2 maande gelede
Prof. Von Brauwn en sy gekloonde leërmag ruk op
 ~ 

HALLO daar, Sonlanders! Bonga die Tokko-Man: Die Staatsgreep is die opvolg van SALMON SMITH se verhaal Interdimensionele Oorlog. Lees vandag hoofstuk 3!

PROFESSOR Tony von Brauwn vryf sy hande ingenome teen mekaar en kyk met ’n moerse gryns­lag op sy bakkies na die 500 akkedisagtige Ozarki’s wat hier voor hom in die massiewe vliegtuigskuur op hulle enorme renosteragtige rydiere sit.

Dit is net ná twee in die oggend en die volmaan verlig die area rondom hulle.

Agter die professor staan ’n hele kompanie met 200 soldate van sy privaat army. Almal staar in verwondering na die Ozarki’s – die handewerk van prof. Von Brauwn.

Tydens die Interdimensionele Oorlog so twee jaar gelede het Von Brauwn besef sy dae is getel.

Dit sou net ’n kwessie van tyd wees voordat die Valke op hom en sy span toeslaan omdat hulle Projek Open Door tot groot verwoesting en lewensverlies gelei het.

Hy het toe stilletjies DNS van die dooie Ozarki’s en hulle dooie diere versamel.

Toe hy en sy span wetenskaplikes kort daarna uit hulle laboratorium daar by die Wingfield-basis moes vlug, het hy dit in ’n yspak uitgesmokkel.

Hulle het toe hier in die ou basis en laboratorium van die destydse apartheidsweermag kom skuil en die Ozarki’s en hulle diere uit die DNS gekloon.

Hy het hulle DNS ’n bietjie aangepas sodat hulle in die aarde se atmosfeer kan oorleef.

Hy het ook met hulle persoonlikheid gepeuter en die instink by hulle ingeplant om hom as hulle meester te dien.

Nóú, twee jaar later, is hy en sy army – wat hy ook intussen op die been gebring het uit oud-weermaglede en sy wetenskaplikes – gereed om Kaap toe te vertrek om daar ’n staatsgreep op pres. Mandla Hadebe en sy kabinet te gaan uitvoer.

Sy plan is mooi uitgewerk ...

Die gekloonde Ozarki’s is daar om verwoesting te saai en die aandag van hom en sy army af te trek terwyl hulle hulle weg na die parlementsgeboue baan.

Hulle gaan die parlement en Tuynhuys beset en dan die president dwing om afstand te doen van sy amp.

Hy wat Von Brauwn is, gaan self daardie amp as president oorvat en dan sy eie kabinet aanstel.

Von Brauwn inspekteer vir oulaas die Ozarki’s, wat mooi in gelid voor hom staan.

Toe kom sy privaat army aan die beurt. Die soldate en 40 weermagvoertuie wat hy by verskillende weermagbasisse gebuit het, staan mooi in ’n konvooi, gereed om Kaap toe te vertrek.

Von Brauwn klim op die voorste Buffel, ’n infanterievoertuig, en kyk in die rigting waar die Kaap lê.

“Vir ’n beter toekoms vir ons almal! Voorwaarts mars!” gee hy die bevel.

Die konvooi kom in beweging. Die Ozarki’s op hulle massiewe rydiere val agter die res in.

Hulle trek deur die droë Karooveld dat die stof so staan. Ná ’n halfuur bereik hulle die N1 sowat 5 km suid van Touwsrivier.

’n Groot petroltenkwa kom vanuit Touwsrivier se rigting aangebrul.

Von Brauwn hou sy hand in die lug en gee sy manskappe die bevel om te halt.

Sy oë is yskoud toe hy hulle op die aankomende vragmotor rig.

“Versper die pad!” gil hy op die voorste voertuie in sy konvooi.

Gou word drie Buffels dwars in die pad getrek.

Die bestuurder van die petrol-lorrie verminder spoed toe hy die snaakse gedoente daar voor in die lorrie se helder ligte sien.

’n Frons verskyn op sy voorkop toe hy nader kom en die groot getal weermagvoertuie sien.

Maar toe hy die snaakse akkedis- en renostergedrogte daarnaas in die veld sien, gee hy ’n lang uitgerekte gil.

Hy stop met skreeuende bande, spring uit en hardloop terug in Touwsrivier se rigting.

“Vuur!” gil Von Brauwn die bevel uit.

Die arme bestuurder word sommer so in die hardloop platgeskiet.

Terwyl die man al roggelend die tydige met die ewige verwissel, beveel Von Brauwn sy manne om die tenkwa dwars in die pad te draai en aan die brand te steek.

“Dit sal die N1 afsny vir verkeer vanaf Johannesburg,” verduidelik hy sy besluit. “Enige verkeer op ons pad vanuit die Kaap bestorm ons uit die pad!

“Voorwaarts mars! Kaap toe!” gee hy weer ’n bevel.

Met Von Brauwn aan die spits vertrek die konvooi met die Ozarki-gedrogte agteraan op die 150 km lange roete Kaapstad toe.

® ® ®

IEWERS aan die bokant van die Hexrivierpas, net buite De Doorns, staan ’n donker figuur – die Tokko-Man – en gluur die aankomende konvooi met yskoue oë aan.

In sy hand het hy sy kragtige sweep, die Akrili, wat weerligstrale uitspoeg met elke klap daarvan.

Hy het vroeër vanaand ná sy twee jaar lange soektog die wegkruipplek van prof. Von Brauwn opgespoor. Hy het toe alles gehoor wat Von Brauwn beplan.

Nou wag hy hulle by die poort tussen die Boland en die Karoo in.

Daar was nie tyd om pres. Hadebe in te lig nie.

Hy wat die Tokko-Man is, gaan die konvooi net hier probeer stop.

Hy is bewus van hulle pad van verwoesting so ver as wat hulle vanaf Touwsrivier beweeg het.

Toe die konvooi naby hom is, swaai hy sy sweep. ’n Weerligstraal tref die grond voor Von Brauwn se voertuig.

Die straal blaas ’n groot gat uit die middel van die pad en dit bring die konvooi tot stilstand.

Almal se koppe ruk op na waar die donker figuur op ’n rots bokant hulle koppe staan.

Von Brauwn herken sommer onmiddellik die Tokko-Man.

“Tony von Brauwn, jou pad loop net hier dood!” weergalm die Tokko-Man se stem deur die vallei. “Jou bose planne gaan nie slaag nie!”

Op daai oomblik kom ’n lorrie met ’n vrag sout van De Doorns se kant af. Bonga besef hy moet die drywer waarsku teen die gevaar.

Hy spring van die rots af en gaan staan met sy hand in die lug voor die vragmotor. Die bestuurder sien die snaakse gedaante hier voor hom en van skrik pluk hy woes aan die stuur.

Die lorrie kantel om en strooi die pakke sout op die N1 uit.

Dis eers toe Bonga die inhoud van die vrag sien wat hier rondom hom lê, dat hy na sy asem snak.

Hy besef dit is skielik ’n saak van lewe en dood, want tokkelos-sout is dodelik vir hom. Hierdie is net gewone tafelsout, maar steeds voel hy sy kragte kwyn.

Hy sak hulpeloos op sy knieë. In sy verswakte toestand sien hy hoe Von Brauwn van sy voertuig afspring en met ’n lang dolk op hom afstorm ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters