12 dae gelede
Rowan panic toe hy sien wie hom raakgery het
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Nemesis neem Rudy na ’n onbekende huis en ondervra hom behoorlik. Hierdie is nie ’n vakansie nie, besef ou Rudy onmiddellik. Daarvoor weet Nemesis net te veel van sy en Rowan se tronk-trippies. Nemesis laat dit ook val dat hy Rudy in die tronk gesien het. Maar hoe, as hy wat Rudy is dit dan nie kan onthou nie? Intussen sluip Rowan, die killer van Rudy se dogter, na sy antie se huis. Geniet nou hoofstuk 6 van “Nemesis” uit die pen van ELDRIDGE JASON.

DIT vat lank vir Rowan om te besef dat hy nou al ’n hele ruk na sy antie se huis staar.

Jô, die buttons speel weer vanaand heavy met sy mind. Maar dis ook nie net dit nie.

Verbeel hy hom, of issie Kleinvlei vannag stiller as ooit?

Daar is niemand in sig wat ’n pos vang nie.

Gewoonlik hang daar ’n paar ouens op die hoeke besig om tik te verkoop, maar daar is niks sien van hulle nie.

Dit kan nie die boere wees wat die ouens se business so dood maak nie. Nee wat, daarvoor is die gattas te veel aan die slaap.

Of deel van die game.

Is die mense dan bang vir corona?

So bang vir doodgaan, dat die kroeks dit ook nie eens buite wil waag nie?

Nou ja, dit werk in sy guns. Hoe minder mense op straat is, hoe minder kan hulle die boere bel en piemp dat hy by sy antie se huis wegkruip.

Hy trek sy jacket se zip op en drafstap oor die straat.

In die middel van die pad gaan hy verbaas stilstaan toe hy skreeuende bande hoor.

Dan gebeur dinge vinnig. Die eerste ding wat hy sien, is die ligte wat om die draai kom.

Hy hou sy hand voor sy oë toe die kar se brights hom verblind.

Dan besef hy die kar pyl teen ’n stink spoed reg op hom af – en die driver is nie van plan om te stop nie.

Paniek spoel oor hom. Hy probeer haastig oor die pad kom, maar besef hy gaan dit nie maak nie. Dan duik hy vir die sypaadjie.

’n Onbeskryflike pyn skiet deur sy lyf toe die kar sy bene tref.

Hy wil nog vloek, maar die pyn het sy lippe gezip …

RUDY staar na die bord wat Nemesis voor hom neergesmyt het.

Drie snytjies brood met peanut butter en jam. Net dit.

Hy loer agterdogtig na die brood. Hy kan sweer hy sien ’n paar mufkolle op die snytjies.

“Beggars can’t be choosers,” sê Nemesis en vat ’n groot hap van sy Nando’s.

“Clearly is ons nie dieselfde tipe beggar nie,” antwoord Rudy en stoot sy bord terug.

“A, ken jy nie van peanut butter en jam nie?” vra Nemesis sarkasties. “Wil jy vir my sê jy is van die uitsoekerige soort?”

Rudy skud sy kop. “Mens kan sien jy ken nie van gaste entertain nie.

“Ek wil nie meer hier wees nie.

“Ek wil gaan. Jy kan my nie teen my wil aanhou nie.”

“O, maar niemand hou jou hier hostage nie,” kap Nemesis terug.

“Daar is die deur, jy is vry om te loop. F*kk*f!

Rudy lig hom uit die stoel op. F*k hierdie psycho, dink hy kwaad. Hy gaan hom nie twee keer laat nooi nie.

“Onthou net, sodra jy hier uitstap, kry die polisie ’n phone call oor jou ware betrokkenheid by Kenzie se dood.

“Moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie.”

Rudy sak weer terug in sy stoel. Sy lip hang. Hy blaas sy asem hard uit. Hoe kan hy nie ’n hostage hier wees nie? Daar hang dan ’n swaard oor sy kop.

Hy draai vies na Nemesis. “Jy het earlier gesê jy was ook in die mang?

“Ek kan jou dan nie onthou nie.”

Nemesis se kake hou op beweeg. Hy gluur Rudy ’n oomblik aan en bars dan uit van die lag.

“Het ek so gesê? Nei, man, jy verbeel jou.”

Rudy skud heftig sy kop. “Ek is nie getik of gebutton nie. Ek weet wat ek gehoor het.

“Jy is ’n bandiet. Nes ek. Nes Rowan. Jy is nie beter as ons nie.”

Nemesis se gesig verkleur spierwit.

Hy smyt die stuk hoender in sy bord en begin met mening sy mond en hande met die servet af te vee.

“Moet my vir geen oomblik met gemorste soos julle compare nie,” sis hy.

“Jy ken nie my storie nie. Jy het nie in my skoene ge­stap nie. Jy weet nie van die pyn waardeur ek is nie.”

“Nou prove jy is beter as ek,” antwoord Rudy.

“Laat ek jou storie self hoor en dan determine of jy die engel van justice is wat jy so graag pretend om te wees.”

Nemesis slaan so hard met sy vuis op die tafel dat Rudy wip van die skrik.

“Nou goed, jou stuk vullis,” sê Nemesis deur saamgeperste lippe. “Luister en luister mooi, want ek gaan dit nie repeat nie ...”

ROWAN kreun van die pyn. Hy hoor kardeure oopgaan en dan weer toeklap.

Vinnige voetstappe kom in sy rigting gestap. Iemand ruk hom sonder seremonie op.

Hy kreun en los ’n harde wind toe pyn deur sy hele liggaam skiet.

“Nee, jirre,” sê ’n bekende stem. “ ’n Mens kan sien hoekom jy ’n kind kon vermoor het, want jy is ’n original vark.”

Dan slaan iemand hom ’n hou in die ribbes. Rowan snak na asem en val soos ’n sak aartappels op die grond.

Hy begin panic. David “Vetkop” Brown ... Hy sal daai stem enige plek herken.

Vetkop is die leader van die Terribles, ’n bende wat Kleinvlei met ’n ysterhand regeer.

Niemand sit ’n voet in Kleinvlei sonder dat Vetkop daarvan weet nie.

Selfs die gattas moet eers by sy huis omgaan om toestemming te vra om een van die bok-strate binne te kom.

’n Wrede man. Iemand wat sy ma se keel sal afsny as sy hom tikgeld sou skuld. Inwoners spot altyd dat selfs die duiwel bang is vir Vetkop.

“Wat soek jy hier?” sis Vetkop naby Rowan se oor. “Almal soek na jou.

“Wil jy my business hier bad luck kom maak?”

Een van Vetkop se manskappe skop Rowan in die sy. “Hond, djy moet antwoord gie assie boss praat.”

Rowan voel ’n straaltjie langs sy mond afloop. Bloed. Hier skop en trap die skollies hom vanaand dood, dink hy.

“Ek sal later jou antie kom kuier,” sê Vetkop. “But vir nou is daar maybe ’n deal wat ons kan strike.

“Jy weet dit nog nie, maar iemand is kliphard op soek na jou en luckily vir jou, is daai iemand ook ’n enemy van my.

“All will be forgiven as jy my kan help om hierdie Nemesis-etter te eliminate. Dis nie meer lank voordat hy jou hier gaan kom visit nie.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters