15 dae gelede
Saul is so bly dat hy eindelik sy eie rigting kan inslaan
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons skop vandag af met ’n splinter­nuwe verhaal uit die pen van GWENDOLINE KORDOM. Sy noem dit “Die Sterre Bring Hoop”. Geniet die eerste hoofstuk!

‘TESSA, hoor jy dit?”

Tessa klik haar tong sonder om haar oë van die selfoonskerm af weg te neem.

“Katja, Potchefstroom is kilometers ver. Gaan jy vir die res van die rit jou ore uitleen aan elke denkbare geluid? Chillax, vriendin.”

“Dit klink asof die motor reg agter ons ry.

“Hoekom kom dit nie verby nie?”

Tessa staar vir ’n oomblik na haar vriendin met die gitswart hare en groot, wye mond.

’n Hewige frons rus tussen Katja se mooi bruin oë.

Met haar skoonheid gaan haar vriendin vir seker die manne se bloeddruk opjaag.

Daarby het sy die lyf van ’n model. Sy reken Katja staan ? goeie kans met modelwerk.

Om ’n onnie te word is deesdae soos selfmoord. Jy weet nie wanneer ’n kind gaan jou aanval nie.

“Ek hoor niks, vriendin,” sê Tessa vol frustrasie terwyl sy haar selfoon in verskillende rigtings bo haar kop hou.

“Kan jy glo die verdomde sein verdwyn elke tweede sekonde? Demmit! Ek wou so graag met Joey chat.”

“Daar is mans met balaklawas in die ander voertuig. Hulle het gewere!

“Tessa, val plat!” gil Katja.

Tessa kyk verskrik hoe Katja met wyd gerekte oë afwaarts duik.

Die volgende oomblik is daar ? harde slag en sy word soos ’n lappop teen die rug van die voorste sitplek geslinger.

“SAUL Aberdeen, jy het die pos gekry. Ek hoop jy sal ’n voorspoedige reis hê.”

“Baie dankie, meneer Basson. Ek sien uit daarna om u te ontmoet.”

Ná die telefoonoproep spring Saul soos ’n kind op en af.

Ná vier harde jare het hy uiteindelik werk. Die lewe op die plaas is nie meer dieselfde nie.

Ná hulle pa se dood het sy broers openlik vyandig geword. Lukas, sy oudste broer, was altyd die een wat hom beskerm het, maar selfs dit het verander.

Daar is werklik niemand met wie hy die goeie nuus kan deel nie, behalwe natuurlik Mieta.

Sy is die huishulp en ook ’n moederfiguur vir die jong manne.

Sy is bykans die enigste persoon wat hulle bymekaar hou sedert Pa se dood.

Dis haar bystand en belangstelling wat hom deur sy matriekjaar gedra het. Ook die jaar wat Pa weggeval het.

Daarna is hy na Noordwes vir sy studies in ingenieurswese.

Sy het gesorg dat hy elke semester kry wat hom toekom.

Haar inmenging het gesorg dat Lukas betyds sy deel inbetaal. Maar sy is tans in die hospitaal vir ’n operasie. Saul stap na buite.

Hy gaan staan op die voorstoep en laat sy blik vir ’n oomblik oor die veld dwaal.

Hulle plaas is geleë naby Groblershoop.

Dié is sy huis. Die plek waar hy grootgeword het.

Tog het hy vir die grootste deel van sy lewe soos ’n indringer gevoel. Iemand wat bloot verdra word.

Mieta het telkens verduidelik dis jaloesie wat dit veroorsaak. Dan het hy in sy enigheid gewonder waarop sy broers dan jaloers kan wees.

Hy het niks en moes ook, net soos hulle, jare lank op Pa se aalmoese leef.

Aan sy regte pa wil hy nie dink nie. Daardie man het destyds as ’n verkoopsman hier op die plaas aangekom.

Landboumateriaal aan Pa verkwansel. Pa het hom toegelaat om te oornag.

Die aand het in dae verander terwyl hy op die toerusting wag. Hy het dit kwansuis uit die Kaap laat kom.

Terwyl Pa heeldag op die landerye swoeg en sweet, het die bliksem en Ma in die slaapkamer gesweet.

Een oggend vroeg is hy weg en kort daarna was Ma swanger met hom, Saul.

Hy is die rede hoekom sy gesterf het.

En nou is hy die uitgeworpene. Oor ’n ma wat haar bene nie kon toehou nie.

Soms haat hy haar. Nogtans is dit haar en die onbekende man se bloed wat deur sy are vloei.

Hy is deur huishulpe grootgemaak. Hý is die een wat jaloers moet wees. Sy broers het ’n ma geken.

Hulle is teen haar sagte boesem vasgedruk.

Mieta sê sy kop dink nie soos die res nie. Boonop het hy die hart van ’n leeu.

’n Glimlag roer om sy lippe. Hy mis Mieta en haar kinderlike uitkyk op die lewe.

Hy breek weg uit sy gedagtegang toe Lukas die trappe bestyg.

Sy gesig vertoon stroef.

Saul is bly sy tyd op die plaas is verby.

“Lukas, ek het nuus ... Meneer Basson van Basson Konstruksie het gebel.

“Ek het die werk gekry en vertrek môre na Springbok.”

’n Oomblik flikker Lukas se donkerbruin oë.

“Jou wens om hier weg te kom, het uiteindelik waar geword. Jy ken natuurlik die reël.”

“Tog nie al weer die simpel reël nie, Lukas. Pa en sy reëls lê in die graf.

“Ek loop nie weg nie. Ek begin bloot ’n nuwe hoofstuk in my lewe.

“Maar ek wil nog steeds kontak behou met jou en die res van my familie.”

“Die dag toe jy ons almal bedrieg het, het alles verander. Pa wou hê ál sy seuns moes in die landbou studeer.

“Maar nie jy nie.

“Jy kies toe iets anders, want jy wil mos altyd dinge op jóú manier doen. Ek verstaan nie hoe jou kop werk nie, Saul.”

“Lukas, met my graad kan ek help met die instandhouding van die masjinerie en boonop advies gee waar dit nodig is.”

“Jy vir mý advies gee? Ek het in die landerye gewerk lank voor jou geboorte, Saul.

“Jy bewys net keer op keer hoekom jy nooit een van ons sal wees nie.”

“Wat presies bedoel jy daarby, Lukas?”

“Los dit liewer, Saul.”

Saul voel hoe ’n ongekende woede in hom opvlam.

“Sê dit soos Pa gesê het, Lukas – ’n ander man se sleg bloed vloei deur my are.

“Wees ’n man en sê dit, Lukas!”

“Saultjie!”

“Ek is nie meer jou Saultjie nie. Ek is nou ’n man.

“Iemand wat sy eie besluite neem. Van hierdie oomblik af is Saultjie dood – dit is nou Saul.

“Ek loop nou dadelik! Ek het genoeg gehad van jou.”

Toe Saul omdraai, probeer Lukas­ hom nog keer, maar hy slaan sy hand weg en storm na binne.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters