dinge sleg geëindig.

Hy hoop en bid dat dit dié keer nie die geval sal wees nie. Hy is moeg vir baklei. Dis basies al wat hy ken. Hy moet konstant veg vir ’n plekkie in die son.

Hy staan op en kyk vir oulaas rond voordat hy die tasse gryp. Lukas staan en wag by die voordeur.

“Saul, kom ons praat.”

“Daar is niks om oor te praat nie. Ek vat die bakkie.

“Probeer my keer, dan sien ons.”

Die twee broers staan soos twee bulle teenoor mekaar.

’n Paar sekondes tik verby voordat Lukas uiteindelik opsy staan. Saul storm verby hom met die trappe af. Hy het dit van enige van sy ander broers verwag, maar nie van Lukas nie.

Die huigelaar! Hy gooi sy tasse agterin. Daarna klim hy agter die stuur in en trek in ’n stofwolk weg.

In die tru-spiëel staan Lukas. Sy skouers skielik vooroor gebuig soos een wat die wêreld se laste dra.

Saul probeer nie dink aan dit wat hy agterlaat nie. Slegs aan die toekoms wat blink voor hom uitstrek. Kilometers vlieg verby voordat hy in die rigting van Pofadder weer bewus word van sy omgewing.

Hy dog dis sy verbeelding, maar dan sien hy dit weer. ’n Weerkaatsing in die pad.

Hy sit die bakkie oor in ’n laer rat toe hy besef dis in der waarheid ’n minibus wat dwars oor die pad staan.

Twee ouens is besig by die agterwiel, terwyl ’n derde nader kom toe hy die bakkie gewaar.

Saul voel hoe sy nek kriewel. Iets aan die ouens voel verkeerd. Hy stop en klim stadig uit. Die een verskyn langs hom. ? Groot glimlag strek oor sy gesig.

“Dankie tog. Ons sukkel die afgelope uur met die spaarwiel.

“Dit wil voorkom asof dit pap is. Het jy dalk ’n pomp?” vra hy in suiwer Afrikaans.

Saul kyk verbaas na die ou. Vir hom lyk hulle na uitlanders. Nigeriërs. Voordat hy antwoord, is daar ’n beweging by die minibus.

’n Swartkopmeisie verskyn. ’n Oomblik kyk sy reguit in hulle rigting voordat sy wegspring en nael vir die veld.

Saul staar in verwondering na die ritmiese bewegings van haar slanke lyf. Toe na die sagte rondings van haar sitvlak in die stywe broek.

’n Geweerskoot knal hier digby hom en slaan hom byna van sy voete af. Die meisie val.

Ná ’n paar sekondes vlieg sy op en hardloop verder. Saul slaan instinktief na die wapen toe dit weer op haar gerig word.

Die volgende oomblik klap verskeie skote oorverdowend in die stilte. Die geskreeu van vrouestemme waai uit die rigting van die minibus. Sy kop suis en sy bene word lam toe die pyn deur sy lyf skiet.

Hy tref die grond met ’n harde slag.

DIT neem ? rukkie voordat die geklop aan die voordeur deur Katie Links se gedagtes dring.

Sy lig haar hande uit die seepwater. Terwyl sy dit afdroog, dwaal  haar gedagtes na Katja, haar enigste spruit.

Sy is al heeltyd onrustig. Sy en haar man, Jaco, het Katja vroeër by die bushalte gaan afsien.

Teen die middag was Katja saam met die res van die meisies wat beurse ontvang het op die taxi.

Sy en Jaco se enigste kuiken het die nes verlaat. Katja is op pad na Potchefstroom waar sy ’n diploma in onderwys gaan voltooi.

Stemme dwing haar gedagtes terug na die hede. Sy beweeg met ’n bonsende hart na die voorhuis.

Spanning laai in haar op toe sy haar besoekers eien.

Speursers. Tim Rademeyer en twee beamptes van die plaaslike polisiestasie is diep in gesprek met Jaco.

Haar bewende bene vind net betyds die naaste bank.

Jaco lyk skielik ongemaklik toe hy haar sien.

Tim se oë rus nadenkend op haar. Hy was haar hoërskoolkys. Hoewel hulle paaie jare gelede geskei het, sien sy nog dieselfde bewondering in sy oë.

“Middag, Katie.”

Sy diep stem klink sag. Sy donker oë is broeiend.

“Middag, Tim.”

Sy knik in die ander twee se rigting voordat sy vra: “Wat maak julle hier? Is daar fout?”

Tim kyk ’n oomblik na Jaco.

“Jaco, wat gaan aan?” wil Katie angstig weet.

Jaco staan skielik op en kom sit langs haar. Hy neem albei haar hande in syne.

“Katie, iets verskrikliks het gebeur.”

Hy sluk ’n paar keer voordat hy sy emosies onder beheer kry. Katie voel hoe sy vingers in hare verstrengel word. Asof hy ’n anker soek om aan vas te hou.

“Katja het verdwyn. Rademeyer was op die punt om my te vertel, toe jy instap.”

“Nee, nee, nee! Ek wil dit nie hoor nie!”

“Katja sal bel. Sy weet presies watter tye sy moet bel.

“Dit was die ooreenkoms. Gee net kans – sy gaan binne die volgende uur bel.

“Asseblief. Wag en kyk net.” pleit Katie, haar stem na aan histerie.

“Katie, ons moet kalm bly. Ter wille van Katja.

“Ons weet nie presies wat gebeur het nie. So, kom ons gee Rademeyer kans om die storie te vertel. Asseblief, my vrou. Ons mors kosbare tyd.”

Hy draai na Rademeyer en sê: “Vertel ons wat gebeur het.”

Rademeyer se oë rus deurgaans op Katie terwyl hy die storie vertel.

“Die nuus het twee uur gelede by ons uitgekom. Daar was ’n oproep van iemand naby die stasie wat op die toneel aangekom het.

“Die persoon het op ’n bebloede jong man en ’n leë minibus afgekom wat voldoen aan die beskrywing van die een waarmee Katja- hulle gereis het. Die jong man lewe en uit sy vertelling kon die weldoener die volgende onder ons aandag bring.”

“Die minibus waarmee Katja-hulle gereis het, is kort voor 16:00 ’n paar kilometers buite Pofadder gekaap. Volgens die inligting is die bus vermoedelik deur drie swart mans van die pad afgedwing, waarna die busdrywer deur een van die aanvallers doodgeskiet is.”

Katie gee ’n gesmoorde kreet en begin onbedaarlik huil.

 Lees môre verder

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters