2 maande gelede
Rory ontmoet Carter, sy seun, die eerste keer
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die gangster-dikding Terrible moet stert tussen die bene skoert nadat Rory hom behoorlik vasgevat het. Mary-Anne sê vir Rory sy is trots op hom oor hy hom nie tot geweld gewend het in sy konfrontasie met Terrible nie. Toe stel sy voor dat hy sy kind wat hy nog nooit gesien het nie, ontmoet. Geniet nou die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON se verhaal ’n Nuwe Begin.

RORY se bene voel soos jellie toe hy Mary-Anne-hulle se huis binnestap.

Sy nerves is gaar. Hy weet nie hoekom nie. Dis mos maar net sy kind wat hy gaan ontmoet.

’n Kind wat hy vir meer as 10 jaar nie gesien het nie ...

“Carter!” roep Mary-Anne die gang af. “Waar is jy? Hier is iemand wat ek wil hê jy moet ontmoet.”

“Ek kom, Mammie,” kom die stem van iewers binne-in die huis.

Rory lek oor sy kurkdroë lippe.

“Dis nie nodig om nervous te wees nie,” paai Mary-Anne.

“Ek is nie,” antwoord Rory in ’n kraakstem.

“Ek ken jou vetterig,” sê Mary-Anne laggend. “Jy kan niks vir my wegsteek nie. Kyk hoe bewe jou broek dan.”

Rory gee ’n verleë laggie. “Oukei, oukei, ek confess.

“Ek is skytbang. Wat as Carter nie van my hou nie?

“Wat daarvan as hy my blameer dat ek nooit daar was vir hom nie?

“Ek weet nie wat ek sal maak as my eie kind my reject nie.”

Mary-Anne sit haar hand op Rory se skouer.

“Kyk na my,” sê sy in ’n dringende stemtoon.

“Dit maak nie saak of jy in die verlede nie daar was nie. Hoe kon jy ook?

“Maar wat nóú tel, is dat jy hier is en dat jy van vandag af deel van sy lewe gaan wees.

“Bloed is dikker as water. Carter gaan jou nie verstoot nie.”

“Ma soek my?”

Mary-Anne en Rory swaai albei om.

Rory sien die lang seun met die sproete op sy neus en die deurmekaar hare.

“Carter, onthou jy ek het jou al gesê dat jy eendag jou pa sal ontmoet?”

Carter knik.

“Daardie eendag is vandag,” gaan Mary-Anne voort.

“Hierdie is jou pa. ‘Rory’ is sy naam en hy wil graag met jou gesels. Julle twee kan sommer net hier in die sitkamer sit. Ek gaan solank die wasgoed ophang.”

Rory voel ietwat paniekerig. Hy het nie verwag dat Mary-Anne hom en Carter alleen gaan los nie.

“Alles gaan fine wees,” sê Mary-Anne aan hom en knipoog.

Rory gaan sit op een van die rusbanke. Carter volg sy voorbeeld.

Daar heers ’n ongemaklike stilte tussen hulle.

“Sooo ... die skool het nou weer begin, nè?” probeer Rory ’n geselsie aanknoop.

Carter gaap hom net aan.

“Ek sê die skool het –”

“Ek het jou gehoor,” val Carter hom in die rede.

“Niemand wil so vroeg in die jaar van skool praat nie, ’m ... Uncle.

“Die vakansie was veels te kort.”

“Ek ... ek is jammer,” stamel Rory.

“Ek het maar net gedink –”

“So, Uncle is my pa?” val Carter hom weer in die rede.

“Is Uncle dan nie die een wat sy eie broer –”

“Dis ek, ja,” val Rory hom kortaf in die rede. “Maar ek wil nie daarvan praat nie. Die verlede moet begrawe word.”

“Soos ek maar net moet vergeet dat ek op dae soos Vadersdag alleen in die kerk moes staan terwyl my tjommies se daddies by hulle gestaan het?”

Rory skuif ongemaklik op die rusbank rond.

“Ek is jammer oor die groot onreg wat ek jou aangedoen het. Baie jammer.

“Ek wens ... Ek wens ek kon die tyd terugdraai na die dag toe alles verander het.

“As ek kon ... Dinge sou anders gewees het, Carter.

“Maar hier sit ons nou. Dis nog nie te laat nie.

“Ek wíl deel van jou lewe wees. Ek wil jou beter leer ken. Ek wil opmaak vir die jare wat ek nie daar was vir jou nie. Ek ...

“Ek weet nie wat om te sê nie. Ek weet nie hoe ek dinge gaan fix nie.”

“So, was Uncle ’n nommer in die tronk?” vra Carter. “Is dit soos in daai skollie movie?”

Rory grinnik. “Daar is niks fancy en glamorous omtrent dit tronk nie.

“Dis ’n plek vir die willie-hoories.

“Amper soos Liverpool.”

“Liverpool?” vra Carter nuuskierig. “Wat het Liverpool hiermee te doen?”

Rory lag. “Liverpool hou sy supporters in ’n tronk. Elke jaar is daar die promise dat daar dalk iets in die trofeekas gaan kom, maar dan val die wiele net weer af.”

Carter lag. “Ek kan nie dink hoekom mense hulle tyd met daai span kan waste nie.”

“So, jy hou van sokker?” vra Rory.

Carter knik. “Ma wil nie hê ek moet rugby speel nie, want sy sê haar hart wil elke keer gaan staan as sy langs die veld staan.

“Maar sokker is oukei. Ek speel in die midfield en geniet dit baie.”

“Dan sal ek ’n game van jou moet kom kyk,” sê Rory. “Natuurlik as dit orrait is met jou?”

“Dis cool ... ’m, Uncle. Kan ek maar nou gaan? Ek is besig om ’n game in my kamer te speel.”

Rory knik en Carter spring op en maak hom uit die voete.

Oomblikke later kom Mary-Anne die sitkamer binne.

“En as jy nou so alleen hier sit? Waar is Carter dan?”

Rory lag. “Hy was haastig om sy game te gaan speel, maar ek mind nie.

“Ek dink as ’n mens alles wat gebeur het in ag neem, het ons nogal ’n lekker gesprek gehad.”

“Alles gaan met tyd in plek val,” probeer Mary-Anne hom moed in praat. Rory trek haar nader.

“Ek weet, my liewe mens.

“Ek kan sommer sien jy het hom mooi grootgemaak. Ek weet ek gaan baie trots op Carter wees.

“Maar wanneer maak ek en jy dit official?”

“Official?” vra Mary-Anne oorbluf. “Waarvan praat jy?”

“Ag, net dat ek wil hê die hele Pato moet weet jy is my goose.

“Ek gaan vir my ’n werk soek – enige werk, maak nie saak nie.

“Dan wil ek ’n plekkie van my eie kry en wie weet ... Maybe kan jy en Carter dan by my kom bly?”

“Ek trek nêrens sonder ’n ring aan my vinger nie,” sê Mary-Anne laggend. “Vandag se mans kry voor ’n troue klaar alles wat op die menu is en is dan traag vir trou.”

“Wat het jy dan alles op die menu?” vra Rory. Daar is ’n ondeunde glans in sy oë.

“Vir my om te weet en vir jou om uit te vind,” sê Mary-Anne.

“Ek sien regtig uit na hierdie nuwe begin van my,” sê Rory.

Mary-Anne skud haar kop. “Dis ’n nuwe begin vir ons álmal.”

  • Die einde

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters