3 maande gelede
Samantha gaan sommer dadelik suster Klein soek
 ~ 

HAAI Sonlanders! Shame, dié oom kan nie anders as om baie jammer vir Samantha te voel nie. Haar ouers bevestig aan haar wat die Laksman vroeër vir haar gesê het – dat sy aangeneem is. Samantha se ouers vertel vir haar dat sy op hul voorstoep gelos is. Dié nuus kom as ’n groot skok vir die jong joernalis. Maar dan vertel haar pa haar iets wat haar laat regop sit: die voormalige vroedvrou van hul dorp kan haar dalk nie net sê wie haar biologiese ma is nie, maar dalk ook lig werp op die identiteit van die Laksman. Geniet nou hoofstuk 7 van ELDRIDGE JASON­ se Die Laksman.

SAMANTHA se maag grom van die honger toe sy verby die vis-en-tjipswinkel in Barrystraat in Robertson ry.

Haar mind was so occupied deur baie dinge dat sy nie eens aan die eet gekom het nie.

Sy skud haar kop toe sy sien hoe besig die drankwinkel langs die viswinkel is.

’n Jong seun kom nonchalant met twee lang biere uitgeloop, so asof hy net gestuur was om visolie te kom koop.

In die aangrensende Van Reenenstraat word ’n ou in ’n rolstoel met ’n jong baba op sy skoot deur ’n jong seuntjie gestoot. ’n Seuntjie wat duidelik nog in die skool moes wees.

By die hardewarewinkel nie ver van die viswinkel af nie, sit en bak ’n stoffer-verkoper en ’n paar werksoekers in die son. Nie meer dieselfde Robertson waar sy grootgeword het nie, dink Samantha hartseer.

Sy parkeer by die verfplek langs die hardewarewinkel. Volgens haar ma werk die vroedvrou, suster Marsha Klein, drie dae van die week daar.

“Daai is nou ’n vrou wat nooit haar rus sal kry nie en sal seker tot in haar graf nog kyk waar sy haar gemeenskap kan dien.

“Ek kan net nie verstaan hoekom ons oor die jare nooit met haar gaan gesels het nie. Maar as ek mooi daaroor terugdink, wou ek nie hê dat ons jou verloor nie, poplap.

“Jy was ons geskenk en as ons jou ma sou opspoor, sou ons jou terug moes gee,” het oom Flip met blink oë verduidelik en toe weer iets gemompel oor verdomde uiwe wat nou nog sy oë laat brand.

Samantha skakel haar kar af en sug dan swaar. Sy weet nie hoe sy die storie met suster Klein gaan aanpak nie.

As kinders het hulle almal wye draai om suster Klein geloop. Nie net oor sy so streng was nie, maar jou sommer ’n raps gegee het as jy vergeet het om te groet.

Sy blaas haar asem hard uit, klim uit en sluit haar kar. Dan, voordat haar moed haar begeef, stap sy die winkel binne.

Dit neem Samantha nie lank om die pienk gedyede haredos op te merk nie. Sy stap tot by die toonbank, maar suster Klein kyk nie dadelik op nie en hou haar met skryfwerk besig.

Samantha maak liggies keel skoon. Toe dit geen uitwerking op suster Klein blyk te hê nie, kug sy harder.

Suster Klein hou haar dower as die regering wat nie na die pleidooie van die mense op die Kaapse Vlakte wil luister nie.

Uit moedeloosheid sê Samantha kliphard: “Customer service sal seker nooit hier wen nie.”

Suster Klein hou op skryf en lig haar kop stadig op.

“Maar goeie maniere sal altyd bobaas wees,” sê sy deur dun lippies. “Jou ouers jou nie geleer ’n mens groet eers nie?”

Samantha voel hoe sy rooi raak in haar gesig. Niemand kan suster Klein se comeback-kaarte beat nie, dink sy.

“Môre, suster Klein,” groet sy gedweë.

“So ja,” antwoord suster Klein baie ingenome met haarself. “Omdat ’n mens deesdae voorbladstories skryf en beter Engels as al Robertson se mense kan praat, beteken dit nie jy moet jou maniere agterlaat nie.”

Samantha gaap die oud-vroedvrou verbaas aan. “Onthou suster my dan nog?”

Suster Klein lyk diep verontwaardig. “Hoe sal ek dan jou en jou loop-neusie vergeet?” vra sy.

“En dan was jy mos ook altyd die een wat gedodge het as ’n mens jou winkel toe wou stuur. Altyd met jou neus in ’n boek. Byna nooit in die Sondagskool nie. Moet ek aangaan?”

Samantha trippel ongemaklik rond. “Dis seker nie nodig dat suster al ’n mens se files so moet uitbring nie,” sê sy verleë.

Suster Klein grinnik. “Ek warm nog op.

“You ain’t seen nothing­ yet.”

Samantha sien haar kans.

“En dis hoeka hoekom ek hier is, suster,” sê Samantha vinnig voordat suster Klein haar met haar jersey-brei Engels kan bombardeer.

“Ek wéét suster weet dat ek aangeneem is. Ek wil graag hê suster moet my sê wie my biologiese ma is.”

Suster Klein se oë vernou. “Hmmm, nes die voorbarige kind wat jy nog maar altyd was, sien ek dat jy steeds nie doekies omdraai nie. Maar wat laat jou dink dat ek weet wie jou ma is?”

“Want as daar enigiemand in Robertson is wat sal weet, sál dit suster wees.

“En soos wat ek dinge­ verstaan, was suster destyds al een wat bereid was om jong meisies wat swanger geraak het, te help.”

Suster Klein knik haar kop.

“Ek weet wie jou ma is, ja.

“Ek het haar gesê om dinge reg te maak met jou, en Flip en Sarah te gaan bedank vir die goeie werk wat hulle met jou oor die jare gedoen het.

“Maar ek ken my plek en dit was beslis nie my plek om dinge uit te blaker nie.

“Ek het jou ma gesê die sondes van die verlede het ’n manier om in die lig geopenbaar te word.”

“So my regte ma bly nog hier?” prewel-vra Samantha.

Suster Klein kyk haar stip in die oë. “Meisa, jy het nie net ’n ma nie, maar ’n tweelingbroer ook.”

Dit voel vir Samantha asof haar bene onder haar gaan ingee.

“Ek wil nie jou ma se storie sonder haar medewete vooruit vertel nie, maar jou ma is destyds ingetrek deur een of ander organisasie…

“Jinne, my kop is nie aldag so lekker nie. Die kringetjie of so ’n ding was die mense se company-naam glo.”

“Binnekring?” prewel Samantha.

“Ditsem!” sê suster Klein. “Dis die naam, ja.

“Jou ma was nie seker van wie sy swanger was nie. Daar was ’n gangster-gamôs, ’n oud-politikus wie se seun nourie dag doodgeskiet is en twee ander name wat ek nie nou kan onthou nie.

“Toe raak jou ma swanger met twins, maar sy sal die storie beter vir jou kan vertel, want…”

Samantha hoor ’n suisgeluid in haar kop. Sy sien suster Klein se lippe beweeg, maar sy kan nie ’n woord uitmaak nie, want haar mind werk oortyd. En sy besef sy weet wie die Laksman is!

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters