14 dae gelede
Rory se pa laat hom ’n moeilike situasie trotseer
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Arme Rory kom maar net nie met sy ma oor die weg nie. Dié is glad nie oortuig dat die tronklewe Rory verander het nie. Sy pa, oom Koos, is egter meer simpatiek en sê aan hom dat dinge net kan verander as hy homself kan ver­gewe. Maar Rory sukkel om vrede te maak met die feit dat hy sy broer, Barry, doodgelem het nadat hy hom en sy destydse meisie, Mary-Anne, in die bed betrap het. Geniet nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE­ JASON se vervolg­verhaal ’n Nuwe Begin...

RORY is die volgende oggend­ vroeg uit die vere.Ná gisteraand se gesprek met sy pa kon hy nie ’n oog toemaak nie.

Elke keer as hy gedink het die slaap begin hom jammer kry, het hy weer Barry se bebloede lyk voor hom gesien en Mary-Anne se gille gehoor.

Rory byt sy onderlip vas. Mary-Anne...

Hulle was sedert laerskool ’n couple.

Hy, die ou wat die atletiekbaan aan die brand gehardloop het, en Mary-Anne met die oulike dimples vir wie niemand nee kon sê nie.

Mary-Anne...

Hy was baie lief vir haar. Baie het gesê hulle twee is die perfekte couple.

Hulle was gelukkig. Of altans, hý het so geglo.

Tot die dag dat ... Rory gooi die duvet van hom af en staan met ’n groot sug op.

Dit baat nie sy gedagtes dwaal in die verlede rond nie. Niks kan dit wat gebeur het, ongedaan maak nie.

Daar is niks wat ’n mens aan die verlede kan doen nie. Dis die hede wat saak maak.

Hierdie is die woorde van sy social worker in die tronk wat hom probeer voorberei het vir die lewe buite die vier mure.

Maar eintlik kan niks jou voorberei op ander se onvermoë om te vergewe en te vergeet nie.

Rory stap die gang af na die badkamer waar hy sy gesig afspoel en dan sy tande borsel.

Hy stap agterna terug na sy slaapkamer waar hy ’n uitgebleikte T-shirt en kortbroekie aantrek.

In die kombuis gekom, ruik hy sy ma se ontbyt van spek en eiers.

Sy maag grom van die honger, maar hy is niks lus om aan tafel te sit waar sy ma hom weer met die een verwytende panga-kyk ná die ander aangluur nie.

Hy stap op die stoep uit waar sy pa besig is om sy pyp vol tabak te stop.

“Jaarie, rook Pa dan steeds?” vra Rory en skud sy kop.

Oom Koos trek sy skouers op. “Op my ouderdom is daar mos nie veel plesiertjies oor nie.

“En buitendien, ek is nie van plan om gesond dood te gaan nie.”

Rory lag. “Maar as Pa eendag hemel toe wil gaan...”

Oom Koos skud sy kop.

“Almal wil hemel toe gaan, maar niemand wil doodgaan nie.

“Dis maar een van die mysteries van die lewe waar nie een van ons hel toe wil gaan nie, maar ons worry nie as ons ander se lewe hel op aarde maak nie.”

Rory gaan sit langs sy pa.

In die verte hoor hy die gedruis van branders en die geskreeu van ’n paar meeue.

“Ek sien hier het nie veel verander nie, behalwe dat die mense steeds nie langs die strand bly nie.”

Oom Kroos grinnik.

“Jy weet mos ons wag nou nog op die watervlak om te styg soos wat die munisipaliteit aangevoer het toe hulle destyds die mense van die strand af laat trek het.

“Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Dinge is nie meer wat dit was nie.

“Hier vier dwelms en allerhande onheilighede deesdae hoogty.”

Rory draai verbaas na sy pa.

“Tik? Hier ook?”

Oom Koos steek sy pyp aan die brand.

Hy vat ’n diep trek en blaas die rook behaaglik die lug in.

“Daar is nie ’n plek op aarde waar die duiwel nie sy luck try nie, Rory.

“Ledigheid is die duiwel se beste kussing en ongelukkig is hier nie veel vir die jong mense om te doen nie.

“In ’n mate kan ek die jonges nie blameer nie. Wat is daar vir hulle?

“Watter geleenthede word vir hulle geskep? Hierdie nuwe generasie is verveeld, hulle benodig inspirasie.

“Maar daar is nie baie wat dit so sien nie. Gelukkig is jy nou hier en wie weet, dalk kan jy ’n plan maak?”

Weer draai Rory verbaas na sy pa.

“Ek? Wat kan ek maak?

“Ek is dan maar net ’n tronkvoël op wie die mense beslis gaan neerkyk.”

“Jy was in die put van die hel.

“Jy kan die jonges wysmaak waarheen hul lewe op pad is as hulle nie hul nonsense gaan staak nie,” sê oom Koos.

“Maar eers sal jy jou eie demone moet bind. Ek weet jy wil nie hieroor praat nie, maar Mary-Anne­ …”

Oom Koos bly ’n oomblik stil.

“Jy is my kind en ek sal jou nooit verstoot nie.

“Ek het Mary-Anne­ vanoggend gebel.

“Sy het eers teen die karre geskop, maar toe uiteindelik ingestem.”

“Ingestem tot wat?” vra Rory en voel hoe sy maag ’n draai gee.

“Wat het Pa gemaak?”

Oom Koos draai na Rory.

“Iemand moet iets doen. Ek weet jy sal verkies om dinge net so te los, maar dis nie hoe die lewe werk nie.

“Die lewe wil nie gelos wees nie, dit wil gevat wees.”

Rory vlieg orent.

“Dis nie Pa se besluit om te neem nie,” sê hy kwaad.

“Pa meng nou in waar –”

“Waar jy nie wil inmeng nie?” val oom Koos hom in die rede.

“Dis nou nie tyd vir kwaadrakens nie.”

Oom Koos kom met ’n kreun orent.

“Dis buitendien nou te laat, want kyk, daar kom Mary-Anne klaar aan.

“Ek gaan binne toe en probeer om daai kliphard gebrande bacon van jou ma af te wurg.

“Jou ma se kos laat my valstande verskriklik baie overtime werk.

“Wees ’n man en face Mary-Anne­.

“Wat het jy anyway om te verloor?”

Oom Koos stap die huis binne.

Rory voel hoe sy hart wild in sy borskas klop.

Sy maak die hekkie oop en kom stadig nader gestap.

Sy het nog steeds daai figure to die for, dink hy.

Veels te gou staan sy voor hom, en kyk skamerig op na hom.

“Hallo, Rory, gaan ons dan nie mekaar groet nie?”

En steeds die stem wat liefde met die atmosfeer kan maak, dink Rory.

Dieselfde nooi wat liefde met sy broer gemaak het.

’n Broer wie sy bloed nou aan sý hande is …

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters