5 maande gelede
Rory dink nie hy verdien eintlik ’n tweede kans nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Rory April steek op ’n dag onverwags in sy geboortedorp uit nadat hy lank agter tralies was. Nie almal is egter bly om hom te sien nie. Veral sy ma wys sommer dat hy nie welkom is nie. Maar wat het die arme Rory gesondig dat mense nie veel tyd vir hom het nie? Geniet nou hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se 'n Nuwe Begin...

DIE mood aan die eettafel is anderkant stram.

Antie Mary staar stip na die gebraaide aartappels in haar bord.

Haar man, oom Koos, try op sy beurt uitfigure of sy vrou mince-frikkadelle of een of ander pasta­lose gereg probeer maak het.

Rory loer om die beurt na die twee. Steeds dieselfde mense, dink hy.

Gryser, maar beslis nie wyser nie. Veral nie sy ma nie.

Rory stoot sy bord eenkant toe. “Baie dankie, Ma. Dit was lekker.”

Oom Koos gaap sy seun verbaas aan. “ ’n Mens kan sien hulle het jou goed leer lieg in die tronk,” sê die gryskopman.

“Ek weet. Jy weet jou ma kan nie kook nie, nie eens om haar lewe te red nie.

“As ek nie so lief was vir haar nie...”

Oom Koos bly betekenisvol stil en grinnik saggies.

“Ag, Koos, loop skyt,” sê antie Mary geïrriteerd.

“Dit is nou nie asof jy ooit spoiled for choices was nie. As ek nie kans gesien het vir jou nie, het jy seker nóú nog op die rak gesit.

“En, besides, jy het mos gesien hoe smul Rory aan my kos.

“ ’n Mens kan sommer sien hy het glad nie lekker in die tronk geëet nie.”

Sy draai na Rory. “Dit is mos so, nè?”

Rory knik. “Een vereiste vir tronkkos is dat dit geen, maar géén, liefde moet bevat nie.”

“Ja,” sê antie Mary. “En dit was mos veral liefde wat jou agter tralies laat beland het.”

“Mary!”

Oom Koos se oë blits kwaad. “Is dit nou nodig om ou koeie op te grawe?

“Jy ken ook net van dik hou, nè?

“ ’n Mens sou dink dat jy die energie wat jy op jou busy-borriegeid verspil, eerder sou inspan om beter te leer kook, maar nee, jy hou daarvan om alles te spoil.”

Antie Mary trek haar skouers op. “Ek steur my lankal nie meer aan wat jy te sê het nie, Koos.

“Jy en daai prostaat van jou is mos maar mostert ná die maal.”

Rory stoot sy stoel agteruit. “Ek gaan kamer toe,” sê hy bot.

“Sodra die waarheid begin seermaak, dan hardloop jy weg,” sê antie Mary vies.

“Jou hele lewe lank al hardloop jy weg.

“’n Mens sou dink dat die tronklewe jou bietjie tough sou maak, maar nee, jy is nét so sag soos jou pa.”

Rory gluur haar aan.

“Niemand kan só hard soos Ma wees nie,” sê hy kil.

“Jare lank was ek agter daai vier mure geforseer om te mingle met geharde misdadigers.

“Maar nie een van hulle was so hard soos Ma nie.

“Ma vat die koek, oor en oor.”

Rory staan op en stoot die stoel vinnig terug.

“Sodra ek op my voete kom, gaan ek uit Ma se hare wees. Ek kan sien Ma wil my nie hier hê nie.”

“Bly om te sien jy het nog ’n verstand,” kap antie Mary terug.

“Die tronk was veronderstel om jou ’n man te maak, maar die tronk is duidelik nie meer ’n plek waar ’n mens die harde lesse van die lewe leer nie.”

Rory stap sonder ’n woord by die eetvertrek uit en stap die gang af na sy kamer.

Daar gekom, val hy op sy bed neer en staar die donkerte in.

Hoe ouer sy ma raak, hoe ge­mener raak sy, dink hy.

Dis hoe hy haar sy hele lewe lank ken: Altyd gereed met een of ander afkrakende sêding. Nooit bereid om komplimente uit te dish nie.

Hy sug. Laat sy maar dink hy is die sagste mens wat daar is.

Die tronk verander ’n mens, of jy nou wil of nie.

Daar is nie ’n manier hoe jy vir jare in daai verdomde rot-paradys van ’n plek kan bly en dan as dieselfde mens uitkom nie.

Hy het goed daar gesien wat baie mense nagmerries sal gee.

Daar is ’n klop aan sy deur. Oom Koos stoot die deur oop en steek sy kop na binne.

“Jy orrait?” vra die ouman.

Rory knik, maar kry dan gedagte dat sy pa nie in die donker sal kan sien nie.

“Ek is fine, Pa. Teen hierdie tyd moet ’n mens mos maar weet Ma is so gemaak en so laat staan.

“Maar tog kry sy dit reg om elke keer die lewende ka-”

“Jou taal, asseblief,” vermaan sy pa hom.

“Ek weet jou ma laat ’n mens derduisende sondes per sekonde pleeg, maar jy weet mos dat daar nie in hierdie huis gevloek word nie.”

“Sorry, Pa,” maak Rory verskoning en sit regop op sy bed.

“Ek raak net verskriklik kwaad as mense aanhou in my verlede vaskyk en dit in my gesig teruggooi.

“I did my time. Ek het mos my straf uitgedien vir my dade. Verdien ek dan nie ’n tweede kans nie?”

Oom Koos kom na binne gewaggel en gaan sit by die bed se voetenent.

“Het jy Mary-Anne al gesien?” vra die oom.

“Hoekom sal ek nou daai wil doen?” vra Rory.

“Ek wil niks met daardie vroumens te doen hê nie.

“As dit nie vir haar was nie, dan was Barry nóú nog hier. As –”

“As is verbrande hout,” val oom Koos sy seun in die rede.

“En jy behoort te weet dat jy nooit vorentoe sal kan beweeg vir solank as wat hierdie haat in jou brand nie.

“Haat kan jou verswelg. Dit kan van jou ’n koue mens maak. Nes jou ma.”

“Ek is niks soos my ma nie,” sê Rory vies.

“Jou broer se dood... ek weet jy het nie bedoel om hom dood te steek nie, seun.

“Ek wil hê jy moet weet ek hou niks teen jou nie. Ek het jou lankal vergewe.”

Die trane rol oor Rory se wange. “Ai, moet Pa altyd so goed wees vir my?” sê hy gesmoord.

“Ek... ek moes van beter geweet het.

“Toe ek hulle... toe ek Barry en Mary-Anne saam in die bed betrap...

“Ek het net rooi gesien en toe storm ek op hulle af. Ek onthou nie veel nie.

“Net dat Mary-Anne se gillery my uit my trance laat wakker skrik het.

“En toe is daar oral bloed. Aan my hande, my klere...

“Toe sien ek Barry en die gate aan sy liggaam waaruit die bloed steeds gespuit het.

  • “Jirre, Pa. Ek het my eie broer vol gate gesteek. Ek is ’n killer wat nie second chances verdien nie.” Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters