Verlede maand
Samantha vat die pad huis toe om haar ouers te face
 ~ 

HAAI Sonlanders. Die journo Samantha Julies se bubble word baie vinnig gebars deur die Laksman. Dít terwyl sy enkele minute tevore nog oorgeloop het van trots omdat haar storie oor die moord op die politikus Justin Louw haar koerant se voorblad gehaal het. Die Laksman deel Samantha mee dat Louw deel was van ’n kliek bekend as Die Binnekring, wat teer op jong, onskuldige meisies. Die Laksman sê ook vir haar dat Die Binnekring nou besig is om skoon te maak en almal wat moontlik hul identiteit kan ontbloot, uit te haal. So iemand is Johnnyboy Riley, dikding-gangster wat Die Binnekring se aanval op hom oorleef het. En wat eintlik Samantha se biologiese pa is. Huh? Kan daar waarheid agter Die Laksman se uitlatings skuil? Geniet nou hoofstuk 6 van ELDRIDGE JASON se Die Laksman.

DIE pad Robertson toe het nog nooit vir Samantha so lank gevoel nie.

Sy is deur die Hugenot-tonnel en al anderkant Worcester, maar moes plek-plek haarself weg van haar gedagtes ruk om op die pad te konsentreer.

Worcester lyk maar anyway soos wat sy dit laas gesien het – nie min of meer woester nie.

Omdat sy die hele week die nagkantoor moet beman, het sy net die werk laat weet dat sy ’n leidraad rondom die Laksman opvolg.

Haar base was so in hul skik oor al die koerante wat vandag uitverkoop is dat niemand teen die karre geskop het nie. En in ’n mate is dit mos tog die waarheid, het sy haar leuen aan haarself probeer regverdig.

As dit nie vir die Laksman se ridiculous aantygings was nie, wou sy nie nou op pad huis toe gewees het nie.

Samantha slaak ’n sug van verligting toe sy Robertson binnery. Sy kom veels te min hier, dink sy skaam.

Maar dis nie lekker vir haar om te sien hoe die jong mense klaarmaak met skool en dan heeldag op ’n okkapyp-kursus voor hul ouerhuis sit en so nou en dan ’n pakkie 50c-chips kafdraf nie.

Veels te gou hou sy voor haar ouerhuis in Jasmynstraat stil. Ten spyte van die vrae wat haar bekommer, kan sy nie anders as om te smile toe sy haar ma deur die gordyn sien loer nie.

En as sy dit nie mis het nie, sit haar pa in die sitkamer, onaangesteekte pyp in die mond, terwyl hy deur die oggendkoerante blaai en moan oor die baie bad news wat in gemeenskappe afspeel.

“Ek sê hoeka nourie dag vir jou pa mens hoor nie meer so baie van jou noudat jy in die grote Kaap werk nie.”

Antie Sarah Julies staan ’n paar treë agteruit. “Verbeel ek my of het jy maer geword, kind?”

Voordat Samantha kan antwoord, gaan haar ma voort: “Maar moenie net daar staan soos watse ticket nie. Kom sit, kom sit.”

Samantha gehoorsaam gedwee.

Haar pa laat sy koerant sak, brom ’n groet en frons dan. “Alles orrait, Ounooi?” vra hy besorg.

“Ek sien in vanoggend se koerant jy het die jackpot met jou storie geslaan, maar dit lyk dan asof iemand jou wind uitgeskop het.”

“Is … is ek aangeneem?” wurg Samantha die woorde uit.

Die vinnige blik wat haar ouers verwissel, bevestig haar ergste vermoedens. Die Laksman was reg, dink sy.

“Aangeneem? Aangeneem? Waar kom jy daaraan?” vra haar ma in ’n hoë stemtoon. ’n Veels te hoë stemtoon.

Oom Flip Julies loer streng na sy vrou. “Mammie, jy weet mos nou al die kind weet jy vertel nie heeltemal die waarheid nie,” sê hy rustig. “Dis iets wat ons al lankal moes doen, maar dis tog duidelik dat ons nie meer die waarheid van Ounooi kan weerhou nie.”

Antie Sarah is wasbleek in die gesig en gaan sit versigtig langs haar man. Oom Flip vou sy koerant op.

“Ek wil eerstens begin deur te sê dat ons altyd lief sal wees vir jou. Nes die eerste dag ...”

“Nes die eerste dag toe ons deurklokkie gelui en ons jou hier op die stoep gevind het,” voltooi antie Sarah haar man se sin.

Sy kyk smekend na Samantha. “Ons wou jou so baie kere sê, maar kon net nooit die regte tyd daarvoor vind nie.

“Daar was ’n briefie langs jou wat gesê het die mammie is nie in staat om na jou te kyk nie en dat sy nie kan dink aan beter ouers vir jou as ons nie.

“En ná my vele miskrame… Ek het gedink jy is my geskenk uit die hemel. Ek dink nou nog so.”

Samantha voel hoe die trane teen haar wange afloop.

“Ons het probeer om jou ma op te spoor,” gaan oom Flip voort.

“Selfs diskreet navraag by die kliniek gedoen om te hoor of daar nie dalk ’n jong dame kliniek geloop het en nou nie meer swanger­ is nie.

“Maar al ons navrae het op niks uitgeloop nie.”

Antie Sarah bring ’n sakdoek te voorskyn en snuit haar neus hard uit. “Toe maak ek asof ek swanger was en vir niemand van die nuus wou vertel nie,” gaan sy voort.

“Niemand het my storie in twyfel getrek nie, want ná soveel miskrame soos wat ek gehad het, was daar baie vroue wat verstaan het dat ek nie my swangerskap wou jinx nie.

“En toe registreer ons jou geboorte ná die dag dat jy hier aangekom het en maak jou as ons eie vlees en bloed groot.”

“Maar ek is nie jul eie nie,” praat Samantha die eerste keer in ’n lang tyd.

“My biologiese ma is seker iewers daar buite en my regte pa … my pa veg tans vir sy lewe in die hospitaal.”

Samantha vertel vir haar ouers die storie van Johnnyboy Riley en hoe die Laksman gesê het Riley is haar biologiese pa. Haar ouers se oë rek toe hulle hoor Riley is ’n gangster-dikding wat gesorg het vir prooi vir Die Binnekring.

“Jy is nie ’n bietjie die monster wat hy is nie,” sê oom Flip.

Samantha glimlag effe. “Hoe dan anders?” vra sy. “Julle het my mooi grootgemaak. Ons deel dalk nie dieselfde gene nie, maar bloed is dikker as water. Alles wat ek vandag is, is te danke aan julle.”

Die trane stroom oor antie Sarah se wange. Oom Flip kyk weg en sluk hard aan ’n knop in sy keel.

“Dat gisteraand se uiwe-smoortjie nou nog my oë laat brand,” sê hy en snuif hard.

Dan sit hy meteens regop en sê: “Ma, ons kon destyds nooit vir suster Klein in die hande kry nie.”

“Suster Klein?” vra Samantha.

Haar ma knik opgewonde. “Suster Marsha Klein was destyds die vroedvrou in die dorp. ’n Vrou wat nie nonsens vat nie. Streng, maar vol liefde, veral vir jong, swanger meisies wat deur hul families verstoot is.

“As iemand dalk sal weet wie jou ma, en miskien ook die Laksman is, dan is dit sy.”

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters