Verlede maand
Samantha kom face to face met die Laksman
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Samantha spoor haar biologiese ma uiteindelik met die hulp van suster Marsha Klein, ’n voormalige vroedvrou, op. Mary Poggenpoel is in trane toe sy eindelik haar dogter ná al die jare sien. Sy vertel Samantha van haar nagmerrie-lewe onder die lede van Die Binnekring, ’n bose organisasie wat onder jong meisies maai. En toe vertel Mary aan Samantha dat haar tweelingbroer in Robertson woonagtig is en haar al besoek het. Is Saman­tha se vermoedens reg? Is hierdie broer van haar die uiters geheimsinnige Laksman? Geniet nou die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON se Die Laksman.

‘SO, MY broer bly hier … hier in Robertson?” vra Samantha in ongeloof.

Haar ma knik en vat nog ’n diep skyf aan haar entjie.

“Lucky … Lucky Brandt,” sê sy dan.

Suster Klein trek haar asem skerp in.

“Is dit nie dieselfde Lucky Brandt wat jare gelede sy ma-hulle se huis aan die brand gesteek het van daai okkapyp-goeters rook nie?” vra sy verstom.

Mary knik weer. “Hy het eendag onverwags hier opgedaag en my reguit gesê hy weet ek is sy ma.

“Ek kon nie anders as om hom die waarheid te vertel nie.”

“Het jy hom ook van Die Binnekring vertel?” vra Samantha.

Mary skrik en kyk geskok na haar. “Ja … hoekom?”

“Want ek vermoed hy is die een wat na homself as die Laksman verwys en wat vir die moord op ’n politikus in die Kaap verantwoordelik is,” blaker Samantha haar vermoedens uit.

Mary skud verwoed haar kop. “Nie my Lucky nie. Hy is dan my lucky charm. Vandat hy weer in my lewe is …”

Sy talm ’n oomblik. “Kom ons sê maar net ek is deur ’n rowwe patch. Lucky het belowe dat hy dinge vir my gaan uitsort.”

“Klink na uitsort deur moord te pleeg, ja,” plak suster Klein stamps op.

“Vandag se kinders ken mos nie van dinge uitpraat nie. Nee, hulle kan skaars spel, maar moor wil hulle moor.”

Samantha kry half snaaks vir suster Klein, maar sy besluit om liewer nie op haar statement kommentaar te lewer nie.

Sy draai na haar ma. “Wanneer laas was Lucky in die Kaap?”

Mary frons. “Laas … laas week Vrydag, Saterdag, Sondag. Ek is nie seker nie.”

“Dieselfde tyd toe die politikus Justin Louw doodgeskiet is,” sê Samantha.

“Ek wil nie dinge vooruitloop nie, maar ek dink Lucky het die reg in eie hande geneem deur self die lede van Die Binnekring aan te vat.”

Mary hou haar gesig in haar hande vas. Haar tenger liggaam ruk, maar sy huil nie hardop nie.

“Dis nie nou die tyd vir huil nie, Mary,” sê suster Klein. “Onthou jy wat ek jou destyds gesê het toe jy swanger by my opgedaag het?”

Mary lig haar kop op. “Trane red nie ’n situasie nie. Ek onthou.”

Mary gryp haar boksie blou Rothmans en steek nóg ’n sigaret met bewende hande aan.

“Hier is ’n wendy agter my huis.

“Lucky bly daar. Ek dink hy slaap nog, want gisteraand laat het daar nog lig by hom gebrand.”

“Ek slaap g’n,” klink ’n stem op.

Die drie vroue wip van die skrik.

Samantha wonder benoud hoeveel van hul gesprek Lucky gehoor het. Sy staar na haar tweelingbroer, maar sien nie enige ooreenkomste in hom nie.

Lucky is maer, onnatuurlik maer. Sy oë sit diep en groot in sy kop.

Sy lippe is rou, soos iemand wat baie vaalwyn suip. Sy dun lippies beweer hy hou van nasty wees.

“So, ons ontmoet uiteindelik, my liewe sus,” sê Lucky in ’n heserige stem.

Die herkenning van die Laksman se stem laat ’n rilling langs Saman­tha se ruggraat afloop.

“Jy blyk after all ’n uitstekende ondersoekende joernalis te wees,” sê Lucky smalend. “Niemand kon my opspoor nie, maar jy kon ál die dots connect.”

Mary draai geskok na haar seun. “Lucky? Hoe praat jy dan nou?”

“Bly stil, jintoe,” spoeg Lucky die woorde uit. “Moenie nou vir jou kom staan en dom hou nie.

“Iemand moes jou hoereerdery regmaak.”

“Praat jy so met jou ma?” chime suster Klein in. “Jy moet darem so met mý-”

Binne die bestek van ’n paar treë is Lucky by haar, haak af en gee suster Klein ’n tamaai klap.

Dié staar hom net geskok aan en vryf in ongeloof aan haar wang.

“Is dit nodig om ou vroue so aan te rand?” vra Samantha in ’n skerp stem.

Lucky pluk ’n pistool uit. Daar is ’n wilder trek as op NatGeo WILD in sy oë. ’n Skuimstreep hang langs die een kant van sy mond.

“Dis jul lucky dag vandag. Vandag skiet ek julle almal sat.”

Samantha weet dat haar tweelingbroer elke liewe woord bedoel.

“Ek verdien ’n medalje dat ek daai gespuis van ’n Louw na k*k toe geskiet het,” sê Lucky.

“Maar pleks van dankbaar wees dat die wêreld nou ’n veiliger plek is, wil julle dinge vir my moeilik kom maak.”

Toe gebeur iets wat Samantha jare sal bybly. Mary storm op Lucky af en gryp hom vas.

“Ek het jou die lewe ingebring, Ék sal jou uit hierdie lewe vat.”

Die twee raak aan die stoei en toe knal ’n skoot.

Albei val op die grond. Die pistool val kletterend langs Lucky op die vloer.

Samantha storm vorentoe en skop die vuurwapen eenkant toe.

“Mary, Ma,” gil Samantha. “Is jy orrait?”

Mary maak kreungeluide en beur swaar orent. Samantha merk geskok die bloed op haar klere op, maar slaak ’n sug van verligting toe sy sien dat Lucky met die koeëlwond sit.

Lucky beur orent, maar suster Klein storm op hom af.

Sy slaan hom met een hou katswink met haar groot handsak.

“Dít sal jou leer om vroumense aan te rand,” sis sy.

Samantha bring haar foon te voorskyn en google ’n nommer van die plaaslike polisie. Dan skakel sy hulle en lig hulle oor die voorval in.

“Ek gaan vir ons suikerwater maak en nie worry van my eie suiker nie,” sê suster Klein.

Samantha lei haar ma na een van die banke en maak haar sit.

“Ek het nooit geweet ons ontmoeting sou so dramaties wees nie,” sê Mary.

Samantha gee ’n skewe laggie. “Ek ook nie,” sê sy.

“Maar ten minste weet ons nou dat daar nie meer moorde sal wees nie.

“Dié wat vir Ma se ordeal verantwoordelik was, moet deur die regte kanale vir hul dade boet.”

In die verte hoor Samantha die loeiende sirenes en sy kry skielik die gedagte dat nóg ’n scoop op haar wag ...

  • Slot

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters