27 dae gelede
Saul se hart breek in stukkies oor sy vyandige ontvangs
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Katja veg soos ’n tier toe die skurke haar wil inspuit, maar sy verloor die stryd. Saul maak ’n plan om ’n vrag wapens by die huis te gaan kry. Geniet hoofstuk 8 van GWENDOLINE KORDOM se vervolgverhaal “Die Sterre Bring Hoop”.

‘EK SLUIP nie rond nie, Lukas.”

“Wat noem jy dit wat jy nou doen? Dis net ’n dief wat dié tyd van die nag rondsluip.”

Saul sug. Hoe gaan hy aan Lukas verduidelik hoekom hy hier is as hy so tekere gaan? Dan tref iets hom.

“Wag ’n bietjie. Wat maak jy hier buite in die donker, Lukas?”

“Ek het die dreuning in die verte gehoor. Toe dit nader kom, het ek opgestaan.”

Lukas kyk agterdogtig na die silwer dubbelkajuit-bakkie. “Aan wie behoort hierdie bakkie, Saul? En wat het jy met ons s’n gedoen?

“Ek hoop nie jy het dit loop staan en verkwansel nie. Watse twak het jy dié keer aangevang?”

Daar is skielik ’n roering by een van die vensters. Kort daarna word die ligte aangeskakel.

Saam luister hulle na die naderende voetstappe. Fanie, Danie en Manus verskyn. Hulle kyk verbaas na Saul en Lukas.

“Wat gaan aan? Hoekom staan julle dié tyd van die nag op die stoep?” wil Fanie weet.

“Vra vir Saul. Hy het ongenooid hier aangekom,” grom Lukas.

“Wat soek jy, Saul?” vra Danie.

Saul se hart breek in stukkies oor hulle vyandige houding.

Hy dink terug aan die dag toe hy en Lukas uit die Kaap teruggekeer het. Dis die tyd toe hy weggeloop het. Op hierdie einste stoep het hulle hom ingewag.

Hy onthou duidelik die blydskap op hulle gesigte toe hulle hom gesien het. Dit voel soos gister.

“Wat het ek ooit aan julle gedoen dat julle my so haat?” vra Saul.

Die seer in hom soek na ’n uitlaatklep. Hy sien hoe hulle onderlangs na mekaar loer. Dit jaag hom verder die harnas in.

“Dit wat ek nou by julle sien, onthou ek uit die manier hoe Pa anderdag na my gekyk het.

“Asof ek vuilgoed is. ’n Stuk gemors wat op die ashoop hoort.

“Ek was ses jaar oud toe ek dit die eerste keer in sy oë gelees het. My lewe was nooit weer dieselfde nie.

“Ek moes die hardste werk om in sy goeie boekies te bly.

“Weet julle hoe dit gevoel het wanneer hy een van julle geprys het terwyl ek met ’n gebroke hart eenkant staan? My prestasies is nooit hardop genoem nie.”

“Saul, stop!” sê Lukas.

Teen dié tyd stroom die trane oor Saul se wange.

“Julle, my sogenaamde broers, het my nog altyd soos ’n buitestander laat voel. Iemand wat niks in die lewe verdien nie.

“Vlooi se liefde het van my ’n mens gemaak. Dit wat ek by haar ontvang het, het my deur die lewe gedra.

“Ek ken nie moederliefde soos julle nie. Keer op keer het ek probeer om ’n band met julle te sluit en voortdurend is ek weggestoot.

“Lukas is die enigste een wat my nooit verwerp het nie. Dis deur julle dat hy my so behandel.

“Hy wil nie respek in julle oë verloor nie. Hy moet mos onwrikbaar wees, soos Pa. Maar weet julle wat – ek kies nog om julle lief te hê. Want julle is my broers.

“Ek het nie gevra om hier te wees nie. Julle is kamma so godsdienstig grootgemaak, maar betoon geen menslikheid teenoor my nie. Huigelaars!” eindig Saul en sak op die lae muurtjie neer.

Hy vou sy hande oor sy gesig terwyl rou snikke deur hom skeur.

Dit neem ’n rukkie voordat hy kalmeer. Hy voel skielik skaam oor sy uitbarsting en dat hy boonop soos ’n meisiekind voor sy broers getjank het.

Die wond in sy arm klop pynlik. ’n Skielike lamheid kruip vanuit sy bene. Hy moet hier weg voordat hy heeltemal verswak.

Toe hy opstaan, kantel hy byna om. Lukas is met een tree by hom.

“Saul, wat makeer jou arm? Wat gaan aan?”

Sy ander broers skuif nader. Danie gryp Saul aan die arm. Saul ruk sy hand uit Danie se greep.

“Los my uit! Wat baat dit om julle te vertel. Alles is mos altyd my skuld.”

“Saul, ek gaan jou hospitaal toe neem. Jy ly aan skok,” sê Lukas.

“Nee! Daar is nie tyd nie. Ek moet die meisies red.”

Hulle kyk beurtelings na mekaar voordat Fanie eindelik vra: “Watse meisies?”

Saul sug lank en hard voordat hy met die hele sak patats vorendag kom. Hy vertel hulle die waarheid en los nie ’n enkele detail uit nie.

Hy noem ook sy planne en hoekom hy hier is. Toe hy klaar is, staar hulle grootoog na hom.

“Ons kan nie toelaat dat jy Pa se vuurwapens saam met jou neem nie,” sê Danie.

“Bly liewer stil!” sis Lukas.

“Kan julle nie sien hy het ons hulp nodig nie? Sy liggaam kook.

“Vergeet die bleddie wapens en help my om hom in die huis te kry.”

“Ek het gesê los my uit,” kry Saul knersend uit.

Hy probeer self opsukkel, maar moet noodgedwonge na Lukas gryp toe sy bene knak.

“Help my om hom in te dra,” sê Lukas.

Saul voel hoe sy broers hom optel. ’n Onbekende emosie roer in sy binneste toe hulle hom versigtig op die bank neerlê.

“Danie, kry die noodhulptassie. Fanie, daar is van Mieta se kruie in die kombuis. Manus, gaan haal vir my ’n skottel met louwarm water en ’n spons. En bring dan ook vir Saul ander klere.”

Saul se lyf begin bewe. Sekondes later klap sy tande op mekaar.

Beelde van ’n donkerkop-meisie flits voor hom verby. Iemand dwing iets in sy keel af.

“Sluk, Saul!” sê Lukas.

Hy sluk gehoorsaam en trek sy gesig toe die kruie ’n bitter smaak agterlaat.

Die bewerasie trek stelselmatig uit sy lyf. Dit duur ’n paar sekondes voordat sy oë oopflikker.

Vier bekommerde gesigte staar na hom.

“Ek sal oukei wees. Dankie vir julle hulp, maar ek moet nou gaan.” Saul beur sy liggaam opwaarts. Verbasend genoeg probeer niemand hom keer nie.

“Jy is sowaar een van die hardkoppigste mense wat ek ken. Boonop van die taaistes ook.

“Geen wonder Mieta aanbid die grond waarop jy loop nie. Jy sal jou lewe waag vir ander en dit maak jou baie spesiaal, Saultjie,” sê Lukas glimlaggend voordat hy vir Saul ’n oomblik teen hom vashou.

“Ek gaan nie toelaat dat my kleinboet man-alleen die skurke aandurf nie.”

Danie gaan staan langs hulle.

“Ons is in,” sê Fanie voordat hy en Manus nader staan.

“Ons kan nie toelaat dat jy alleen gaan nie. Wie gaan jou cover?” wil Fanie weet.

Die son kom in Saul se hart op toe hulle hom in ’n greep beetkry. Hy het hom gereed gemaak vir ’n geveg. En nou dít.

“Waarvoor wag ons?” vra Lukas met ’n breë glimlag.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters