Verlede maand
Pieter en sy gesin is onbewus van die dreigende gevaar
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Jeppo die Laksman is terug in ’n splinternuwe, aksiebelaaide verhaal. Die immergewilde SALMON SMITH noem sy jongste verhaal Die Galgtoutjie. In hoofstuk 1 het Gerrit Lukas geboet omdat hy die bendebaas se eise geïgnoreer het. Geniet nou hoofstuk 2.

DIT is ’n yskoue, donker, maanlose nag.

Net ná elf die aand sluip drie donker skaduwees op die huis van Pieter Maritz af.

Dit is drie jong seuns wat die groot gang boss Don Festus gestuur het om met Pieter te kom afreken.

Dít oor sy los bek nou die aand in die gemeenskapsvergadering.

Die oudste laitie is skaars 16 en die jongste is maar net 12 jaar oud. Elkeen is gewapen met ’n gelaaide pistool.

Festus reken die howe pamperlang die jong seuns. Dís hoekom hy hulle inspan om sy vuilwerk vir hom te doen.

Die drie skollietjies hop vinnig oor die lae muurtjie voor die Maritz-huis.

In die groot televisiekamer sit Pieter, sy vrou, Irma, en hulle tienjarige seun, Diego, lekker knus by ’n brandende kaggel en kyk ’n movie.

Hulle is salig onbewus van die dreigende gevaar daar buite.

“Diego, gaan haal gou vir ons nog hot chocolate in die kombuis, asseblief, man,” beveel Pieter sy seun.

Met ’n “Oukei, Daddy” hop Diego van die rusbank af en huppel in die lang gang af kombuis toe.

Toe hy in die kombuis inloop, rek sy oë pieringgroot toe hy ’n vreemde, lang man daar sien staan.

Die man beduie vir hom met die vinger op die lip om stil te bly.

Maar in plaas van stilbly, hardloop Diego al gillend in die gang af.

“Daddy, hie’s ’n man in ôs huis!” skreeu hy.

Die vreemde man sit die krag blitsvinnig by die switchboard af en laat die huis in stikdonkerte.

Pieter hop van die rusbank af op en pluk sy pistool uit die holster aan sy broek.

“Bly julle net hier!” fluister hy dringend aan sy vrou en laitie. Hy sluip vinnig in die donkerte kombuis toe.

Sy vuurwapen hou hy doelgerig voor hom uitgesteek.

Maar voor hy die kombuis bereik, word hy in ’n stewige greep van agter vasgegryp.

Die vuurwapen word toe uit sy greep gewring.

Vinnig sluit ’n gehandskoende hand om Pieter se mond.

“Sjuut! Moenie ’n geluid maak nie!” fluister die stem van Jeppo die Laksman dringend hier digby sy oor.

“Jou familie se lewe is in gevaar en ek is hier om julle te help! Vertrou my asseblief!” verklaar Jeppo.

“Daar buite is drie van Don Festus se laities en hulle is hier vir ’n hit op jou en jou gesin! Verstaan jy dit?”

Pieter bevestig met ’n vinnige knik.

“Oukei, gaan terug na jou gesin daar in die televisiekamer en moenie ’n spier verroer totdat alles oor is nie.”

Toe Jeppo sy greep om hom los, skarrel Pieter vinnig in die gang terug om by sy vrou en kind uit te kom.

Op daardie oomblik breek die niksvermoedende skollietjies met ’n helse geraas by die groot glasdeur by die kombuis in.

Dis net glasstukke wat spat toe hulle heel lomp in die huis te lande kom.

“Hei! Hoeko is dit dan soe donker hier binne? Hier was dan nou net lig gewies!” roep een van die skollietjies.

“Djy, minute! Wil djy hê die huismense moet ôs hoor!” fluister sy makker dringend.

“Ôs moet hulle dead spot betrap en vrekskiet, soos Mister Festus gesê het.”

Jeppo staan daar iewers in ’n donker hoekie en weet nie of hy moet lag vir die snotgatte se lomp onnoselheid nie.

Hulle breek met ’n groot lawaai by die huis in en dan verwag hulle die huismense moet hulle nie hoor nie.

Jeppo sien hoe die drie stuks voel-voel deur die donker huis onwetend reg op hom afgeloop kom.

Toe hulle naby is, tree hy vinnig op. Hy kap die twee grotes se koppe teen mekaar en gee hulle elkeen ’n snotklap.

Hulle skuur oor die gladde teëlvloer en hulle vuurwapens spat eenkant toe.

Hulle skrik so groot vir die aanval dat hulle vinnig opvlieg en na buite mol.

Hulle verdwyn met hulle seer wange en seer koppe die donkerte in.

Die skok is te groot vir die jongste skollietjie.

Hy staan roerloos en beskyt sy broek vol.

Jeppo gryp die gun uit sy handjie en gooi dit eenkant toe.

Toe gryp Jeppo hom aan sy kraag en trek hom nader.

“Jy is nog ’n bogkind, dan hou jy jou met sulke dinge besig!” spoeg hy.

“Jy hoort op die skoolbanke! Wil jy ook dieselfde pad loop as die meeste jong gangsters?! En dis die pad van die dood!”

“A-asseblief, o-oom! Ekke gattie weerie! Moenie my doodmaakie!” soebat die snotgat vreesbevange.

“Nee, ek gaan jou niks aandoen nie,” verseker Jeppo hom.

“Maar ek het wel ’n takie vir jou!”

Jeppo haal ’n klein galgtoutjie uit sy sak en hou dit na die knapie uit.

“Dè! Gaan gee dit vir Don Festus en sê dit kom van Jeppo die Laksman. En gee ook vir hom die boodskap dat sy dae getel is!”

Die snotgat gryp vinnig die toutjie en maak hom met groot spoed uit die voete.

Jeppo verlaat ook blitsvinnig die huis, die donkerte in.FESTUS is woedend toe twee van sy jong hit men hom uitasem meedeel ’n man het hulle gekeer om die Maritz-gesin af te haal.

“Watter man?! Djulle was dan drie en het ammal guns gehad!

“By the way, waar is Boytjie?!” tier hy.

“Daar kom hy oor die vlakkie aan, Mister Festus!” gil een van Festus se bodyguards skielik en wys by die venster uit.

Almal se koppe swaai in daardie rigting en hulle sien hoe Boytjie ooplê oor die vlak.

Hy bars uitasem by die huis in.

“Djy bieter vir my goeie nuus gee, dié dat djy sommerso by my huis inbars!” ontplof Festus teen Boytjie.

Boytjie staan grootoog daar en sluk swaar na asem.

“M-Mister F-Festus … hie’s iets vir Mister Festus!” hyg hy.

Hy krap in sy sakke en haal die galgtoutjie uit.

Toe Festus die galgtoutjie sien, rek sy oë pieringgroot.

Daar is net een mens wat sulke aandenkings aan sy vyande stuur. En dis Jeppo die Laksman!

Skielik begin groot sweetkorrels van sy voorkop afrol en hy begin na sy asem hyg!

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters