Verlede maand
Riempies wil nie vir altyd donker geheim alleen dra
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Spyt kom mos altyd te laat. Die storie dat Olivia Olivier se spook in Oosbank ronddwaal, bereik Riempies se ore. Hy voel sleg oor wat hy Olivia op die moordnag drie maande gelede aangedoen het. Hy was werkloos en desperaat vir geld, maar wou nie eintlik die vieslike dade aan Olivia doen wat Mr. T hom beveel het nie. Die dwelms wat Mr. T hom daai aand ingegee het, het hom confidence gegee. Riempies se gewete pla hom noudat Olivia in die dorp ronddwaal. Maar Mr. T jaag hom soos ’n hond weg toe hy hom oor die spook gaan vertel. Geniet die slot van Spookvrou, CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk.

RIEMPIES lê en luister na die reën op die dak. Dis al laat, maar hy is steeds wawyd wakker. Hy het al op sy maag, rug en albei sye gedraai. Die slaap bly hom ontwyk.

“F*kk*t,” vloek hy van skrik toe sy selfoon skielik lui. Hy steek sy hand uit en lig sy selfoon van die bedkassie af.

Hy herken nie die nommer op die skermpie nie. ’n Frons verskyn op sy voorkop.

Wie de duiwel is so mal om dié tyd van die nag te bel? Is dit ook iemand wat sukkel om te slaap?

“Hallo,” antwoord Riempies. Hy wag dat die persoon aan die ander kant iets sê. Geen reaksie nie.

“Hallo ... hallo, kan jy my hoor?” Steeds geen reaksie nie.

Riempies weet nie of hy hom verbeel nie, maar meteens klink dit asof iemand swaar asemhaal.

Hy hou die selfoon stywer teen sy oor om reg te hoor, maar die volgende oomblik word die verbinding verbreek.

Sy senuwees is aan flarde. Hy is seker dit was nie net sy verbeelding nie.

Iemand is besig om hom vir die gek te hou. Maar wie sal tog so kinderagtig wees?

Sowat vyf minute later lui sy selfoon weer. Dis dieselfde 082-nommer van vroeër. Steeds is daar geen antwoord nie, net ’n swaar asemhaling.

Riempies raak kriewelrig. Iets klink nie reg nie. Boonop vreet sy gewete aan hom.

Hy weet nie of hy dit ooit gaan regkry om homself te vergewe nie.

Al het hy ’n moord gepleeg, is hy nie ’n moordenaar nie. Dis ’n sameloop van omstandighede wat hom daartoe gedryf het.

Hy het altyd gewonder hoe die bendes op die Kaapse Vlakte daagliks moord pleeg en niks daarvan dink nie. As een moord hom so pla, wat van meer as een?

Miskien moet hy na vore kom en homself gaan oorgee. Dalk moet hy alles beken.

Dalk sal ’n bekentenis help om hierdie swaar las van sy skouers af te kry, al moet hy ook tronkstraf gaan uitdien. Dis sy verdiende loon.

Dan bedink hy hom weer. Hy kan nie alleen die blaam dra nie.

Mr. T is medepligtig. Hy is eintlik die meesterbrein agter alles.

Maar sodra hy vir Mr. T betrek, kan hy net so wel sy familie se doodsvonnis onderteken. Mr. T gaan hom nie laat double-cross nie.

Hy moenie oorhaastig besluit nie. Baie mense kan in die proses seerkry.

Maar hy kan ook nie vir altyd hierdie donker geheim met hom ronddra nie. Die een of ander tyd gaan hy knak.

’n Geluid by die venster laat hom soontoe kyk. Dit klink asof ’n klip of iets teen die ruit geval het.

Kan dit die wind wees? Hy weet nie wat om te dink nie.

Die twee oproepe sit sy gedagtes op loop. Wie is so moedswillig om te bel en niks te sê nie?

Riempies is dors. Hy gooi die komberse van hom af en staan op om water te gaan tap.

’n Beweging naby sy kamerdeur trek sy aandag. Sy mond hang oop van skok. Hy wil praat, maar geen klank kom oor sy lippe nie.

Sy oë bly vasgenael op die gedaante in wit wat stadig nader aan sy bed beweeg. Riempies se keel trek toe. Is hy besig om te yl?

Dit kan mos onmoontlik Olivia wees wat hier by hom in die kamer is. Sy is dood. Daarvan het hy seker gemaak voordat hy haar woning verlaat het.

Roerloos bly hy staan. ’n Warmte loop teen sy bene af.

Hy het geen beheer oor die nommer een en twee wat gelyk hulle weg grond toe vind nie. ’n Stank kruip in sy neus op.

Hy gee ’n tree vorentoe en verloor sy balans. Sy asemhaling is abnormaal. Met sy gesig na onder beland hy op die vloer.

Hy probeer regop beur, maar dis asof ’n onsigbare hand hom terughou. Binne sekondes versmoor Riempies in sy eie ontlasting ...

Riempies se ma kom die volgende oggend op sy lyk af.

Haar gille maak nie net almal in die huis nie, maar ook die hele buurt wakker.

Nie lank nie of Magrieta, Bettie, Anna en ál die ander is daar om te kyk wat aangaan.

Die stink reuk en die manier hoe Riempies lê, gee vir Magrieta Heynz hond se gedagtes.

“Ek dink hier het iets bonatuurliks gebeur,” sê sy vir sers. Tamatie, wat lank ná almal op die toneel kom.

“Iets soos wat?” vra Tamatie met kos in sy mond.

“Nee, jinne, Tamatie, jy is mos die speurder. Jy moet vir ons die antwoorde gee, nie ons vir jou nie.”

Toe Mr. T hoor wat met Riempies gebeur het, loop hy bekommerd in sy sitkamer rond.

Kort-kort neem hy ’n sluk Coke. Miskien was Riempies reg. Dalk steek daar tog waarheid in die ouvrou-stories. Dalk spook dit regtig hier in Oosbank.

Watter ander verduideliking is daar? Dis duidelik Riempies het baie groot geskrik voor sy dood.

Hier moet hy wegkom, terug na sy familie in Kimberley. Vanaand nog. Hy bly nie ’n dag langer in dieselfde dorp as ’n spook nie.

Laataand klim Mr. T in sy Toyota Fortuner. Dis mistig, maar hy moet net versigtig ry. Hy sal oor ’n paar dae iemand stuur om sy goed wat agterbly, te kom haal.

Hy het sy doel in hierdie plattelandse dorpie bereik. Die dwelms wat hy hier verkoop het, het hom ’n aardige bedraggie in die sak gebring. Hy weet nie waar sy kopers ’n nuwe verskaffer gaan kry nie, maar dis nie sy worries nie.

Dis nie net omdat Olivia lesbies was dat hy haar om die lewe laat bring het nie.

Sy het snuf in die neus gekry oor sy dwelm-bedrywighede en gedreig om hom te ontmasker. Hy moes haar dus uit die pad kry.

Mr. T het skaars die enjin aangeskakel of sy voertuig slaan onverklaarbaar aan die brand. Deur die vlamme sien hy ’n gedaante in wit onder ’n ligpaal staan.

Hy herken haar as Olivia Olivier. Haar gesig is die laaste wat hy sien voordat die vlamme hom verswelg.

Intussen keer die gedaante in wit terug na haar graf. ’n Ligte windjie waai deur die bome.

Iewers begin ’n hond opgewonde blaf.

Olivia Olivier is moeg daarvan om op die aarde te swerf. Uiteindelik kan haar siel in vrede rus.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters