4 maande gelede
Riempies wens nou spyt was betyds op nag van die moord
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die gru-moord op Olivia Olivier drie maande gelede is op almal in Oosbank se lippe. Dit het begin nadat Magrieta Heynz, Flip se vrou, een nag ’n besoeker gekry het. Sy glo dis Olivia se spook by die badkamervenster. Flip waarsku Magrieta om die nag se gebeure met niemand te deel nie, maar sy knak en vertel die juicy details aan haar bestie, Bettie. Daarvandaan versprei die storie soos ’n veldbrand deur die dorp en kom by die verkeerde ore uit. Riempies stres nou oor wat hy Olivia aangedoen het omdat haar siel geen rus het nie. Maar die baasbrein, Mr. T, wil niks hoor nie . Geniet hoofstuk 4 van Spookvrou CHRISTO MEYER se jongste storie.

RIEMPIES kry steeds nagmerries oor daardie verskriklike nag. Eintlik was dit al in die oggendure.

Die weer was stormagtig en niemand kon Olivia se hulpkrete hoor nie.

As hy die tyd kon terugdraai, sou hy dinge anders benader het.

Was dit werklik nodig dat hy ’n onskuldige lewe neem? Maar soos die spreekwoord lui: Gedane sake het geen keer nie.

Dit is iets waarmee hy die res van sy lewe moet saamleef en hy hoop die waarheid kom nooit op die lappe nie. As spyt net een maal betyds opgedaag het.

Hy kan homself skop. Hy weet nie hoekom hy hom ’n gat in die kop laat praat het nie. Geld is nie alles in die lewe nie.

Daar is ander maniere om geld te verdien as om mense seer te maak en uit te moor.

Vir ’n bruin koevert vol banknote het hy hom aan moord skuldig gemaak en die pragtige Olivia Olivier se lewe weggeneem.

Hy is nie ’n engeltjie nie en het al voorheen met die gereg gebots oor inbraak by huise.

Dan het hy weggekom met ’n ligte vonnis of soms is die sake uitgegooi weens te min bewyse. Nooit het hy gedink hy het dit in hom om iemand dood te maak nie.

Die dag toe Mr. T hom genader het, sal hy nooit vergeet nie.

Dit was ’n Donderdag. Hy het op ’n straathoek gesit en wag vir iemand om verby te kom sodat hy ’n rookding kon bedel.

Ewe skielik het ’n wit Toyota Fortuner langs hom stilgehou.

Die venster is afgerol. Daar was geen passasiers nie, net die persoon agter die stuurwiel.

“Kom, klim in, ek het ’n job vir jou,” het Mr. T droogweg gesê.

Riempies kon sy luck nie glo nie. Werk is skaars in hierdie geweste, veral as jy net gr. 7 en ’n misdaadrekord agter jou naam het. Jy kan nie uitsoek nie. Jy vat wat jy kry.

Hy is saam met Mr. T na sy huis in John Travoltastraat, maar hulle is by die agterdeur in.

Riempies was onder die indruk ’n tuin- of verfwerkie wag op hom.

Enige iets sou goed genoeg wees, solank hy ’n ietsie verdien.

Min het hy geweet wat dié “werk” sou behels.

Mr. T het seker kon sien hy het geld nodig en het die situasie uitgebuit.

“Hier is ’n teef in die dorp wat ek wil hê jy moet vir my uitsort. Ek sal jou goed betaal.”

“Uitsort?” het Riempies verbaas gevra. “Wat bedoel jy met uitsort?”

Mr. T het met sy wysvinger oor sy keel getrek. Tóé eers besef Riempies waarvoor hy hom ingelaat het: Hy moet iemand om die lewe bring.

“Ek sal mooi explain hoe ek wil hê jy dit moet doen,” het Mr. T voortgegaan asof hy oor die weer of sport gesels. “Jy sal goed beloon word vir jou moeite.”

Riempies het aandagtig geluister. Hy het hom nie veel aan die naar kol op sy maag gesteur nie, al het hy geweet dis ’n tipe waarskuwing. Daar was nie kans om nee te sê nie, want Mr. T het hom daar en dan ’n koevert vol geld in die hand gestop.

“Ek betaal upfront en ek sal vir jou ook ietsie gee vir woema as jy op die groot aand nie confident genoeg is nie.”

’n Dag voordat hy die daad by die woord moes voeg, wou Riempies kop uittrek. Maar Mr. T het hom duidelik laat verstaan daar is geen omdraaikans nie.

“Waag jy dit net om my te double-cross en jy sal sien wat met jou gebeur ...”

Hy het onmiddellik aan sy susters gedink, aan wat Mr. T aan hulle kon doen. As hulle iets oorkom, sou hy nooit met sy gewete kon saamleef nie. Mr. T lyk verniet op die oog af na ’n softy. Hy is wreed en sonder genade.

Dit moet die dwelms wees wat Mr. T aan hom voorsien het wat hom op die moordnag so kalm gemaak het.

Hy het Olivia in haar kamer oorval en as dit deel van die plan was, sou hy haar beslis verkrag het. Maar Mr. T het ander idees gehad.

“Gebruik eerder ’n bottel,” was die opdrag. “Dit sal baie meer pynlik wees. Ek wil hê daai teef moet suffer.

“Sy wou my mos nooit toelaat om fun met haar te hê nie. Ons dorp het genoeg probleme. Hier is nie nog plek vir lesbians nie.”

Die storie oor die spook pla hom. Hy dink hy sal sy broek vuilmaak as hy Olivia se gees skielik voor hom gewaar ...

’n Gedaante in wit maak haar verskyning in die nag. Die onplesierige wind hou meteens op waai.

Die maan besluit om agter ’n wolk in te kruip. Selfs die sterretjies verkies om hulle skaars te maak. Kort voor lank is dit spookagtig donker.

Die gedaante beweeg soos blits en gaan op ’n heuwel naby die begraafplaas staan. Vandaar het sy ’n duidelike uitsig oor die hele Oosbank.

Die dorpie lyk vreedsaam en stil, asof al die inwoners rustig slaap.

Haar wortels lê in Oosbank. Daar het sy haar eerste lewenslig aanskou. Haar ouers en grootouers is ook Oosbankers. By hulle het sy waardes geleer en wat dit is om ander te respekteer.

Olivia was nooit ’n wraaklustige of haatdraende mens nie.

Haar ouers het haar van kleins af geleer wat vergifnis is. Maar mense kan wreed wees.

Hulle oordeel jou op grond van velkleur, geloofsoortuiging, seksuele voorkeure ... Hoekom kan mense mekaar nie aanvaar soos hulle is sonder om op mekaar neer te sien nie?

Die gedaante gooi haar arms uitdagend in die lug. Sy is veronderstel om in vrede te rus, maar hoe kan sy as al die los drade nog nie vasgemaak is nie?

Haar moordenaar loop vry buite rond. So ook die monster wat toegekyk het terwyl hy haar leed aandoen. Albei het hulle verlekker in haar magteloosheid.

Sy het om hulp gesmeek, maar hulle het haar uitgelag terwyl sy naak op die vloer gelê het.

Hoe kon hulle haar so verneder? Wat het sy aan hulle gedoen?

Haar siel sal aanhou dwaal totdat geregtigheid geskied. Eers dán sal die storm tot bedaring kom.

Sy het lank genoeg gewag. Lank genoeg die saak in die polisie se hande gelos. Lank genoeg uitgestel.

Dis tyd dat sy die skuldiges die skrik op die lyf gaan jaag.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters