4 maande gelede
Sandra se ouers kry vroegoggend baie slegte nuus
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Elvis is op ’n natural én chemical high nadat hy die prossie die ewigheid in gestuur het. Hy is sommer lus om weer Voortrekkerweg toe te gaan. Hy besluit om eerder maar te wag totdat die stemmetjies weer ’n opdrag gee – dis maar veiliger so. Geniet nou hoofstuk 4 van CHRISTO MEYER se jongste pennevrug, Stemmetjies.

’N GROEP fabriekswerkers stap die volgende oggend niksvermoedend in die straat af.

Hulle gesels oor die jaar wat so vinnig vlieg. Skielik steek een van die vroue vas.

“Kyk daar!” sê sy geskok en beduie na die naakte liggaam van die jong prostituut. Almal snak na hulle asem. Een van die mans trek sy baadjie uit om oor haar te gooi. ’n Ander een kontak die nooddienste. ’n Ouerige vrou uiter ’n onaardse gil ...’N DAG daarna is daar vroeg­oggend ’n klop aan die voordeur van ’n tweeslaapkamerhuis in Namakwaland. Dis die huis van Derick en Maria Loeries. Die egpaar is nog in die bed.

“Maria, verwag jy mense?” vra Derick, nog half deur die slaap.

“Nee, my man, van wanneer af kry ek so vroeg kuiergaste?”

“Daai klop klink darem dringend. Wonder wie dit kan wees.”

“Staan liewer op en gaan kyk. Dis die enigste manier hoe jy gaan uitvind.”

“Ja, goed, anders hou die ge­hamer net aan en aan.”

Derick staan op en roep: “Ek kom, ek kom!” toe die klop voortduur.

Toe hy oopmaak, sien hy speursersant Koenraad Conradie op die voorstoep staan.

“My magtig, Conradie, wil jy my deur afbreek? Kan jy nie ordentlik klop nie?”

“Môre, oom Derick. Ek is jammer om –”

“Jy beter ’n goeie rede hê hoekom jy my so vroeg kom pla. Moet net nie vir my sê jy loop van huis tot huis om al die inwoners te waarsku nie. Ek het gisteraand in die nuus gesien die weermag is in die Kaap ontplooi om die bendes vas te vat. Ek hoop nie hulle het hierheen gevlug om die lewe vir ons te kom bemoeilik nie.”

“Dis nie dit nie, Oom. Ek ...” Conradie kom skielik ongemaklik voor.

“En nou? Het die kat jou tong afgebyt? Praat, of ek maak die deur in jou gesig toe.”

“Dis Sandra, Oom. Iets het met haar gebeur.”

“Waarvan praat jy, Conradie? Sandra is veilig in die Kaap. Sy het nou die aand gebel en ek kon aan haar stem hoor dit gaan goed. Sy stuur elke maand getrou geld huis toe en ons kan nie wag vir Desember wanneer ons haar weer sien nie.”

“Ek is jammer, Oom. Sandra gaan nie weer huis toe kom nie.”

“Jy praat in sirkels, Conradie. Kom tot die punt, man.”

“Ek ... ’m ...”

“Van wanneer af hakkel jy? As jy iets op die hart het, wees ’n man, sê dit reguit.”

“Nou maar goed. Op ’n ernstige noot, Oom, ek het baie slegte nuus. Sandra is vermoor.”

Derick Loeries raak yskoud. Hy sien die ernstige kyk in Conradie se oë. Hy besef die speurder praat die waarheid.

“Hoe ... Waar ... Wanneer?” wurg Derick dit uit.

“Kan ek inkom, Oom?”

Derick beduie met sy hand en Conradie stap binne.

Maria het ook intussen by Derick aangesluit. Sy gaan onbedaarlik aan die huil. Derick sit sy arm om sy vrou se skouer terwyl hy geskok na Conradie luister.

“Was sy regtig kaal toe hulle haar gevind het?” wil Derick weet.

“Hoe seker is jy van jou feite?”

“Dit is onder meer wat in die dossier staan, Oom. Ek is jammer dat ek so vroeg in die oggend sulke slegte nuus aan julle moet oordra. Claudia, haar niggie met wie sy ’n woonstel gedeel het, het haar lyk geïdentifiseer.”

“Maar ek verstaan dit nie. Watter mens by sy volle positiewe sal Sandra wil vermoor? Sy was dan altyd so vriendelik, so vredeliewend.”

“Die Kaap is ’n wrede plek, Oom.”

Conradie vryf oor sy baard.

“Daar is nog iets wat ek Oom moet vertel. Ek wens dit was nie nodig nie.”

“Genade, Conradie, watter slegte nuus wag nog op ons? Is ons dogter se dood nie erg genoeg vir een oggend nie?”

“Sandra het nooit in ’n restaurant gewerk soos Oom-hulle gedink het nie. Sy was ...”

“Praat, Conradie, praat.”

“Sandra was ’n vrou van die nag. Sy’t haar liggaam verkoop.”

Die res van die dag is dit ’n miernes van bedrywighede by die Loeries-woning. Mense beweeg in en uit. Die nuus van Sandra Loeries se dood het soos ’n veldbrand versprei.

Derick Loeries is gebroke, maar hy weet hy moet sterk wees ter wille van sy vrou. Sandra was hulle enigste kind. ’n Laatlammetjie. Die dokters het gesê hulle sou nooit kinders hê nie, maar hulle het aanhou glo. Maria was byna 40 toe die wonderwerk gebeur.

“Ons kind het al die tyd vir ons gejok,” sê Maria toe die ergste trane bedaar.

“Sy het al die tyd oneerlike geld vir ons gestuur. Geld wat haar nie toegekom het nie.”

“God is die enigste een wat kan oordeel, my vrou. Nie ek of jy nie, want nie een van ons is sonder foute nie. Moenie te hard wees nie. Sandra het verkeerde besluite geneem, maar ons sal nooit weet waarom nie.”

Die pastoor en sy vrou kom maak ook ’n draai. Hulle doen ’n gebed en bemoedig die egpaar om sterk te bly.

“As daar enige iets is wat ons kan doen, moet julle nie huiwer om te praat nie. In hierdie moeilike tyd het ’n mens al jou vriende nodig. Ons help graag met die begrafnisreëlings.”

Teen die aand toe dit stil raak, sit Derick en Maria in die voor­kamer en kyk na ’n foto-album van hulle pragtige dogter.

Daar is foto’s in van toe sy ’n baba was, toe sy die eerste keer skool toe is, haar eerste netbalwedstryd en sommer baie meer.

“Die lewe is onregverdig,” sak Derick saggies af.

“Ons het nie eens die kans gehad om haar vir oulaas te groet nie.

“Al het Sandra ons teleurgestel, was sy ons kind.”

Maria skud haar kop.

“Al is dit hoe moeilik, sal ons haar moordenaar moet vergewe. Dis wat die Here van ons verlang.”

“Ek stem saam, my vrou, maar kom ons vat hande en doen ’n gebed. Kom ons bid vir reg en geregtigheid.

“Kom ons bid dat wie ook al vir Sandra vermoor het, nie ongestraf sal bly nie.”

“Ons mag nie haatdraend wees nie, Derick. Dis wat die Here van ons verwag, al is ons ’n onreg aangedoen.

“Ons moet bid dat God die siel van ons kind se moordenaar sal begenadig. Dis die enigste manier hoe ons afsluiting gaan kry.”

  • Lees môre die slothoofstuk
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters