2 maande gelede
Rory kry kans om dinge uit te praat met Mary-Anne
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die verlede is iets wat arme Rory eenvoudig net nie kan uitlos nie. Rory was lank in die tronk nadat hy Barry, sy broer, doodgelem het. Dít het gebeur nadat hy Barry en die liefde van sy lewe, Mary-Anne, saam in die bed betrap het. Nie almal is hêppie om Rory aan die Weskus terug te hê nie, veral nie sy ma nie. En dinge raak meer compli­cated toe Rory se pa, oom Koos, Mary-Anne oornooi om dinge met sy seun te kom uitpraat. Lees nou hoofstuk 4 van ELDRIDGE JASON se verhaal 'n Nuwe Begin.

‘SO, GAAN jy die hele tyd net na my staar?

“Ná al die jare dat ons mekaar nie gesien het nie, gaan jy net hier staan met ’n mond vol tande?”

“Wat wil jy hê ek moet sê, Mary-Anne?

“Verwag jy van my om te maak asof dinge tussen ons nooit ooit skeefgeloop het nie?”

Mary-Anne skud haar kop. “Ek kan nie glo ek het toegelaat dat oom Koos my ompraat nie.

“Hy het gesê jy is finally reg om my te sien nadat jy nooit wou hê ek moes jou in die tronk besoek nie.

“Maar ná al die jare moet ek sien jy is nog dieselfde Rory wat net dinge sy way wil doen.”

Rory se oë vernou. “So, dit was my way wat gemaak het dat jy met Barry geslaap het?”

“Aaa, nou kom ons darem uiteindelik by die verwyt wat jy seker lankal in my gesig wou gegooi het.

“My Here, Rory, die hele Paternoster weet van die slegte dinge wat ek aangevang het.

“Ek het jou al sewe-duisend maal sewe-duisend keer om verskoning probeer vra, maar nee.

“Jy wil nie aanbeweeg nie. Jy is ’n gevangene van die verlede en jy is te blind om dit raak te sien.”

Rory gee ’n lelike laggie. “Ja, ek was ’n gevangene danksy die dinge wat jy aangevang het.”

“So, het ek die mes in jou hand gedruk?” kap Mary-Anne terug. “Het ek jou aangemoedig om jou broer vol gate te steek?”

“Hierdie conversation gaan ons niks in die sak bring nie,” sê Rory stram.

“Al wat ons duidelik vir mekaar te sê het, is verwyte.

“Dit lyk nie vir my of ons ooit ’n punt sal bereik waar ons van voor af kan begin nie.”

Mary-Anne kom die trappies opgeloop en gaan op die bank sit.

“Ek stem saam met jou, en dis eintlik sad, weet jy.

“Ons het iets wat ons bind, maar dan is daar ook iets wat ons van mekaar af weghou.”

“Wat bedoel jy met bind?” vra Rory. “Jy was destyds my meisie en is mos nie meer nie.”

Mary-Anne kyk Rory reguit in die oë.

“Ek het baie aande omgehuil oor my sondes en die Here gevra om my te vergewe.

“God is ’n God van tweede kanse, weet jy. As jy maar net –

“Maar anyhow, toe ek daai aand in dronkenskap met Barry geslaap het, was ek al swanger.

“Eintlik was ek op pad na jou toe om jou met die nuus te kom sur­prise.

“Jy was nie hier nie. Barry het ’n dop voor my neergesit en gesê dis festive.

“Ek het geweet in my pregnancy moes ek nie drink nie, maar ek dink toe mos ’n paar doppe sal nie ’n verskil maak nie.

“En toe Barry my soen –”

“Bly stil, ek wil dit nie hoor nie,” val Rory haar in die rede.

“Jare lank moes ek oor en oor daai prentjie van julle twee herleef.

“Saans in die mang kon ek nie slaap nie en selfs deur die TB-hoesies rondom my kon ek nie daai prentjie uit my kop kry nie.”

Daar is ’n sagte uitdrukking in Mary-Anne se oë.

“O, Rory, ek is verskriklik jammer oor die hel waardeur jy is oor my dinge. Ek het altyd vir die Here gevra om mooi na jou te kyk daar waar jy tussen al die wrede skepsels van die samelewing was.

“En ek bid nog dat jy jouself kan vergewe, dat jy nie jouself so met beelde van die verlede martel nie, dat jy regtig begin glo jy is geregtig op ’n nuwe begin.”

Rory bal sy vuiste so styf vas dat sy kneukels wit vertoon.

“Ek bid dat die Here die woede in jou kom stilmaak.

“Jy is immers vandag die pa van ’n kind wat jou van geen kant af ken nie.”

Dit voel vir Rory of iemand sy wind uitgeskop het.

Hy lek oor sy droë woorde en sluk aan die knop in sy keel. Maar die woorde wil net nie die tronk van sy lippe ontsnap nie.

“Sy naam is Carter. Onthou jy jy het altyd gesê as jy eendag ’n seun het, wil jy hom na daai All Black-losskakel noem?

“Ek het die naam van daai losskakel vergeet.”

“Carter,” prewel Rory verstom. “Daniel Carter. Die beste, beste losskakel ooit in die wêreld.”

“Dis hy daai, ja. Jy was al gevonnis toe Carter gebore is.

“Jy wou nie hê ek moes die hofsaak bywoon of jou in die tronk besoek nie.

“Jou pa mag op jou aandrang gedurende sy besoeke aan jou ook nie eens my naam genoem het nie.

“So, daar was nooit kans vir my om jou van Carter te vertel nie. Van hoe hy nes jy lyk, hoe sy oë ook nou trek wanneer hy lekker oor iets lag nie.

“Hoe hy nes jy van die All Blacks hou ...”

“En wie sê dis mý kind?” vra Rory. “Wie sê nie dis Barry –”

“Ag please, Rory,” sê Mary-Anne kwaad. “Moenie vir jou soos ander coloured jongens hou wat weet hulle het ’n girl alleen geseks, maar dan wil hulle die meisie afstry nie.

“Jy het my en Barry wel kaal in die bed gevang, maar ons het toe nog nie seks gehad nie.

“Tensy ek agterna natuurlik seks met jou dooie broer gehad het.”

“Moenie vir jou mal hou nie,” sis Rory.

“Jý is die een wat eerste vir jou staan en mal hou het,” kap Mary-Anne terug. “Maar ek sien nou jy is nes jou ma, want dié wil mos niks met Carter te doen hê nie. Dis net oom Koos wat –”

“Ek is niks soos my ma nie,” sê Rorry verbitterd. “Niks!”

“Oh well, you could have fooled me,” kap Mary-Anne terug.

“Weet jy hoe ek deur die jare aan Carter moes verduidelik dat hy wel ’n pa het wanneer die ander kinders op skool hom so gespot het?

“Weet jy, toe hy klein was, het hy met die foto van jou aan die slaap geraak?

“Hou op dink die wêreld gaan net oor jou en jou pyn.

“Jou pyn is niks in vergelyking met dié van ’n kind wat gehunker het na ’n pa wat nie eens geweet het hy bestaan nie.”

“So, wat verwag jy van my?” vra Rory. “Wat soek jy hier?”

“Ek wou met my eie oë kom sien of jy darem uit die tronk gekom het as ’n man wat werd is om Carter te ontmoet.

“Maar ek sien ek het my lelik laat gemaak.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters