Verlede maand
Ricky loer vol lust na Yolandi en hy’s ’n vroueslaner ook
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Yolandi se probleme met creepy mans hou net nie op nie. Haar ma se nuwe boyfriend­ steek nie weg hoe lus hy vir Yolandi is nie. Yolandi van Kanarievlei is CHRISTO MEYER se jongste pennevrug. Geniet die derde hoofstuk!

DRIE dae ná Adam Witbooi se verdwyning kom daar ’n deurbraak.
’n Verdwaalde boemelaar kom vroegoggend uitasem by die polisiestasie aan.

Sy oë is so groot soos iemand wat pas ’n one on one met ’n tokkelos gehad het.

Die reuk van goedkoop drank kleef soos ’n siekte aan hom.

Hy bewe so erg dat dit lyk asof hy die ritteltit kry.

Toe hy uiteindelik kalmeer, vertel­ hy van sy noue ontkoming.

“Ek het my amper bek*k,” erken hy sonder skaamte.

“As die natuur roep, moet ’n man luister, maar toe ek so opkyk, sien ek ’n paar bene aan ’n tak hang.

“Ek dog eers dis die drank wat my gesigte laat sien, maar toe ek my oë knip en die persoon hang steeds daar, het ek besef nee, dié is nie my verbeelding nie.

“Dis toe wat ek opvlieg en sonder omkyk tot hier gehol het.

“Ek is nie vandag se kind nie, maar ek sê jou ek het nog nooit as te nimmer so groot geskrik nie.”

Die oorledene word as Adam Witbooi geïdentifiseer.

Hy het homself met ’n tou om die lewe gebring.

Die klomp vrae word beantwoord toe sy ma kort ná die begrafnis op ’n inskrywing in sy dagboek afkom: “Ek is moeg daarvoor om ’n leuen te lewe. Moeg daarvoor om voor te gee.

“Ek gaan ’n einde aan alles maak. Niemand weet ek is gay nie en ek het nie die moed om uit die kas te klim nie.

“Ek sien nie meer kans om so te lewe nie Daarom gaan ek ’n einde aan alles maak.”

In die weke daarna kom Ricky gereeld kuier.

Hy daag elke keer op wanneer Yolandi dit die minste verwag.

Die manier waarop hy haar aangluur­, laat haar ongemaklik voel.

Dit is asof hy haar klere met sy oë probeer uittrek.

Sy tree so normaal as moontlik op, maar in haar binneste wens sy hy wil hom soos ’n volwasse man gedra.

Wat wil hy van haar hê? Sy is ’n onskuldige matriekmeisie wat onlangs eers 18 geword het.

Is dit ’n ou gewoonte van Ricky om met die dogter te flirt terwyl hy en die ma iets aanhet?

Dit wil so voorkom, want hy gee nie eens om dat haar ma ook in dieselfde vertrek is nie.

Wat gaan als deur sy gedagtes as hy so wellustig na haar staar?

Sy vertrou hom nie. Dis moeilik om te sê waartoe hy in staat is.

Sy weet dit gaan nie help om met haar ma hieroor te praat nie. Haar ma is te verlief om sy foute raak te sien.

Haar ma sal sê sy sien spoke wat glad nie bestaan nie en dat alle mans nie soos Armand van Jaarsveldt is nie.

Kon hy nie vir hom ’n girlfriend op ’n ander plek gaan soek het nie? Waarom juis hier op Kanarievlei en hoekom juis haar ma?

Een aand, op pad om iets in haar ma se kamer te gaan haal, steek Yolandi vas.

Sy hou haar oor teen die deur. Dit klink asof haar ma en haar nuwe boyfriend­ stry.

“Lena, djy lieg vir my, nè?”

“Issie, Ricky. Hoekom sal ek lieg?”

“Nou vir wat is djy dan vanaand soe laat?”

“Ek sê dan vir jou ons het overtime gewerk.”

“K*k, man. Van wanne af werk julle op ’n Maandag overtime?

“Djy kom van ’n ander bleddie man af.”

“Issie waar nie. Baie customers kom koop vis en chips op ’n Maandag omdat hulle nie lus is vir kos maak nie. Hoekom glo jy my nie?”

Dan hoor Yolandi hoe daar klappe uitgedeel word. Dis die een klap ná die ander.

Verskrik hardloop sy terug na haar kamer.

Sy kruip onder die komberse en trek haar kop toe. Haar lyf gaan aan die bewe.

Sy het nie geweet Ricky is ’n vroueslaner nie.

Hy het dan van die begin af so nice voorgekom. Hy het haar ma weer laat lag.

Sy kan nie onthou wanneer laas sy haar ma so gelukkig gesien het nie.

Vanaand het sy ’n kant van Ricky gesien waarvan sy nie hou nie.

Sy het op die punt gestaan om uit te roep: “Hou op, jy maak my ma seer,” maar iewers in haar verhemelte het die woorde vasgehaak.

“Laat ek liewer f*kk*f­ voordat ek jou vrekmaak,” hoor sy Ricky sê. Sy hoor die voordeur oopgaan.

Sy sluit haar oë en bid dat Ricky nooit weer terugkom nie. Hy is net ’n moeilikheidmaker. Wanneer gaan haar ma dit besef?

Sy hoor hoe ’n voertuig se deure toeklap en met skreeuende bande wegtrek.

Iewers in die nag skrik Yolandi wakker.

Sy vryf die slaap uit haar oë en kyk onseker rond.

Sy steek haar hand uit om die lampie voor die bed aan te skakel, maar dan is daar skielik ’n harde geluid. Of het sy haar verbeel?

Sy draai op haar rug om beter te kan hoor.

Met ingehoue asem bly sy in die donker lê. Aandagtig luister sy.

Mens sal ’n speld kan hoor val, so stil is dit. Van vroegaand se stormwind is daar nou geen teken nie.

Miskien jaag sy onnodig spoke op. Spikkels sou lankal te kere gegaan het.

Geen vreemde besoekers kom by sy hok verby nie.

Waar het die geluid vandaan gekom?

Was dit buite? Of dalk...

Dit tref haar soos ’n vuishou op die krop van haar maag. Haar ma.

Sy moet opstaan en gaan kyk of haar ma oukei is.

Dalk het Ricky teruggekeer.

Sy het so vas geslaap. Wie weet waartoe hy als in staat is?

As hy sy hande vir ’n vrou kan lig ...

Yolandi verstyf. Is dit stemme wat sy hoor?

Haar hart sit in haar keel. Sowaar, daar hoor sy dit weer.

Hoeveel van hulle is daar?

’n Rilling kruip stadig teen haar ruggraat op.

Sy hoor voetstappe. Wie kan dit wees?

Van wanneer af is hier inbrekers in hulle rustige dorp?

’n Gevroetel by die venster laat haar hare orent staan. Haar asem jaag wild. Terwyl sy lê en tob oor haar ongenooide gaste, hoor Yolandi hoe iemand aan haar deurknop draai.

Nee! Moenie sê sy het vergeet om die deur te sluit nie.

Haar kamerdeur swaai oop. ’n Lang, donker figuur pyl reguit op haar af.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters