Verlede maand
Saul sê aan Katja se ouers hy wil die meisies help
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Saul ontslaan hom sommer self uit die hospitaal. Hy kan nie net so daar bly lê nie. Hy moet iets doen om die meisies te help vind. Geniet nou hoofstuk 5 van GWENDOLINE KORDOM se “Die Sterre Bring Hoop”.

‘DIT is jou skuld. Jý is die oorsaak van sy dood, Katja,” sê Tina terwyl die res beskuldigend na haar kyk.

Katja staar met ’n strak gesig voor haar uit. Tina is reg.

Die vreemdeling se dood rus op haar skouers. Tessa is besig om haar been met ’n serp te verbind. Die koeël het gelukkig haar been net rakelings getref.

Tessa oë is vol simpatie op Katja gerig.

“Hoe voel jy, tjom?”

“Ek lewe,” sê Katja sag.

“Ai, Katja. Kyk hoe lyk jou gesig soos die vark jou geslaan het. Jy was byna dood.”

“Ek weet, maar wat anders kon ek doen, Tess? Ek kan nie my lot soos die res van julle sit en inwag nie,”sê Katja met betraande oë.

“Jou dwaasheid gaan jou ook nêrens bring nie,” kap Tina van die ander kant af.

Tessa gluur in haar rigting.

“Katja het meer murg in haar pype as wat jy in jou kleintoontjie herberg. Al wat ek uit jou mond hoor, is ? gekerm.”

Katja sug. “Sy is reg. Ek het soos ? dwaas opgetree,” sê sy.

“Kan ons nou die gesprek los, asseblief?”

Sy herleef die oomblik toe Chidi soos ’n besetene op haar afgestorm het. Sy het versteen gestaan.

Daarna het hy haar herhaaldelik met die agterkant van die vuurwapen bygekom. Toe sy die grond tref, het hy haar aan die hare teruggesleep.

Die ander meisies was teen daardie tyd histeries. Tessa was haar redder toe dié haar liggaam soos ’n skild oor Katja gooi.

Tiko het ingetree en Chidi weggepluk. Die ongenaakbare kyk in Chidi se oë het rillings deur haar lyf gestuur.

Sy het in daardie oomblik iets besef – hy is ? koelbloedige moordenaar.

“Ek weet jy verwyt jou oor die ou se dood, maar daar is niks wat jy of enige van ons kon gedoen het nie, Katja ...

“Hulle was duidelik van plan om sy bakkie af te neem. Met of sonder sy toestemming.”

“Ek weet, Tess, maar ek kan nie help om skuldig te voel nie.”

“Dit help nie jy kasty jou daaroor nie. Ek dink ons moet liewer konsentreer op waarheen die vuilgoed op pad is,” sê Tessa.

“Hulle ken duidelik mense in die omgewing. Ons het van rigting verander.”

Die bakkie begin skud.

“Dis vir seker iemand met ’n plaas,” sê Katja vreesbevange.

Terwyl hulle beweeg, voel sy in ’n mate veilig. Maar as hulle iewers aangehou word, begin hulle nagmerrie werklik.

Hoeveel mense wag aan die voorkant? En wat gaan hulle aan die meisies doen?

“Ek hoop die volgende stop is naby. My blaas druk,” sê Lizzy.

“Ek wil huis toe,” sê Jessica.

“Ek ook. Ek weier om op ’n plaas te slaap,” voeg Ronelle by.

“Die nag is hier,” sê Katja terwyl sy deur die venster staar. Sy moet die ander se aandag aflei.

Sy kan die paniek onder hulle aanvoel. Hulle besef ook nou soos sy wat voorlê.

Die bakkie verminder geleidelik spoed. Dit stop en kort daarna gaan die deure oop en toe.

Chidi vroetel met die slot en kort daarna verskyn sy gesig in die opening.

“Dis tyd om van vervoer te verander,” sê Chidi.

Katja sug verlig toe sy dit hoor.

“Kan ons ten minste privaatheid kry om te pie?” waag Tessa.

Chidi gee haar ? vuil kyk voordat hy antwoord.

“Maak gou! Remember, any funny business ...” Hy trek sy wysvinger stadig oor sy keel.

Die meisies klim stadig uit en loop in ’n ry na waar hy beduie.

Hulle verdwyn kort ná mekaar in ’n diep sloot. Katja neem ’n oomblik om te staar na die sterre in die hemelruim.

Meteens verskiet ’n ster in die verte. Toe weet sy dit is waarna sy soek. Iets om aan vas te hou. ’n Teken van hoop.

“MENEER Aberdeen?” Saul staan versteen.

Hy draai stadig om. Een van die polisiebeamptes van vroeër staan daar.

Langs hom staan ’n donkerkopman wat dadelik sy hand uitsteek.

“My naam is Tim Rademeyer. Ek is die speurder wat die saak hanteer.”

Saul sug verlig en neem sy hand.

“Aangenaam. Noem my Saul, asseblief.”

“Jammer ek kom nou eers by jou uit.”

Hy knik in die polisiebeampte se rigting voordat dié wegstap.

“Die pad was lank tot hier. Ek sien jy is ontslaan.

“Jy is baie gelukkig om te leef,” sê Tim.

Saul glimlag flou. Hy is ’n voortvlug­tige pasiënt en is bevrees die personeel gaan hom enige oomblik vind. Hoe gaan hy van dié ou af wegkom?

Twee mense verskyn in die skemerlig agter die speurder. Hulle beweeg versigtig nader.

Rademeyer draai na hulle.

“Dié mense wou jou baie graag ontmoet.”

Die vrou se gesig wil bekend voorkom. Sy is met een tree by Saul.

Dan gooi sy haar arms versigtig om hom. Saul voel oorweldig. Dít het hy nie verwag nie.

Hy kreun liggies.

Sy tree vinnig agteruit. Daar is ’n blinkerigheid in haar oë.

“Jammer, ek het nie bedoel om jou seer te maak nie. My naam is Katie en dié is my man, Jaco.

“Ons is Katja se ouers.”

Saul staar verward na haar.

“Die swartkopmeisie wat saam met die res verdwyn het.”

Dís aan wie sy hom herinner, kom dit by Saul op.

Die man neem sy hand.

“Dankie vir wat jy vir Katja gedoen het. Ons is jou ewig dankbaar en ontsettend bly jy leef.”

“Ek was op die regte tyd op die regte plek,” sê Saul verleë.

“As daar enige iets is wat jy kort, moet jy net praat,” sê Jaco.

Saul wens Lukas was hier om dié wonderwerk te aanskou. Hy wat Saul is, is toe nie so sleg soos hulle dink nie.

Hy is in staat om ander te help.

“Katja is ’n vegter. Ek kon dit aflei uit haar poging om te ontsnap en dit is ook die rede hoekom ek my hulp aanbied,” sê Saul.

“Hoe bedoel jy? vra Rademeyer. Saul skrik. Hy’t van hom vergeet.

“Ek bedoel ek sal my bes probeer om weer oor die gebeure te gaan. Dalk duik iets op wat kan help met die ondersoek.”

Rademeyer kyk stip na hom. Die man met die wakker oë is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Hy moet Katja se ouers alleen kry en sy plan aan hulle deurgee.

Maar hoe gaan hy dit regkry met Rademeyer wat hulle soos ’n valk dophou?

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters