5 maande gelede
Rory April hoor sommer vroeg al hy is nie welkom
 ~ 

HAAI Sonlanders! Ons begin vandag met ’n splinternuwe verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON. Hy noem dié verhaal 'n Nuwe Begin. Geniet die eerste hoofstuk!

DIE meisie agter die toonbank loer nuuskierig na hom terwyl sy sy goedjies oplui.

“Is Meneer nuut hier?” vra sy en bekyk hom op en af.

Rory trek sy skouers op.

“’n Mens kan seker maar so sê,” antwoord hy stug.

Die Vader weet, hy is nie in die mood vir gesels nie.

Om Paternoster toe te gehike het, was nie maklik nie.

Niemand gee mos deesdae lift nie.

Met al die crime wat mense paranoid gemaak het, is almal suinig met rylopers optel.

Sommige van hulle kyk jou in die gesig en ry verby.

Ander maak asof hulle jou nie sien nie deur kamma-likes iewers in die kar rond te vroetel.

“So, het Meneer familie hier? Meneer lyk bekend,” hou die meisie dik.

Rory vererg hom.

“Meisie, jou job is om customers te help en nie soos die FBI aan te gaan nie.

“Kan jy asseblief net jou job doen?”

Die meisie raak bloedrooi.

“Ek probeer maar net vriendelik wees,” gooi sy wal.

“Dit kos mos niks om vriendelik te wees nie.”

“Ja, maar dit kos my baie as jy my tyd mors,” kap Rory terug. “Gee my sommer sigarette ook.

“Jy maak my nou bitter baie lus vir rook.”

Die meisie help hom sonder ’n enige woord verder.

Toe Rory ’n minuut of wat later die winkel uitloop, hoor hy hoe sy “onbeskofte vark” prewel.

Hy verkies maar om hom nie verder aan die meisie te steur nie.

Sy is immers reg, maar hy gee nie ’n duit om nie.

Toe hy by die winkel uitstap, vries hy in sy spore toe hy die vrou herken wat op die winkelstoep sit.

“Melinda!”

Die woorde is uit voordat hy homself kan keer.

“Lewe jy dan nog?”

Melinda loer hom op en af.

Haar oë trek op skrefies.

Dan haal sy ’n slaptjippie uit die foam-bakkie op haar skoot en begin lustig kou.

Rory besluit om verby haar te loop, maar steek weer in sy spore vas toe Melinda begin praat.

“Dis die duiwel wat my goeters laat sien, want dit kan mos nie jy wees nie, Rory April.

“The devil is a liar, want laas wat ek gehoor het, was jy mos in die tronk vir die moord op jou –”

“Nog steeds so bis soos altyd,” kap Rory terug.

Hy probeer glimlag, maar sy oë lag nie saam nie.

“Het die mense jou dan uit die tronk laat kom vir Nuwejaar?” vra Melinda en kou weer lustig aan ’n slaptjip.

“Die tronk is glad nie meer wat dit was nie.

“Mens sien veels te gou mense wat jy nie weer wil sien nie.”

Rory kan nie anders as om te lag nie.

“Nog altyd so vol sêgoedjies, altyd ’n kaart behalwe ’n bankkaart.”

“Ten minste is ek nie ’n tronkvoël nie,” sê Melinda vies.

Sy beur swaer orent en stap mank weg.

’n Entjie verder draai sy om.

“Ek hoop nie jy is hier om te bly nie, Rory April.

“Paternoster het nie mense soos jy nodig nie.

“Hier is klaar meer as genoeg tikkoppe en dis nie nodig dat ’n tronkvoël soos jy hulle nuwe truuks kom leer nie.

“Ná alles wat jou ma-hulle opgeoffer het, kan ek nie glo jy het so uitgedraai nie.”

Sy stap weg in die rigting van ’n nuwe Hop-behuisingskema wat nie daar was toe Rory nog laas hier was nie.

Paternoster het nie mense soos jy nodig nie...

Melinda se woorde maal deur sy kop terwyl hy aanstap.

Hy het ook nie vir Paternoster nodig nie, maar waarheen anders kon hy gaan?

Die Kaap is een groot gemors. Mense groet jou nie, drive-by shootings­ waarin arme onskuldiges sterf, mense wat met jou smile net as hulle jou wil indoen …

Hy stap verby ’n paar jong gesiggies wat besig is om kreef te verkoop.

“Is daai dan nie die ou wat...”

Rory luister nie meer verder nie en rek sy treë.

Hoe gouer hy by die huis kom, hoe beter.

Elkeen gaan weer ’n skinderstorie hê om te vertel.

Hy loop verby die plaaslike hotel en ’n lodge wat nie vroeër daar was nie.

Genade, hoe lank was hy dan weg?

Hier is dan nou glad ATM’s en ’n drankwinkel wat nie vroeër hier was nie.

In Kompasstraat swaai hy op en ná sowat 300, 400 meter sien hy sy ouerhuis in die verte.

Die skarniere van die hekkie kraak toe hy dit oopmaak.

Op die stoep sit ’n ouerige man wat sy oë op skrefies trek.

“Nou, slaat my dood met een van Yzerfontein se pap snoeke,” sê die ou man.

“Die see moes my oë opgef*k het, want dit kan mos nie waar wees wat ek sien nie.”

“Koos, moet jy so vloek?” hoor hy ’n stem uit die huis na hom aangewaai kom.

“Genade, dis mos darem ’n nuwe jaar om steeds sulke lelike maniere te hê.”

“Mary, jy sal ook vloek as jy sien wie hier buite staan,” sê sy pa en bars dan met ’n hoesbui los.

An’ Mary kom uitgestorm terwyl sy haar hande aan haar uitgebleikte voorskoot afvee.

“Die bloed van Jesus,” sê sy toe sy haar seun herken. “Jesus, take the wheel.

“Dit kan mos nie wees nie. Ná al die jare?

“Rory? Is dit jy? Of spook jy?”

“Hoekom sal dit nou helder oordag­ spook?” vra oom Koos vererg.

“Ek sê mos jy is kêns, want jy kan nie eens meer onthou watter tyd van die maand dit Sassa is nie.”

“Ag suush jy, ou man,” sê antie Mary en kom nader gestap.

“Middag, Ma,” sê Rory.

“Gaan dit goed?”

“Wat maak jy hier?” vra antie Mary agterdogtig.

“Moenie vir my sê jy het uit die tronk ontsnap nie.

“Rory, Rory, ’n mens doen mos nie sulke dinge nie.”

“Hokaai Ma,” sê Rory vinnig. “Hoekom expect Ma altyd die ergste van my?”

Antie Mary trek haar skouers op.

“Dis nie asof jy my al ooit enige rede gegee het om altyd die slegste te verwag as dit by jou kom nie,” sê sy deur saamgeperste lippe.

Same old, same old, dink Rory vies.

Hy is nou skoon spyt hy het hierheen gekom …

  • Lees Donderdag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters